Kharja
In Arabies hierdie lament
oor wanhoop, verlange, onrus:
soeweniers opgeteken
in notaboeke en bundels:
vele sekwensies, soms
‘n rym intransica wat oor-
beweeg van paradys tot
daardie hel van stiltes, geen
antwoord van jou, helaas.
Net ‘n selfoon met bood-
skappe leeg, ‘n e-pos wag-
tend op ‘n wederwoord:
duologue so bedoel, ja
nes janter en lanterfanter.
Al-Andalusies, ‘n muwaššaḥ
refreinloos hier soos ‘n huis
iewers in die Hejaz waar ek
indertyd vertoef het: een-tonig.
© Joan Hambidge, 2026
