Petrichor (petra klip, ichor bloed)
Jy ruik in stilte
buskruit donderslae
uit die hemele neergeblits,
knopkieriekorrels hael,
voor vet druppels
na die droë tyd
ongehoord van gewasse drup
met plantolie verbind
in die lug uit kleigrond en klip
met aard-geur vrygestel word
en water verligting bring
waar stomme blare
suisend sing oor vloeistof in hul are
om weer goddelik te bloei.
Dan is daar ’n stilte
wat meer is as die afwesigheid van geluid;
die voëls verstil en meerkatte
staan botstil, ore gespits
met skielik ’n hoë fluitgeluid,
van ver ’n dowwe knal
en alles is in die war
met wat kan beweeg
skreeuend in alle rigtings
aan die uitmekaar uit spat
as die klipkoppie donderend
versplinter met stof en kruit
verstikkend in oë, mond en neus,
en jong weermanne lê
aan flarde stil om nooit,
nooit weer te kan groei nie,
bloed uit hul are
ongoddelik in die ngolagrond
uitgebloei.
© Dietloff van der Berg, 2026
