Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
9 April 2026

Joan Hambidge. Ina Gräbe en TT Cloete

 

I

As digter lees die uwe ywerig teoretiese studies en veral taalkundige boeke. Ina Wolfaardt-Gräbe, briljante teoretikus se studie uit 1984. Sintaksis in die poësie/Syntax in poetry, haar doktorale proefskrif is al voos gelees. En hier het die uwe wenke vir gedigte gekry. Wat jy moet uitlaat, suggereer of herhaal. Soos Henning Snyman, die groot semantikus, word ‘n gedig op verrassende maniere ontleed.

Ina Wolfaardt-Gräbe is mede-samesteller van die bundel vir Cloete.

Met die digter praat ‘n bundel opstelle en gedigte ter huldiging van Cloete, saamgestel uit uitgawes van die Tydskrif vir Geesteswetenskappe (Jaargang 49 (4): Desember 2009 en Jaargang 55 (2): Junie 2015), onder die kundige redaksie van Bernard Odendaal, Hein Viljoen en Ina Wolfaardt-Gräbe bevat ook gedigte van digters vir en oor Cloete.

Haar het ek meegemaak op vele internasionale kongresse en veral die ICLA-kongres in Rio de Janeiro was ‘n hoogtepunt. Ons verken die stad per taxi en besoek die belangrikste bakens.

Die katedraal van St Sebastiaan.

Die beeld van Christus die Verlosser, ook beskou as ‘n sewende wonder van die wêreld.

https://en.wikipedia.org/wiki/Christ_the_Redeemer_(statue)  Besoek 6 April 2026

Ek begin ‘n gedig skryf oor die Christus die Verlosser en wys die gedig op die bus (in beweging) vir Ina wat sinvolle kommentaar lewer.

 

Christus in Rio

 

Op elke advertensie oor Rio

op die Corcovado, Hý –

Christus die Verlosser:

glo die hoogste Art Deco-gebou

op aarde; selfs verklaar tot wonder.

Ek vergaap my aan sy

uitgestrekte, verlossende arms.

“O, kom almal wat wil snapshot,

wil sê ek was ook dáár.”

‘n Yank bulder

aan sy katoolse vrou:

”Ons was ook hier!”

‘n Atleet, uit Kanada of so,

slaan ‘n kruis

toe hy die 200 trappe ligvoets

oorwin en modder op sy opponent

se blinde oog spoeg.

Die spirituele oomblik

gedigitaliseer, vermeerder soos brode,

toe daar visse soos reën oor ons sak.

(uit: Vuurwiel, 2009).

 

Ina is altyd regverdig en wanneer daar ‘n letterkundige polemiek woed en kyk gedistansieerd na alles. Sy sien al die punte raak, maar wys altyd op die belangrike werk wat al gelewer is. Haar werk by SAVAL is steeds ‘n baken vir alle literatuurwetenskaplikes, nes haar werk as voormalige redakteur van Tydskrif vir Geesteswetenskappe.

 

II

Met nougesette aandag lees sy die volgende gedig van Cloete en sy plaas dit ook binne sy oeuvre.

 

stilhuil

1 stilhuil knyp die gapermosseloë tóé, knyp

2 vuur by die stram spleet van die ooglede uit. stilhuil ruk

3 ‘n droë wurg af deur die kramp van jou sluk

4 af in jou strot. die huid huil luid in stilhuil. dit gryp

5 jou onder die gesakte ken aan die keel.

6 dit swel die lippe tot ‘n bloederige dik

7 roes. dit kyk die bome, die telegraafpale skeel.

8 stilhuil suig ‘n brandende droë snik

9 binnetoe, dit laat die ooghare

10 soos die nat rooigras van die bulte swaar

11 grond toe hang, voel die toevou van ‘n donker hand

12 se palm en vingers om die son se swart brand.

13 in stilhuil huil die hele liggaam

14 bloederig saamgetrek in die neuspunt

15 stilhuil laat in die boom van jou are

16 deur jou lyf ragfyn strak

17 staande ‘n gloeiende gestolde weerlig vertak.

