Goed gaan
Ouboet Willem, oudparlementariër
Op die afdraandpaadjie hinkepink ’n mens
eers, het jy skalkserig gesê;
dan leer jy rystoelrats wees, rem-rem
stuur om heelhuids onder te kan kom … tot sit of lê.
G’n brandewyn om welgedaan te skink,
g’n selwers uit- of platgetrekte vis- of vleisstuk
om op die kole daar te gooi nie! Soms, droëbek
maar idioomgerat soos altyd, het jy laat val: “G’n verkiesingspaal
te haal meer nie. G’n kloutjies taal en volk
by nasie-ore nog te bring nie. Eet maar op jou Boerkindhoed!”
Sou verpleërs egter na jou welstand vra, kom dit volstrek:
“Bo verdienste goed!”
Toe begin die hinkepinkery in jou onthou en dink.
Die kort-kort skuinslê in die hospitaal –
hartslagmonitor
die piepstem aftel-tolk.
Tot jy “bo verdienste”, selfs
“genade Gods”, ’n keer gefluister
kry nog. Blou oë oop
op my. Skor
vertel
hoe jy. “Oor berese land-”.
“Skappe swewend”. Droom
jy land mooitjies. By
die dennelanings. Van ons grootwordplaas.
Hoe jy asem. Haal
daar. Diep. En uitblaas.
Toe ons later – jou oorsese kinders, ingevlieg, daarby –
ter aarde jou bestel,
is ek takwerklangs van uitheemse boom tot -boom
met jou aan ’t klim, voëlneste soos vanouds aan ’t tel;
gaan sit ek vroegaand, lyfseer teen ’n stam teruggesak,
met jou en staar hoe sterre nestel waar die swartlooftrans vertak.
© Bernard Odendaal, 2026

‘n Kragtige slot. ‘n Pynlike lykdig wat ‘n familieverbintenis verhaal teen die politieke agtergrond.
En lyfseer aktiveer hartseer.
Dankie, Daniel. Dié veertjie van jou af steek ek ingenome in my hoed!
‘n Hartroerende gedig van voelbare verlies.
Dankie, Paula. Ek waardeer die terugvoering.
Ontroerend en meevoerend, Bernard. Manjifieke slot!