Hoe ’n mens die wêreld om jou leer ken, waarneem en interpreteer, word gewoonlik as jou ontologiese benadering beskryf. Dit is dus ’n ontologiese gruwel om in plaas van “daar staan” te sê “dit sê” (Van der Berg, 1994) of KI sê, want slegs ’n unieke mens met ’n persoonlike interpretasie van die waarneembare en ervaarde werklikheid kan iets sê. Papegaaie kan praat en iets kan geskryf staan, maar dis nie iemand wat eg iets sê nie. Ons het egter nou al die punt bereik waar sommige aanhangers van nagebootste intelligensie of KI as hulle daarna verwys, praat van die nabootsing se teks as “Hy sê”! Die meeste lesers kan egter gewoonlik aanvoel dat daar iets ontbreek as ’n gedig met nagebootste intelligensie geproduseer is, want die digkuns is seker die mees unieke weergawe van een mens se ervarings en gevoelens, uitgedruk op ’n uiters persoonlike manier in eie taalgebruik.
Dit geld eweveel vir die vertaal van gedigte. Elke vertaler is ook ’n unieke mens met sy eie strategie oor hoe die vertaling aangepak gaan word. Die term “strategie” kom van die Grieks, strategein wat letterlik beteken om paaie te bou (stratos agein) en is sedert antieke tye ook gebruik om “die leier te wees” asook om “’n truuk te gebruik om te wen” (Van Ruller, 2018:367). Dis baie gepaste beeldspraak vir die vertaler wat ’n leidende rol in die oordra van idees van een taal na ’n ander speel om met gebruik van vertaaltegnieke lesers se belangstelling vir ’n ander kultuur te wen. Die vertaler wat daarin wil slaag, behoort besondere aandag aan sy strategiese vaardigheid te skenk, aangesien alle kommunikasiestrategieë daaruit ontstaan. Die strategiese vaardigheid sluit etiese, estetiese en politiese oorwegings in.
Die professionele vertaler moet eers hieroor dink voor hy vertaal, in teenstelling met die polemiese stellings wat Meyer (2024) gemaak het deur die teendeel te beweer. Ek stem egter volmondig met Cochrane (2024) saam:
In sy vertalersnota maak Meyer ’n aantal vreemde opmerkings. Hy beweer dat “teorieë oor vertaling, vertaalpraktyk en vertaalfilosofie” ongewens is, want dié kennis sal “die suiwerheid” van vertaling in die wiele ry. Verder beweer hy dat vertaling “oop” moet wees vir almal en dat “wette”, “beginsels” en “teorieë” ’n bedreiging vir “die kuns” inhou en lesers aan “die sisteem” gebonde sal hou. Ek begryp nie Meyer se argumentasie nie en in dié opsig kan ek nie vir hom in die bres tree nie. Hoe kan ’n deeglike kennis van vertaalteorieë enigsins nadelig wees? Dit sal eerder lei tot ’n beter begrip van komplekse linguistiese prosesse.
Waarom Meyer sy bewerings kan maak, is waarskynlik as gevolg van die feit dat daar geen algemeen aanvaarde vertaalteorie is wat die toepaslikste vir digkunsvertaling is of behoort te wees nie. Die feit is egter dat Meyer vir sy vertaling bewustelik of onbewustelik reeds ’n keuse gemaak het deur nie net ’n omsetting in prosa van die gedigte aan te bied nie, maar dit in versvorm te doen. Meyer kan dus nie eensydig besluit wat ’n bedreiging vir die kuns inhou nie en behoort die etiese vereistes vir professionele vertaling voor oë te hou. Soos die bekroonde vertaler Daniel Hahn dit stel, is dit nie ’n geval van een woord met ’n ander vervang nie en feitlik niks in die proses waarby daar nie ’n keuse betrokke is nie. Dit berus ook op intuïsie, nie net omvangryke woordeskatkennis nie (Mba, 2023).
