Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
13 April 2026

Johann Lodewyk Marais. Natuur, omgewing en klimaat

 

I

 My betrokkenheid by drie versamelbundels wat die omgewing as sentrale tema ondersoek, vra om ’n breër agtergrond en perspektief. Twee van hierdie bundels bring boonop Nederlandstalige digters uit die Lae Lande in gesprek met Afrikaanse stemme, wat die dialoog oor landskap en ekologie in die twee verwante tale verdiep (Marais en Zuiderent, 1997, en Marais en Maessen, 2026). Die bundels het oor ’n tydsbestek van meer as drie dekades ontstaan, elk in ’n ander era met sy eie uitdagings en veranderende sosiokulturele konteks. Só word nie alleen die tema nie, maar ook die rol en posisie van die digter telkens nuut belig.

 

Die kulturele boikot wat Nederland in 1979 as gevolg van apartheid teen Suid-Afrika ingestel het, het toenemend die Afrikaanse leser se toegang tot die Nederlandstalige kultuur- en kennisveld ingeperk. Binne ’n diskoers van kulturele “selfstandigheid” het Nederlands geleidelik uit die Suid-Afrikaanse openbare domein verdwyn – onder meer op die radio – terwyl Nederlandstalige literatuur in ’n groot mate uit die boekemark en die onderwysstelsel verwyder is. Die proses van bilaterale vervreemding tussen Suid-Afrika en Nederland, wat reeds in die periode rondom die Tweede Wêreldoorlog sy aanvang geneem het, is hiermee finaal bevestig. ’n Parallelle dinamiek het terselfdertyd ten opsigte van Afrikaans in die Lae Lande plaasgevind.

 

In die 1980’s en vroeë 1990’s was ek deel van ’n studentegenerasie wat met moeite bande met die Nederlandstalige wêreld onderhou het, hoofsaaklik deur beperkte geleenthede om in Nederland of België te studeer. Terselfdertyd het Nederlandstalige boeke al hoe minder beskikbaar in Suid-Afrika geraak. Eers in 1994 ná die demokratiese verkiesing in Suid-Afrika het talle digters uit die verskillende literêre tradisies begin om werklik in gesprek te tree met tydgenootlike digters en akademici. Sedertdien het ’n geselekteerde groep Afrikaanse digters die kans gekry om Nederland en België te besoek en eerstehands kennis te maak met die omvang van hulle boekebedryf. Verskeie publikasies het intussen ’n belangrike rol gespeel in die vestiging en versterking van bande tussen skrywers, akademici en lesers in Suid-Afrika, Nederland en België.

 

II

Groen: Gedigte oor die omgewing (HAUM-Literêr), wat ek in 1990 saamgestel het, was ’n versamelbundel waartoe verskeie Afrikaanse digters bygedra het. Die bundel bring 59 gedigte van uiteenlopende stemme bymekaar, wat hulle almal oor die natuur en ekologiese kwessies uitspreek. In die versameling is die fokus geplaas op die verhouding tussen mens en omgewing, en die digters se werk saamgevoeg om ’n breër gesprek oor ekologie en bewaring te voer. Só gesien, is die bundel ’n kollektiewe dokument van omgewingsbewustheid in die Afrikaanse poësie van daardie tyd, waar elke digter se unieke perspektief bydra tot ’n groter geheel.

 

In 1997 het ek, saam met dr. Ad Zuiderent van die Vrije Universiteit in Amsterdam, die bundel Ons klein en silwerige planeet: Afrikaanse, Nederlandse en Vlaamse gedigte oor die omgewing (J.L. van Schaik Akademies) die lig laat sien. Hierdie publikasie het ’n unieke samekoms van 70 vooraanstaande digters uit die Afrikaanse en Nederlandstalige literêre tradisies verteenwoordig, wat elk ’n onvertaalde gedig oor die ekologiese vraagstukke van die betrokke era in een gesamentlike bundel aangebied het. Direk ná die eerste verskyning is 300 eksemplare in die Lae Lande versprei, wat die bundel se invloed oor taal- en landsgrense heen bevestig het.

