Om te laat gaan
Dit was háár huis.
Haar veilige plek
waar sy vir vriende en familie
haar tafel met fyn porselein kon dek.
Nou staan daar ʼn bord
in die voortuin:
VERKOOP.
Wanneer sy die laaste keer
by die deur uitloop
sak die son.
In die skemer
draai sy vir ʼn oomblik om
soos ʼn kind
wat reik na ʼn ballon
terwyl dit wegdryf
in die wind.
Haar hande
wéét
in die laat los
lê ʼn nuwe dag
wat kan breek…
© Andrea Sieberhagen, 2026