Ten spyte van al die gekombineerde teoretisering en pogings van programmeerders kan KI nog nie al die vaardighede betrokke by ’n gedig in aanmerking neem nie. “AI’s creativity is constrained by training material, prompts, and prompters, signalling both AI’s potential and limitations in shaping contemporary poetry.” (Shalevska 2024) Karaban (2024:1–2) sien die vertaal van digkuns ook as grotendeels ongekaarte gebied en dit “poses a formidable challenge for machine translation algorithms” gegewe digkuns se “complex interplay of emotions and cultural nuances woven into each verse line.” Sonder om deur ’n mens gepor te word, kan KI nie van die wisselwerking tussen sender, teks en ontvanger waarop kommunikasie altyd berus, bewus wees nie.
Vertaling, soos dig, bly ’n kuns van keuses uitoefen en die ontvanger verwag ’n groter mate van getrouheid aan die bronteks in prosavertaling. Kates (2013) stel dit duidelik dat hoe lirieser die uiting is “the more distraction we accept in the disorderly republic of letters”. In prosa daarenteen verwag die leser absolute akkuraatheid en getrouheid. Die feit dat die vertaler keuses moet maak, bly egter fundamenteel. Sy haal Robert Graves aan wat skryf: “It is essentially a moral problem: how much is owed to the letter, and how much to the spirit. ‘” (Kates 2013)
In teenstelling met KI is ware intelligensie in staat tot morele denke op grond van ’n stel etiese beginsels waardeur die andersins onbegrensde kreatiwiteit van ons denke, beperk word deur wat behoort en nie behoort te wees nie. Om vir die meeste gebruikers aanvaarbaar te wees, moet KI-programme wegbly van moreel aanstootlike inhoud. KI-programmeerders sukkel egter en sal bly sukkel om die balans tussen wat moreel aanvaarbaar en onaanvaarbaar is te vind. Dr. Watumull (Chomsky e.a. 2023) wys dan deur ’n gesprek met ChatGPT oor of dit eties sou wees om Mars se terrein vir menslike gebruik te omskep, dat ChatGPT nie die vraag kan beantwoord nie, maar ontwykend verklaar dat hy nie die subjektiewe ervaring van mense het en nie morele oordele kan vel nie. Ten spyte van al die oënskynlike gesofistikeerde denke en taal wys ChatGPT iets soos die banaliteit van boosheid: plagiaat, apatie en ontwyking.
In short, ChatGPT and its brethren are constitutionally unable to balance creativity with constraint. They either overgenerate (producing both truths and falsehoods, endorsing ethical and unethical decisions alike) or undergenerate (exhibiting noncommitment to any decisions and indifference to consequences). Given the amorality, faux science and linguistic incompetence of these systems, we can only laugh or cry at their popularity.
Hulle diepliggendste gebrek is die afwesigheid van die mees kritieke vermoë van enige ware intelligensie, naamlik om nie net beskrywend en voorspellend te sê wat die geval is, was of sal wees nie, maar ook wat die geval sou kon wees of nie sou kon wees nie, wat die bestanddele van verduideliking en die kenmerk van ware intelligensie is (Chomsky e.a. 2023). Chat https://chat.chatbotapp.ai/chats/-OJqZphBNu2VefRUkwwb?model=gpt-3.5 skryf self in antwoord op die por “What does Ian McGilchrist think of AI?” dat Ian McGilchrist, die befaamde Britse sielkundige en skrywer oor die verhouding tussen neurowetenskap en kultuur, besorgdheid uitgespreek het oor kunsmatige intelligensie. Sy standpunt is dat KI “lacks the depth of understanding and consciousness associated with human cognition”. Hy beklemtoon die belang van holistiese, kontekstuele denke waarvan KI nie ’n presiese weergawe kan skep nie, aangesien dit bedryf word met algoritmes en datapatrone in plaas van werklike begrip.
Goeie vertalers kan egter die konteks, kulturele nuanses en idiomatiese uitdrukking in die brontaal verstaan en interpreteer wat vir KI uitdagend is, want gepubliseerde gedigte is sterk konteks gebonde. Dit is gerig aan ’n taalgemeenskap en funksioneer binne ’n literêre kanon en die kulturele konvensies van die taalsisteem. Mense hanteer meerduidige uitdrukkings en sinne beter om die korrekte betekenis te agterhaal met gebruik van hulle kennis en begrip van die wêreld en etiese standaarde. Etiek verwys na morele beginsels wat ‘n persoon se gedrag beheer wanneer ‘n aktiwiteit uitgevoer word en wat ooreenstem met wat die samelewing en individue dink goeie waardes is. Vir korrekte begrip en etiese oordra van die sentrale boodskap van die teks is mense dus nodig, want onmenslike programme het nie individuele morele en etiese waardes nie.