 

Die werk het in 2017 sy 18de druk beleef en is intussen by verskeie Suid-Afrikaanse universiteite, waaronder Fort Hare, Rhodes en Unisa, voorgeskryf. Daarmee het dit ’n rol gespeel in die akademiese kanonisering van omgewingsgerigte literatuur en dit kan as een van die vroeë Afrikaanse en Nederlandstalige bydraes tot die ontwikkeling van ekokritiek in die Suid-Afrikaanse en internasionale konteks beskou word.

 

Tydens die samestelling van die bundel is die tema van die “omgewing” ná die isolasie en uitsluiting wat apartheid veroorsaak het, spontaan as ’n geskikte en samebindende onderwerp gekies. Hierdie keuse het nie alleen digters uit uiteenlopende letterkundes die geleentheid gebied om saam te werk nie, maar het ook ’n groter bewustheid van ander sosiale en kulturele vraagstukke bevorder wat in die literêre gesprek na vore gekom het.

 

Sedert die 1960’s was die bedreiging van die omgewing en die bose impak van die mens op die omgewing internasionaal ’n aktuele kwessie en dus ’n voor die hand liggende fokus vir só ’n projek. Globale omgewingsvraagstukke – soos die uitputting van natuurlike hulpbronne, besoedeling, ontbossing en die verlies aan biodiversiteit – het sedertdien al hoe dringender geword. Onbeheerde menslike aktiwiteite het tot ongekende klimaatsverandering gelei, wat nie net onsekerheid oor die mens se voortbestaan meebring nie, maar ook die bedreiging en uitwissing van ander lewensvorme versnel.

 

In Junie 1997 het ek aan die Rijksuniversiteit Gent In België ’n kursus oor die taal en kultuur van Nederland en Vlaandere gevolg. Die kursus, op inisiatief van die Nederlandse Taalunie, het Suid-Afrikaanse Neerlandici ná jare van isolasie die kans gebied om weer met die Lae Lande kennis te maak en verdere opleiding in taal en kultuur te ontvang. Tydens ’n besoek aan die Poëziecentrum in Gent het ek die idee gekry dat ’n Ernst van Heerden-versameling digbundels daar gevestig moes word. Met die ondersteuning van verskeie Suid-Afrikaanse akademici, die Algemeen Nederlands Verbond, die Orde van den Prince, die Vlaamse Instituut voor Zuidelijk Afrika (VIZA) en die Gentse tak van die Marnixring is ’n versameling van 609 bundels na België geneem. Later is die versameling met die hulp van die PUK-Kanselierstrust van die Noordwes-Universiteit en uitgewers verder uitgebrei.

 

III

Sedert die verskyning van die bundels in 1990 en 1997 het die sosiopolitieke en -kulturele landskap waarin die gedigte ontstaan het, saam met die ekologiese uitdagings wat die aarde trotseer, ingrypend en onafwendbaar verander.

 

Rondom 1994 was Suid-Afrika gewikkel in unieke ekologiese, kulturele en politieke uitdagings, wat die literatuur beïnvloed het. Die land se oorgang na demokrasie het hoop en versoening gebring, maar ook die spanning van ongelykheid en geweld. Ekologies het verstedeliking, grondhervorming en die druk op natuurlike hulpbronne ’n agtergrond gevorm vir literêre werke wat die verhouding tussen mens en natuur ondersoek het.

 

Sedert die 1970’s het wetenskaplikes en beleidsmakers toenemend begin besef dat kweekhuisgasse ’n groot rol speel in die verandering van die aarde se klimaat. In die daaropvolgende dekades, veral die 1980’s en 1990’s, het die debat oor die omvang van hierdie probleem al hoe meer momentum gekry. ’n Belangrike mylpaal was die aanvaarding van die Kyoto-protokol in 1997, wat in 2005 van krag geword het en vir die eerste keer bindende doelwitte gestel het om die koolstofvrystellings van geïndustrialiseerde lande te verminder. Teen die 2010’s het die idee van ’n wêreldwye klimaatkrisis gevestig geraak, en regerings, navorsers en organisasies het dit begin beskou as ’n ernstige bedreiging wat uiterste weerstoestande, stygende seevlakke en die verlies aan biodiversiteit kan veroorsaak. Die Globale Suide is in hierdie verband besonder kwesbaar, aangesien lande in dié streek dikwels minder middele het om die gevolge van klimaatsverandering te hanteer.