(Die ander een is ek, pp.100-101)

 

Hierdie reël is sentraal:

 

4 die huid huil luid in stilhuil

 

Sy erken ook in ‘n voetnoot dat sy met die digter in gesprek getree het oor hierdie gedig en sy bely haar skatpligtigheid aan hom as mentor.

Met ‘n lanset lees sy hierdie gedig met sy parallelle kwalifiserende preposisionele konstruksies. Daar is eweneens ‘n opeenstapeling van kwalifikasies (ragfyn, strak, staande) voordat dit in die klimaks verwoord word in die objek:

17 gloeiende gestolde weerlig

(193 -194).

Die uitwys van die chiasme is tersaaklik. Die normale sintaktiese volgorde, beweer sy tereg, word omgekeer. Die chiasme is immer ‘n stylfiguur waarin woorde of grammatikale konstruksies in omgekeer word in herhaling. Vir Cuddon is hierdie stylfiguur gekoppel aan die anti-tese.

Verder kyk sy na tipografie, klank en ritme.

Besonders is haar uitwys dat huil luid of sag kan wees (202). En veral: “Stilte is nie noodwendig geluidloos nie en kan, soos in “Huis oordag” uit Jukstaposisie so klink:
skrikgewek / aardebewend in die dak in die stene en die fondament kraak

Huil en lag is bekende temas in Cloete se digkuns. In ‘n e-pos van Cloete aan professor Wolfaardt-Gräbe bely hy dat hy hierdie gedig as ‘n kerngedig in sy oeuvre beskou, “want die huilfenomeen soos lag, boei my van altyd af. Daarom het ek Van Melle se verhaal ‘Oom Karel leer om te huil’ in Die waarheid gelieg omskryf tot ‘Oom Karel leer om te lag’ ” (datum 14 April 2015).

En Hennie Aucamp, daardie meester van die kortverhaal, was gaande oor Cloete se kortverhale, soos hy skryf in sy brieweboek op bladsy 161 van Mits dese wil ek vir jou sê, in ‘n brief aan Elize Botha.  Hy loof haar flapteks oor Identikit waar sy verwys na sy gedigte as “leergedigte” en die grense tussen tradisionele tekstipes word afgebreek: essay, anekdote, verhaal, beskouing …

En dit is ook volgens Botha wysheidsliteratuur.

En die ambivalensie van die keuse tussen goed en kwaad.

Die digkuns het Cloete ons geleer is die waarheid gelieg.

 

III

Toevallig dan ‘n antwoord (implisiet) van Bernard Odendaal op 5 April 2026 , ook ‘n Cloete-kenner, wat inspeel op “stilhuil”. Die lyfseer aktiveer hartseer in hierdie lykdig geplaas teen die politieke agtergrond van ons bestaan met migrasie van kinders na die buiteland en die einde van ‘n era:

 

Goed gaan

Ouboet Willem, oudparlementariër

 

Op die afdraandpaadjie hinkepink ’n mens

eers, het jy skalkserig gesê;

dan leer jy rystoelrats wees, rem-rem

stuur om heelhuids onder te kan kom … tot sit of lê.

G’n brandewyn om welgedaan te skink,

g’n selwers uit- of platgetrekte vis- of vleisstuk

om op die kole daar te gooi nie! Soms, droëbek

maar idioomgerat soos altyd, het jy laat val: “G’n verkiesingspaal

te haal meer nie. G’n kloutjies taal en volk

by nasie-ore nog te bring nie. Eet maar op jou Boerkindhoed!”

 

Sou verpleërs egter na jou welstand vra, kom dit volstrek:

“Bo verdienste goed!”

 

Toe begin die hinkepinkery in jou onthou en dink.

Die kort-kort skuinslê in die hospitaal –

hartslagmonitor

die piepstem aftel-tolk.

Tot jy “bo verdienste”, selfs

“genade Gods”, ’n keer gefluister

kry nog. Blou oë oop

op my. Skor

vertel

hoe jy. “Oor berese land-”.

