Pochade
Die soektog na Wallace Stevens
se blou versamelboek neem my terug
na daardie winter in Conn., New Haven
Tóé bewimpel deur dekonstruksie
se tekstuele truuks, ‘n Yale studiereis
onderneem tot by die hermeneutiese mafia.
Waar skuil hierdie blou boek nou?
Daardie uitwaartse reis glip nou binnetoe:
‘n migrasie stil soos sneeu in ‘n yslandskap.
My “ekke” gesprokkel soos by Ivo Michiels
in sy Joernaal brut (flagrant en eerlik); by my
ingehoue, gedronge soos ‘n wintersaand
in New Haven, toe my eerste gedigte in sneeuval
my oorval het en wat altyd onvermeld sal bly,
dat die hart-se-skrif altyd dubbelslagtig bly klop
aan die deur van die groot versmakers,
die moderniste soos William Carlos Williams
en ja veral Eliot en Stevens, dié stiliste uitsonderlik.
Dit veral geleer in daardie koue wintermaande
(in my pa se jas) toe ek my eerste portrette rig
in my briewe blou aan my moeder so verdrietig.
“Onleesbaar, onleesbaar, jou briewe”, het sy gekla.
Ina R sou ook later meen my handskrif is kriebelig.
Stevens se skrif was vol krabbels en inkmerke.
Maar waar kruip daardie blou versameling tog weg?
Daar waar geskryf word oor hoe ‘n gedig driftig
jou oorval there is no sound there
except of moving water …
© Joan Hambidge, 2026