Etiese besluitneming kan ook volgens Unesco (2023) nie aan KI oorgelaat word nie, aangesien KI-stelsels bevooroordeelde resultate lewer omdat dit resultate op grond van gebruikersvoorkeur en ligging prioritiseer. KI-tegnologie bring reuse voordele, maar sonder etiese sperrelings bestaan die gevaar dat vooroordele en diskriminasie voortgesit en fundamentele menseregte en vryhede bedreig word. Rupert Neate (2022) waarsku in hierdie verband juis teen die oorheersing van die media-ekostelsel wat deur ’n handjievol miljardêrs oorheers word en verspreiding van disinformasie aanlyn om onverdraagsaamheid aan te blaas. Shalevska (2025) wys ook daarop dat “popular Generative AI models such as ChatGPT-3.5, ChatGPT-4, Gemini, and Microsoft Copilot show political bias, consistently align with more liberal, left-hand standpoints, indicating a potential bias against conservative ideologies.”
’n Bekwame moreel en etiese mens is dus vir goeie digkuns en -vertaling altyd verkieslik bo die onmenslike nagebootste intelligensie se pogings.
ChatGPT. 2025. What does Ian McGilchrist think of AI? https://chat.chatbotapp.ai/chats/-OJqZphBNu2VefRUkwwb?model=gpt-3.5 (24 Februarie 2026 geraadpleeg).
Chomsky, N., I. Roberts en J. Watumull. 2023. Noam Chomsky: The false promise of ChatGPT. New York Times. https://www.nytimes.com/2023/03/08/opinion/noam-chomsky-chatgpt-ai.html (10 Januarie 2026 geraadpleeg).
Cochrane, N. 2024 Resensie: Uit die herberg van Alhambra: vertalings deur Bester Meyer. Gansbaai: Naledi. https://versindaba.co.za/2024/10/18/resensie-uit-die-herberg-van-alhambra-vertalings-deur-bester-meyer/ (10 November 2025 geraadpleeg).
Karaban, V. en A. Karaban. 2024. AI-translated poetry: Ivan Franko’s poems in GPT-3.5-driven machine and human-produced translations Forum for Linguistic Studies, 6(1).
Kates, J. 2013. Apuleius translated. Harvard Review. https://www.harvardreview.org/content/apuleius-translated/ (03 Mei 2024 geraadpleeg).
Mba, G. 2023. ‘Spinning an illusion’: what exactly do literary translators do? https://thebookerprizes.com/the-booker-library/features/spinning-an-illusion-what-exactly-do-literary-translators-do (6 September 2024 geraadpleeg).
Meyer, B. (vert.). 2024. Uit die herberg van Alhambra. Gansbaai: Naledi.
Neate, R. 2022. Billionaires-extra power media ownership.
https://www.theguardian.com/news/2022/may/03/billionaires-extra-power-media-ownership-elon-musk (12 September 2024 geraadpleeg).
Shalevska, E. 2024. RATE Issues, Somer 2024, 31(1). file:///E:/Users/Dell/Downloads/TheDigitalLaureateExaminingAI-GeneratedPoetry-RATE.pdf (16 November 2024 geraadpleeg).
Shalevska, E. en A Walker. 2025 Are AI Models Politically Neutral? Investigating (Potential) AI Bias Against Conservatives. https://www.researchgate.net/publication/389978963_Are_AI_Models_Politically_Neutral_Investigating_Potential_AI_Bias_A.gainst_Conservatives (10 Maart 2026 geraadpleeg).
Van der Berg, D.Z. 1994 “Dit sê as ontologiese gruwel.” Tydskrif vir Taalonderrig, jg. 28 nr. 1, pp. 69-85.
Van Ruller, B. 2018. Communication theory: An underrated pillar on which strategic communication rests. International Journal of Strategic Communication, 12:4.