 

Die Verenigde Nasies definieer die klimaatsverandering soos volg:

 

Climate change refers to long-term shifts in temperatures and weather patterns. Such shifts can be natural, due to changes in the sun’s activity or large volcanic eruptions. But since the 1800s, human activities have been the main driver of climate change, primarily due to the burning of fossil fuels like coal, oil and gas.

Burning fossil fuels generates greenhouse gas emissions that act like a blanket wrapped around the Earth, trapping the sun’s heat and raising temperatures.

The main greenhouse gases that are causing climate change include carbon dioxide and methane. These come from using gasoline for driving a car or coal for heating a building, for example. Clearing land and cutting down forests can also release carbon dioxide. Agriculture, oil and gas operations are major sources of methane emissions. Energy, industry, transport, buildings, agriculture and land use are among the main sectors causing greenhouse gases. (Kyk https://www.un.org/en/climatechange/what-is-climate-change.)

 

In Groen, wat tydens die Groen Kongres van die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing in 1990 bekendgestel is, is erkenning verleen aan die groeiende besorgdheid oor die bedreiging wat industrialisasie, hebsug, onkunde en ongeërgdheid vir die aarde en sy uiteenlopende vorme van natuurlewe inhou. Hierdie omgewingsuitdagings het onder meer gemanifesteer in die afname van die osoonlaag, die voortgesette onwettige jagpraktyke, die kommersiële handel in dierprodukte, asook die intensiewe uitbuiting van plantegroei in ekosisteme soos die Amasone-reënwoud. Uit die gedigte en akademiese belangstelling het daar ’n dinamiek ontstaan binne ’n konteks waar sekere kringe in Suid-Afrika nog huiwerig was om ’n verband tussen die omgewing en die geesteswetenskappe te erken, en waar belangstelling in die omgewing dikwels geringgeskat is.

 

Die veranderende betekenis van “natuur”, “landskap” en “omgewing” weerspieël die komplekse verhouding tussen mens en aarde. In die bundel Ons klein en silwerige planeet word dit duidelik dat hierdie begrippe nie staties is nie, maar voortdurend hervertolk word na gelang van historiese, geografiese en kulturele kontekste. Waar “natuur” eens as ’n selfstandige, ongerepte domein beskou is, het die menslike voetspoor dit gaandeweg verander en selfs vervaag en beskadig.

 

In Nederland het die idee van “natuur” byna geheel en al verdwyn. Die landskap is daar ’n mensgemaakte konstruksie, ’n ruimte wat deur eeue van landbou, verstedeliking en waterbeheer gevorm is. Die omgewing word dus nie meer as ’n onafhanklike natuur beskou nie, maar as ’n kultuurlandskap waarin menslike ingryping die norm is. Suid-Afrika bied ’n skerp kontras: Hier bestaan steeds uitgestrekte bewaringsgebiede en ’n ryk biodiversiteit wat die idee van ’n “ongerepte natuur” lewendig hou. Hierdie verskil beklemtoon hoe geografiese en historiese faktore die betekenis van die natuurbegrip beïnvloed.

 

Die literêre uitbeelding van die natuur het eweneens ’n merkwaardige ontwikkeling ondergaan. Vroeë Afrikaanse skrywers en skilders het die natuur dikwels sentraal gestel, as ’n bron van inspirasie en ’n ruimte van sublieme ervaring. Met die opkoms van die Sestigers het die fokus egter verskuif: Die natuur is gemarginaliseer en die menslike bestaan, sosiale realiteite en politieke kwessies het die literêre toneel oorheers. Tog het die groeiende omgewingsbewustheid vanaf die laat 20ste eeu ’n herwaardering meegebring. Skrywers het weer begin om die natuur en omgewing as betekenisvolle temas te ondersoek, nie net esteties nie, maar ook eties en ekologies.

 

Die begrippe “natuur”, “landskap” en “omgewing” is nie bloot beskrywings van die fisiese wêreld nie, maar kulturele konstrukte wat deur menslike invloed, geografiese realiteite en literêre tradisies gevorm word. Die verskuiwings in betekenis en uitbeelding weerspieël die groeiende besef dat die mens nie buite die natuur staan nie, maar dit voortdurend vorm en herdefinieer. Daar bestaan dus ’n duidelike wisselwerking tussen mens en natuur.