“Skappe swewend”. Droom

jy land mooitjies. By

die dennelanings. Van ons grootwordplaas.

Hoe jy asem. Haal

daar. Diep. En uitblaas.

 

Toe ons later – jou oorsese kinders, ingevlieg, daarby –

ter aarde jou bestel,

is ek takwerklangs van uitheemse boom tot -boom

met jou aan ’t klim, voëlneste soos vanouds aan ’t tel;

gaan sit ek vroegaand, lyfseer teen ’n stam teruggesak,

met jou en staar hoe sterre nestel waar die swartlooftrans vertak.

https://versindaba.co.za/2026/04/05/bernard-odendaal-goed-gaan/#comment-420598  Besoek 8 April 2026

 

En van my uit Swart Rapuis (bundel-in-wording):

 

Tenor en vehicle

Ina Gräbe

 

Vanoggend soek ek raad

by jou, kenner van die metafoor.

‘n Botsing op Kloofnek, gistermiddag

daar waar die paaie kruis berg op;

alle verkeer uit die stad geblokkeer

met ‘n lorrie botsend teen ‘n muur,

‘n motor ónderstebo. Laat-

middag vele ambulanse,

selfs die brandweer se sirenes

loeiend klankmatig skril hieroor.

Parallelismes, koppeling, selfs

klankherhaling in hierdie gedig,

waar die tenor en vehicle nog

fokusekspressie mis. Die digter

bly steeds wonder: had die vehicle

(lorrie) geen rem of was die tenor

(die ongeluk) ónafwendbaar

‘n golden shot? Of die dood

‘n ongeluk soekend na

‘n plek om te gebeur?

 

© Joan Hambidge

 

 

Joan Hambidge

Kaapstad

8 April 2026

 

Bronne:

Aucamp, Hennie.  2013. Mits dese wil ek vir jou sê. Hermanus: Hemel & see uitgewers.

Cloete, T.T. 1982.  Jukstaposisie. Kaapstad: Tafelberg.

– 1984. Die waarheid gelieg. Kaapstad: Tafelberg.

– 1997. Identikit. Kaapstad: Tafelberg.

– 2013. Die ander een is ek. Pooka: Plettenbergbaai.

Cuddon, J.A.  2013. A Dictionary of Literary Terms and Literary Theory. Londen: Penguin.

 

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Joan Hambidge. Noodluik
Joan Hambidge. Pochade →

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. glasman
  • Anne-Marie Bartie. fake news
  • Anne-Marie Bartie. visum
  • Margaret Cordier. Gestroop
  • Willem de Swyger. bokwagter

Nuutste bydraes

  • Joan Hambidge. Sheila Cussons en Dominique Botha: Die ander waarheid
  • Nuwe Publikasie. Ilse van Staden: Metamorfose
  • Digtersprofiel: Bernard Odendaal
  • Gerard Scharn. het was verschrikkelijk
  • Nuwe Bundel. Margaret Cordier-Biermann: Spiraal

Nuutste kommentaar

  1. Marieta McGrath on Gerrit Theron. Die vuurhoutjie31 August 2026

    Ek hou hiervan.

  2. Johan Coetzee on Joan Hambidge. Om die hemel te dekonstrueer30 August 2026

    Die hemel... of hel is opgedollie.

  3. DIETLOFF VAN DER BERG on Resensie: “In memoriam, Johann de Lange” (Johann Lodewyk Marais en Joan Hambidge)28 August 2026

    Soekie, ja, ek stemsaam. Van 'Boondoks' tot 'Gelykenis' is daar net soveel wat mens tref en weer wil herlees.

  4. Soekie Vogel on Resensie: “In memoriam, Johann de Lange” (Johann Lodewyk Marais en Joan Hambidge)27 August 2026

    Hambidge het haarself oortref in haar digsiklus oor De Lange. Aangrypend.

  5. Daniel Hugo on Ilse van Staden. Die Dans25 August 2026

    'n Wonderlike huldeblyk aan die digter se moeder en Van Wyk Louw.

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d