Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
17 April 2026

Joan Hambidge. Cloete en die klassieke verwysings

 

I

T.T. Cloete se kennis van die klassieke wêreld is al uitgewys deur verskeie literatore soos Hans Ester, Hein Viljoen, Heilna du Plooy en Marlies Taljard, om ‘n paar name uit te sonder.

Cloete is ook vertaler in eie reg soos Meneer Perrichon gaan op reis van Eugène Labiche en Edouard Martin. Cloete se teks verskyn in 1962. Le Voyage de M. Perrichon het in 1860 verskyn.

In sy kortverhaalbundel Identikit skryf Cloete in “Die storiehel” die volgende:

 

‘n Ou storie uit ‘n nuwe mond is ‘n nuwe storie.

 

En dit is inderdaad wat hierdie skrywer doen. Hy gebruik ou tekste en laai dit met nuwe implikasie.

 

II

Cloete se kennis van Dante is alombekend. Dit is eweneens belangrik om sy omdigtings van Homerus se Illias opnuut te bekyk. Marlies Taljard het dit deeglik ondersoek in verskeie besinnings.

Hy begin sy gedig deur te verwys na Hefaistos, die kreupel kunstenaar wat die skild ontwerp het.

Achilles in die Trojaanse oorlog word deur Paris gedood. Sy moeder het hom die Styx-rivier gedoop en sy hakskeen is helaas daardie plek waar die dodelike pyl hom getref het. Vandaar die begrip: Achilleshiel.

Marlies Taljaard. Beeld en Teks 1: Achilles se skild – T.T. Cloete

Op die Versindaba en in Literator verskyn daar ‘n insigryke analise van Achilles se skild.

https://versindaba.co.za/2011/04/18/beeld-en-teks-1-achilles-se-skild-%E2%80%93-tt-cloete/ Besoek 16 April 2026

 

Voorstelling van Achilles se skild

 

‘n Paar punte wat Taljard maak, is tersaaklik:

1 Die agtiende en twee-en-twintigste boeke van die Ilias word gebruik. Sy wys daarop dat dit beskou word as die oudste voorbeeld van ekfrasis.

2 In die Cloete-gedig opgeneem in onversadig (2011) bewys die hersirkulasie van retoriese en stilistiese middele.

3 Kunswerke wat in jukstaposisie geplaas word teenoor mekaar. Ook wys Taljard daarop dat ons vandag nie meer weet of die skild werklik bestaan het nie.

4 Verder skryf sy: “Lê ‘n mens die bronteks en Cloete se teks langs mekaar, lyk dit aanvanklik asof Cloete Homerus se teks redelik getrou omgedig het. Soos Homerus, beskryf hy die proses van vuurmaak, die smelt van die metale koper, tin, goud en silwer en die smee van die skild wat uit vyf lae bestaan. Daarna word die verskillende reliëfs geskep wat in besonderhede beskryf word. Ten slotte beskryf hy die stryd tussen Achilles en Hektor uit Boek 22.”

5 En dan die allerbelangrikste punt van haar artikel: “By ‘n meer diepgaande lees van beide tekste, blyk dit egter dat Cloete se teks op betekenisvolle wyse van die bronteks afwyk. Alhoewel die afwykings gering lyk, plaas dit egter die antieke teks binne ‘n nuwe paradigma deurdat die moderne digter bepaalde dele van die antieke teks beklemtoon, onderbeklemtoon en weglaat, asook deur interpretasie van sekere teksdele.”

6 Waarom beklemtoon Cloete die mankheid van Hefaistos? Dit is temas wat by herhaling in Cloete se digkuns na vore kom: gebreklikheid wat sy eie gebrek aktiveer.

Ook relevant is die volgende: “Benewens verwysings na Hefaistos, kom in “Achilles se skild” ook ander verwysings voor na die kwesbaarheid en onvolmaaktheid van die mens as sodanig. Wanneer die twee stede wat op die skild uitgebeeld word, beskryf word, staan daar: “dan maak hy / die saamleefplekke vir die weerlose mense / vir hulle wat eensaamheid en alleenheid vrees”. Hierdie interpretering van die kunswerk kom nêrens in die Ilias voor nie, maar vorm die basis van Cloete se interpretasie van die reliëfs op die skild, naamlik dat die mens in sy weerloosheid en in sy gespletenheid daarop uitgebeeld word.”

7 Die kreupel Hefaistos teenoor die elegante en rats atleet:

 

groter as mensgrootte helder glansend

in die lug bo die stad hang Hefaistos

twee gode, Ares en Pallas Athene

wat kant kies soos die mense dit doen

een vir die plunderaars een vir die verweerders

 

dit is die groter geveg tussen al die mooi dinge

op die skild in die tweede kring van die nes

van konsentriese sirkels wat in mekaar pas

netjies soos die kringe in ‘n versteurde waterplas”[.]