 

In Ons klein en silwerige planeet – ’n titel ontleen aan ’n gedig van N.P. van Wyk Louw uit Nuwe verse (1954) – word sy hoorspel Berei in die woestyn: ’n Sinne- en wa-spel (1968) uitgesonder. Hierdie werk plaas gronderosie en die verlies van bogrond, wat spruit uit die verwaarlosing van die aarde, sentraal as tema. Louw verdien ook erkenning vir ’n seminale, ongetitelde gedig (nr. XXXVIII in Tristia en ander verse, voorspele en vlugte 1950–1957 [1962]), waarin omgewingsvraagstukke, en veral klimaatsverandering, met verstommende diepgang aan die orde kom:

 

sal ons u hele santekraam, Heer:

u sonlig met hoogteson, vogtigheid met ’n duim-spuit,

en hitte met sentrale verwarming

gaan na-aap, parallel met ú Wil loop:

so ongeveer gelyk-bly, dieselfde teminste beréik

as wat U (sigbaar) (vir ons) aan die doen is?

Kéér ons! Laat ons nie doen wat óns kan nie!

 

Die gedigte in Tristia het ontstaan tydens N.P. van Wyk Louw se verblyf in Amsterdam, waar hy van 1950 tot 1958 as hoogleraar aan die Gemeentelijke Universiteit van Amsterdam (nou die Universiteit van Amsterdam) werksaam was. Hy het veral lesings aangebied in die Van Riebeeckhuis aan Keizersgracht 141, en ’n reeks lesings gelewer wat dikwels deur nagraadse studente uit Suid-Afrika bygewoon is. Die koue, vogtige klimaat van Amsterdam is weliswaar deur Louw dikwels as teneerdrukkend ervaar.

 

Die gedig bestaan uit sewe versreëls en open met ’n vraagsin. Die inhoud strek oor ses reëls en sluit af met twee bevelsinne, elk beklemtoon deur ’n uitroepteken. Die eerste reël begin opvallend met ’n kleinletter, wat die indruk skep dat die gedig ’n gesprek voortsit. Die versreëls wissel in lengte, en die gebruik van leestekens is merkbaar meer intens as in gewone prosa. Daarby val die herhalende s-klank sterk op en dra by tot die klankmatige effek van die gedig.

 

Die gedig neem die vorm van ’n gebed aan. Die spreker besin oor die maniere waarop die mens probeer om elemente van die klimaat – soos “sonlig”, “vogtigheid” en “hitte” – te beheer of selfs deur middel van kunsmatige hulpmiddels soos ’n “hoogteson”, ’n “duim-spuit” en “sentrale verhitting” te herskep. (Volgens die WAT is ’n “hoogteson” ’n bestralingstoestel wat die verspreiding van natuurlike lig in sekere omstandighede naboots. Dit dien as ’n algemene versterkingsmiddel of word gebruik vir die behandeling van bepaalde velsiektes.)

 

Die mens, verblind deur sy eie waan, word uitgebeeld as iemand wat met tegniese vernuf probeer om God na te boots – op sy vlak te beweeg en minstens te bereik wat Hy sigbaar aan die doen is. Die kommentaar tussen hakies wys daarop dat die mens slegs gedeeltelik kan sien, maar tog meen dat alles wat geskape is aan hom behoort (“vir ons”). Die implikasie is egter duidelik: Die skepping en die instandhouding van die aarde is nie uitsluitlik ter wille van die mens nie, en daarom het die mens ook nie onbeperkte eienaarskap daaroor nie.

 

Die invloedryke Duitse denker Martin Heidegger (1889–1976) se beskouing oor die mens en sy verhouding tot tegnologie het ná die Tweede Wêreldoorlog al hoe meer ’n pessimistiese toon aangeneem. Hy het die mens se oordrewe tegniese vermoëns en gebrek aan wysheid as ’n bron van verwaandheid beskou. In Louw se gedig, wat ’n duidelike Europese atmosfeer oproep, waarsku die spreker dat die mens nie sy grense moet oorskry of homself as God moet verhef nie. Daarmee sluit hy onmiskenbaar aan by die denke van sy Duitse tydgenoot (kyk Marais, 2006).

