Elke keer
Elke keer as ek van Europa
af terugkom,
sien ek die groot huise
met hoë mure,
geëlektrifiseerde heinings.
Toe hekke met slotte.
Tronke oweral.
Maar die inwoners
is (on)gesond rond.
In die strate
die honger mense
wat werk soek
sonder die nodige pampiere.
Die supermarkwaentjie-
en tuisgeflansde
karretjie-brigade
wat in vullisblikke krap.
In jaende karre aan die verkeerde
kant van die straat
(sjoe, jou amper vrek gery),
die misdadigers met
skroewedraaiers,
messe,
rewolwers,
sub-masjiengewere.
Ek wonder: Hoe lank sal ‘ons’
‘hulle’ nog buite kan hou?
ⓒ Corlia Fourie, 2026