8  Daardie gedeelte waarin die stede in grusame besonderhede vertel word, is nie in die Cloete gedig nie. Hiermee meen sy wil Cloete die universele problematiek van menswees beklemtoon.

En sy verduidelik tereg: “Waar Homerus dus die maak van Achilles se skild gefokus beskryf sonder om van die handeling af te wyk en met die doel om aan die leser ‘n lewensgetroue weergawe van die verskillende reliëfs te verskaf wat op die skild voorkom, is dié beskrywing vir die moderne digter slegs ‘n vertrekpunt van waar hy sin probeer maak uit dit wat uitgebeeld word. Vir Cloete is die reliëfs die versinnebeelding van die menslike kondisie en die mens se bestaan op aarde: ‘n bestaan wat gekenmerk word deur verskeurdheid, teenstelling en weerloosheid aan die een kant, en vreugde en blymoedigheid aan die ander kant. Hierdie fasette van menslikheid “pas netjies soos kringe in ‘n versteurde waterplas” inmekaar, soos dit op die skild uitgebeeld word; dit is ingebed in mekaar en word gekenmerk deur gelaagdheid soos ons dit vind in die vyf lae wat Hefaistos maak, waarna in die inleiding verwys word.”

Marlies Taljard beskryf in hierdie uitsonderlike artikel hoe Cloete met klassieke tekste werk en dit nuut maak. Die jukstaposisie van ons bestaan.

‘n Ou storie uit ‘n nuwe mond is ‘n nuwe storie.

Cloete word in hierdie artikel vereer en dit neem ons na die belangrikheid van die klassieke wêreld. Soos ons ook sien in Henderson se werk.

 

III

Briewe van Heldinne   versend 22 Oktober 2025

Ovidius se Heroïdes

Vertaal deur W.J. Henderson

Naledi, 2025

Resensent: Joan Hambidge

 

In 1989 verskyn Antonia Fraser se bloemlesing Love letters. Briewe van Byron, Keats, Abélard en Heloise. Met ‘n anonieme brief van ‘n Japannese vrou aan haar man in die oorlog. Fraser het ‘n memoir geskryf oor haar verbintenis met die dramaturg Harold Pinter Must you go? (2010).  ‘n Verslag van ‘n broeiende verhouding tussen Jood en Nobelpryswenner; sý op haar beurt die uitstekende biograaf.

Fraser die dogter van die 7e Earl van Longford en Pinter, werkersklas gebore in die Hackney-distrik. Uiteraard oorbewus van anti-Semitisme wat hy in sy dramas ontmasker. Hy is bekend om die “pinter pause”, die swanger stiltes tussen mense; sy die pratende sjampanje-sosiale vlinder.

Nou verskyn daar die vertalings van W.J. Henderson getitel Briewe van heldinne.  

 

Die Heroïdes is Ovidius se tweede werk. Keiser Augustus het hom verban na Tomis sonder dat die rede vir die straf bekend gemaak is. In ballingskap skryf hy dan die Droewige Berigte (Tristia) wat in 13 n.C. verskyn het.

Wat ‘n besondere versameling is dit nie. Voetnote, endnotas en regstellings wat die briewe in digvorm (die elegiese koeplet) begelei. Dit heet ook Epistulae Heroidum.

‘n Hele dag het verby gegly met die lees van hierdie oorrompelende, pynlike én hartstogtelike briewe. Versakings en passies. Verlange en verdriete. Vrou teenoor man. Verraad en oorlog.

Agtien beroemde vroue uit die Griekse mitologie en geskiedenis word aan die woord gestel. Net drie mans skryf terug aan hul geliefdes.

Ovidius is in Afrikaans deur N.P. van Wyk Louw in Tristia (1962) verewig. En Sheila Cussons antwoord met “Dido op hoogte aan Aeneas” in Membraan (1984):

 

Nie jý is dié einde werd nie, Aeneas,

jy wat geen lêplek was nie,

maar ék wat my vuurbed maak

uit brandhout van ‘n eie besetenheid.

Hoekom ‘n holte wees luidend van jou aandag,

‘n omtrek wat ingevul wou word en nie kon raai

hoe alles moet binne- en ineenstort nie?

En jy, hoe gek lyk jy, ‘n driftige suil

met ‘n hele ent bokant waar ‘n hart moes wees

‘n dotjie hoof, soos ‘n onderstebo uitroepteken.

Daar wás dan ten minste ‘n uitroep. Thanks.

Ek is terug in my tale, nie meer van my wysie af nie.

Die dolk het my maklik gevind, soos botter,

en geil bemes ek die vlam, en dit jaag so

dat ek vlot verteer. Geen pyn nie, hoegenaamd.

Daaraan gedink, jý was ‘n pyn, in die nek,

en dié al verkool. Stig jou dinges. Trouens, gaan stik.

 

In Henderson se versameling staan dit opgeteken in Brief 7.

