Ici tout est gâché
Waar begin of eindig ‘n gedig
op hierdie herfsoggend kil
ná ‘n Sondag met reën in
‘n huis vol lakens en klere nat.
Wie hoor of sien of luister af
soos Poirot in Death on the Nile?
Elke karakter had tog ‘n motief
vir die vrouemoord koelbloedig.
Peter Ustinov as Hercule ontmasker
die twee moordenaars met taal,
‘n konjunktief: wat as, what if …
As Belg begryp hy immers Frans.
In hierdie film met vele beroemdes
deel hy alweer die speurlakens uit.
Gesteelde pêrels by die lyk gevind
met Bette Davis as die dief: uitgevang.
Die geldnota vasgeklem in die hand
van die kamerbediende verklap
afpersing met Mia Farrow se lanset
vir ‘n keel se einde so bloederig.
Miskien is hierdie gedig aan jou gerig
niks minder of meer as ‘n herinnering
aan ons Nylvaart vóór jy soos ‘n sfinks
in stilte my sou laat wat-as, wat-as …
© Joan Hambidge, 2026
