Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
30 March 2026

Wat lees jy? “Skattejag en skadukante” (Malene Breytenbach)

 

 

Skattejag en skadukante deur Malene Breytenbach, LAPA, 2026

Hoewel die romanza-vorm deur baie skrywers beoefen word en as een van die beste verkopers wêreldwyd beskou word, is sulke romans dikwels voorspelbaar en cliché-agtig. Malene Breytenbach is beslis ‘n uitsondering op dié “reël”. Sy kan met reg die koningin van moderne Afrikaanse romanza genoem word.

Dr. Malene Breytenbach het, aldus Wikipedia, al ongeveer 50 kontemporêre, historiese en mediese liefdesromans geskryf. Daarbenewens het sy ook al heelwat ernstiger werk gelewer wat goed ontvang is.

Die term “romanza” verwys in moderne tye na fiksie waarin ʼn liefdesverhaal sentraal staan en wat ʼn gelukkige einde het. Oorspronklik was die Franse “romanz” ʼn avontuurverhaal wat om ʼn heldenarratief gewentel het. In die Middeleeue was verhale waarin ʼn ridder edele dade verrig soos om dames uit benarde posisies te red, besonder gewild, onder andere by minnesangers wat dit in poëtiese vorm gegiet het en dit aan die howe van adellikes gesing of gedramatiseer het. Dink maar aan die bekende verhale oor Koning Arthur. Ridderlikheid, dapperheid, eer en avontuur in ʼn eksotiese ruimte was die belangrikste bestanddele van dié verhale. Baie van dié elemente vind ons ook terug in Malene Breytenbach se nuutste romanza.

Skattejag en skadukante is, benewens ʼn liefdesverhaal, ook ʼn avontuurverhaal waarin verraad, diefstal en plundering en die edele motiewe van professionele marineargeoloë ʼn belangrike rol speel. Ook die motief van die “damsel in distress” maak deel van die avontuur uit.

Elara word deur haar suster uitgenooi om saam met haar en ʼn vriend op ʼn bootrit te gaan. Die boot behoort aan die marineargeoloog Rowan Carter, ʼn wewenaar wat bekend is as nors en selfs vyandig. Hy is besig met ʼn hoogs geheime sending, naamlik die berging van waardevolle skatte uit ʼn antieke skeepswrak wat hy onlangs ontdek het. ʼn Amerikaanse maatskappy wat diep onder verdenking is, probeer die poging in die wiele ry en plunder die skeepswrak. Intussen gedy die liefde tussen Elara en Rowan.

Hoewel dit ʼn gegewe is dat daar ʼn verhouding tussen die twee hoofkarakters sal ontstaan, onderskei Skattejag en skadukante homself van die standaard romanza deur Breytenbach se vaardige vormgewing en keurige taalgebruik. Dit is ʼn liefdesverhaal wat soms onverwagse wendings neem en wat kundig vertel word met ʼn stygende spanningslyn wat deurgaans volgehou word. Ook wat karakterisering betref, kom die twee hooffigure as ronde karakters uit die verf met wie die leser kan identifiseer. Die verhouding tussen Elara en Rowan word lewensgetrou en realisties uitgebeeld sonder om ooit in soetsappigheid te verval. Dit is ontspanningslektuur uit die boonste rakke wat ek met vrymoedigheid kan aanbeveel.

 

– Marlies Taljard

 

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Wat lees jy? “Hinterland” (Piet van Rooyen)
Joan Hambidge. Cloete en die klassieke verwysings →

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. glasman
  • Anne-Marie Bartie. fake news
  • Anne-Marie Bartie. visum
  • Margaret Cordier. Gestroop
  • Willem de Swyger. bokwagter

Nuutste bydraes

  • Joan Hambidge. Sheila Cussons en Dominique Botha: Die ander waarheid
  • Nuwe Publikasie. Ilse van Staden: Metamorfose
  • Digtersprofiel: Bernard Odendaal
  • Gerard Scharn. het was verschrikkelijk
  • Nuwe Bundel. Margaret Cordier-Biermann: Spiraal

Nuutste kommentaar

  1. Marieta McGrath on Gerrit Theron. Die vuurhoutjie31 August 2026

    Ek hou hiervan.

  2. Johan Coetzee on Joan Hambidge. Om die hemel te dekonstrueer30 August 2026

    Die hemel... of hel is opgedollie.

  3. DIETLOFF VAN DER BERG on Resensie: “In memoriam, Johann de Lange” (Johann Lodewyk Marais en Joan Hambidge)28 August 2026

    Soekie, ja, ek stemsaam. Van 'Boondoks' tot 'Gelykenis' is daar net soveel wat mens tref en weer wil herlees.

  4. Soekie Vogel on Resensie: “In memoriam, Johann de Lange” (Johann Lodewyk Marais en Joan Hambidge)27 August 2026

    Hambidge het haarself oortref in haar digsiklus oor De Lange. Aangrypend.

  5. Daniel Hugo on Ilse van Staden. Die Dans25 August 2026

    'n Wonderlike huldeblyk aan die digter se moeder en Van Wyk Louw.

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • onderhoude
  • Onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d