 

Met ‘n voetnoot: ”Die normaal stil swaan sing kort voor dit sterf”.

 

Selfs as die see jou oorreed, moet jy toue losmaak,

en besit die wye see nogtans baie smarte. (44)

 

Op die marmergraf staan daar: “Aeneas en sy swaard het die oorsaak van haar dood gebied.

Dido het by haar eie hand geval.”

 

Die “wond van die wrede liefde” roep dan vergelykings op tussen die klassieke teks en die moderne antwoorde.  Veral die digkuns van Anthony Hecht is relevant.

 

In Brief 15 skryf Sappho aan Phaon:

 

Ek moet oor my liefde treur en elegie is ‘n treurende maat. (85)

 

Henderson, die klassikus, maak ons attent daarop dat daar geen melding gemaak word van Phaon in háár gedigte nie en sy het nie van ‘n krans na haar dood gespring nie. Sappho was ‘n historiese figuur en die klassikus se Op Griekse lier (2004) is uiters relevant.

 

In Brief 17 skryf Helena aan Paris:

 

Aangesien jou brief nou my oë geskend het,

het die glorie van antwoord gering gelyk. (104)

 

Ons lees van ‘n vars vlam wat met min water geblus word …

 

Helena het met Paris na Troje gegaan en so is die beroemde Trojaanse oorlog begin, wat tien jaar lank geduur het.

 

In Brief 14 vind ons Hypermnestra aan Lynceus:

 

Ek sou meer wou skryf, maar my hand val met die gewig

van die ketting, en vrees self dreineer my krag. (84)

 

In Brief 11 (Canace aan Macareus) word die seun as ‘n armsalige pand van onheilige liefde gesien. Ook hier is daar selfdood.

In die glossarium word uitsprake van klanke verduidelik met verwysings na name, plekke (toe en nou). Glaucus is hier, daardie visser wat ‘n seegod geword het, ná die eet van magiese kruie en voorspellings kon maak. Deur Opperman verewig in ‘n gedig opgeneem in Komas uit ‘n bamboesstok (1979). Daardie oog wat bifokaal kan sien.

Van bosnimfe tot Hector en die Boreas is opgeteken. Thalia (die muse van liriese poësie), Thessalies (Grieks),  Medusa en Magnesia, ensomeer.

Geplaas teenoor toe en nou.

Die voorblad deur vertaler se dogter, Catherine Stone, verdien vermelding.

Dis ‘n pragboek wat ‘n ereplek in my panteon van klassieke tekste beklee. Tereg is Henderson as vertaler bekroon met die Gustav Prellerprys vir sy bydraes tot die literatuurkritiek.

 

 

Joan Hambidge

Kaapstad

16 April 2026

 

Bronne:

 

Cloete, T.T.        1997. Identikit. Kaapstad: Tafelberg.

– 2011. Onversadig. Kaapstad: Tafelberg.

 

Henderson, W.J. 2025. Briewe van heldinne. Ovidius se Heroïdes. Naledi: Gansbaai.

 

Taljard, M. 2012. Gesprek oor drie millenniums: TT Cloete se herskrywing van Homeros se Achillesskild-gegewe. Literator, 33(2):1–8.

 

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Joan Hambidge. Pochade
Joan Hambidge. Eekhoring →

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. glasman
  • Anne-Marie Bartie. fake news
  • Anne-Marie Bartie. visum
  • Margaret Cordier. Gestroop
  • Willem de Swyger. bokwagter

Nuutste bydraes

  • Joan Hambidge. Sheila Cussons en Dominique Botha: Die ander waarheid
  • Nuwe Publikasie. Ilse van Staden: Metamorfose
  • Digtersprofiel: Bernard Odendaal
  • Gerard Scharn. het was verschrikkelijk
  • Nuwe Bundel. Margaret Cordier-Biermann: Spiraal

Nuutste kommentaar

  1. Marieta McGrath on Gerrit Theron. Die vuurhoutjie31 August 2026

    Ek hou hiervan.

  2. Johan Coetzee on Joan Hambidge. Om die hemel te dekonstrueer30 August 2026

    Die hemel... of hel is opgedollie.

  3. DIETLOFF VAN DER BERG on Resensie: “In memoriam, Johann de Lange” (Johann Lodewyk Marais en Joan Hambidge)28 August 2026

    Soekie, ja, ek stemsaam. Van 'Boondoks' tot 'Gelykenis' is daar net soveel wat mens tref en weer wil herlees.

  4. Soekie Vogel on Resensie: “In memoriam, Johann de Lange” (Johann Lodewyk Marais en Joan Hambidge)27 August 2026

    Hambidge het haarself oortref in haar digsiklus oor De Lange. Aangrypend.

  5. Daniel Hugo on Ilse van Staden. Die Dans25 August 2026

    'n Wonderlike huldeblyk aan die digter se moeder en Van Wyk Louw.

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d