
Hinterland deur Piet van Rooyen, Naledi, 2025
Piet van Rooyen is die skrywer van bekroonde boeke soos Die spoorsnyer (1994) en Die olifantjagters (1997), asook heelwat ander soos Agter ʼn eland aan (1995) Etosha (2010), Voëlvry (2015) en twee digbundels, benewens verskeie akademiese uitsette. Hy is ʼn afgetrede professor van die Universiteit van Namibië. Sy werk fokus meestal op natuurtemas en Afrika as kulturele ruimte.
Hinterland is die verhaal van ʼn ekspedisie na die binneland van Afrika om ʼn verlore gorilla-spesie te soek in die styl van ander Afrika-avontuurskrywers soos Sir H. Rider Haggard (1856–1925) (King Solomon’s Mines, 1885; She: A history of adventure, 1887). Van Rooyen se beeldryke, unieke skryfstyl sluit eweneens by die Victoriaanse Afrika-avontuurverhaal aan en is geskryf in van die mooiste (soms verhewe) Afrikaans wat ek in ʼn lang tyd gelees het.
Die karakters is hoofsaaklik stereotipes wat mens in dergelike verhale verwag. Selfs die verteller gee nie té veel van homself te kenne nie. Die Afrikane wat van tyd tot tyd in die oerwoud raakgeloop word, bly (o.a. weens taalhindernisse) meestal op die periferie rondflikker. Op een stadium is hierdie mense deur ʼn oorlog so ontmens dat hulle die ekspedisielede ignoreer “sonder om enige tekens van menslike herkenning” (p. 94) te toon.
Die storielyn verloop tydsaam en veral die begin van die verhaal kan lesers ontmoedig. Die verhaal is redelik voorspelbaar en sluit die gebruiklike ontberings in wat tipies is van ekspedisies na onbekende, ongekaarte wêrelddele. Die vertelstyl is onderhoudend en die verhaal word in die eerstepersoon vertel. Omdat daar vroeg in die boek reeds aanduidings is dat die Duitse dierkundige, Annegret, – ook die enigste vroulike ekspedisielid – beplan om by die gorillas (sou hulle gevind word) agter te bly, kom die slot nie as ʼn verrassing nie.
Die voorblad lei die leser om ʼn tipiese ekspedisie-avontuurverhaal te verwag met die vind van gorillas as teiken en ʼn aantreklike vrou as toegif. Ook die flapteks is misleidend: “Wat as dit nie die gorillas is wat die diepste geheim wegsteek nie?” Dit is onduidelik waarna dié geheim verwys, maar ook die aantreklike dierkundige (waarskynlik blond) van die voorblad speel nie die tradisionele rol in hierdie verhaal nie.
Wat is Hinterland dan anders as ʼn tipiese poging tot die opwarming van die Victoriaanse Afrika-ekspedisie-avontuurverhaal?
My insig is dat ons hier te make het met die ondermyning van dié genre. Daarom die oppervlakkige, cliché-agtige, voorspelbare aard van die vertelling waarin elemente van die onmiddellike hede vermeng word met ongerepte prekoloniale Afrika. Ek sou voorstel dat hierdie roman eerder gelees word met aspekte van die magiese realisme in gedagte. Dié genre word gekenmerk deur ʼn nugter vertelstyl waarin bonatuurlike en magiese elemente (soos die slot wat soos ʼn feëverhaal lees) as normaal aangebied word in ʼn realistiese ruimte, waarin grense vervaag (soos tussen hede en verlede) en drome nie van die realiteit geskei kan word nie. Omdat die verteller in die loop van die verhaal telkens verwys na gereelde aanvalle van koors (waarskynlik malaria), lees ek veral die slot as koorsdroom en nie as realiteit nie. Die geoefende leser en navorser sal hierdie roman beslis lees met die oog op dieper simboliese betekenis soos die afdaal na die Onbewuste en nié as ʼn “lekker” soektognarratief waarin die soektog na die geheimsinnige gorillas ekstra kleur kry deur die potensiële vind van die geliefde in die vorm van die welbedeelde “blond’ in ʼn jagtersuitrusting nie.
– Marlies Taljard

Goeie resensie, dankie.