brief onversend
aan Ruan Fourie (1994–2026)
jy ’t somtyds laat by Skryfkunslesse opgedaag
selfs kaalvoet somers
jou tjellokoffer staangemaak waar jy ’n leë klaskamerhoek
kon vind donker oë vol ekskuus gewys
na die dosent vanuit jou donker baard- en haredos
waarvan die krullepunte blond wou skyn
hopie biblioteekboeke in ’n elmboog
ingeskuifel by ’n lessenaarbank
waar vriendinne plek vir jou gehou het
jou kop gedraai na wie ook al oor versemaak
aan ’t krys of kwetter was
slegs as direk versoek ’n eiertjie in die geruk-
en-plukte meningnes gelê
luister lees was liefs jou bydraes tot die gesprek
in opdragskryfwerk sou daar egter dinge uitbroei
’n swerm jye
vlerke aan ’t spreie
na woordeoorde oweral
ywerig om jou “uit iewers los te dig tot hier”
só het jy laat val in ’n ope brief aan Dorian Gray
as bundel gekoevert
poste restante Heenkome
toe skrams gelees beland jou “portret in letters en bloed”
by ’n uithoek
Heengaan
jou strykstok hoe ook laat nou stiltesnare sidder
op jou sitplek by die muses
’n verlate boek
© Bernard Odendaal, 2026

Ek waardeer die opmerkings, Joan en Johan. Die skryf van die “brief” verlig egter kwalik die ontsteltenisbelewing.
Erg treffend en roerend Bernard.
Dankie, René.
Dankie vir hierdie besonderse lykdig versend as ‘n brief. Onversend, dog nou versend.
Roerend, Bernard dankie.