 

Sedert die laat 20ste eeu het die wêreldwye kommer oor aardverwarming sterk toegeneem, met wetenskaplike verslae wat die bedreiging van klimaatsverandering duidelik uitgelig het. Hierdie bewustheid het hand oor hand onder jongmense gegroei, aangesien hulle die toekoms dra en die gevolge van ’n veranderende klimaat direk gaan ervaar.

 

Greta Thunberg het in 2018 deur middel van haar skoolstaking ’n vorm van simboliese protes geïnisieer wat haar posisie as ’n prominente stem binne die jeugklimaatsbeweging gevestig en ’n transnasionale mobilisering van jongmense tot gevolg gehad het. Haar daad het miljoene jongmense aangespoor om aan protesaksies deel te neem en om politieke leiers sowel as internasionale forums tot groter verantwoordelikheid te roep. Hierdie momentum vind ook neerslag in hierdie bundel, waar die betrokkenheid van jongmense betekenisvol is omdat dit die literêre ruimte ’n verlengstuk van hul aktivisme maak. Só word die jeug nie net as deelnemers aan betogings gesien nie, maar ook as skrywers van die narratief wat die wêreld se gesprek oor die klimaatskrisis en klimaatsgeregtigheid vorm (kyk Thunberg, 2019).

 

Ek beeld Greta Thunberg in my digbundel Sirkelgang (2023) uit as ’n embleem van klimaatsaktivisme. In gedigte soos “Greta Thunberg” en “Retoriek” word sy voorgestel as ’n kritiese stem wat wêreldleiers se passiwiteit uitdaag. Ek beklemtoon haar rol deur verwysings na die bekende plakkaat “Skolstrejk för klimatet” en haar skerp kritiek op die leë retoriese beloftes van politieke retoriek rondom omgewingsvernietiging.

 

Retoriek

Na Greta Thunberg        

 

Meestal bly dit by bla-bla-bla

oor die smelt van die poolstreke,

bla-bla-bla oor verbrande kool,

bla-bla-bla oor gespilde olie,

bla-bla-bla oor die brandarmes,

bla-bla-bla oor spesies wat sterf,

bla-bla-bla oor hierdie aarde.

 

Indien daar ooit twyfel bestaan het oor die mate waarin Afrikaanse digters bewus is van klimaatsverandering en die mens se rol daarin, veral ten opsigte van literatuur, geskiedenis en politiek (kyk Ghosh, 2017), bied die nuutste gedigte onteenseglike getuienis van hierdie werklikheid (Marais en Maessen, 2026). Die poësie dra die spore van kommer, ontnugtering en ’n rustelose betrokkenheid waarmee die huidige geslag die krisis ervaar. Die perspektiewe is uiteenlopend, soms selfs teenstrydig, maar die diepgewortelde besorgdheid oor die aarde kom sterker na vore as ooit tevore in die Afrikaanse digkuns. Só word hierdie as deel van ons voortgaande gesprek ’n uitnodiging tot meerdere stemme, insette en besinning.

 

Bibliografie

Ghosh, Amitav. 2017. The Great Derangement: Climate Change and the

Unthinkable. Chicago and London: The University of Chicago Press.

Louw, N.P. van Wyk. 1962. Tristia en ander verse, voorspele en vlugte 1950–

  1. 1957. Kaapstad: Human & Rousseau.

Louw, N.P. van Wyk. 1968. Berei in die woestyn: ’n Sinne- en wa-spel. Kaapstad:

Human & Rousseau.

Marais, Johann Lodewyk (samest.). 1990. Groen: Gedigte oor die omgewing.

Pretoria: HAUM-Literêr

Marais, Johann Lodewyk. 2006. Leketaal: nr. XXXVIII in Tristia en ander verse,

voorspele en vlugte 1950–1957. Beeld, 6 Junie.

Marais, Johann Lodewyk. 2023. Sirkelgang.. Kaapstad: Naledi.

Marais, Johann Lodewyk en Francine Maessen (samests.). 2026. Klimaatboek: Afrikaanse en Nederlandstalige gedigte. (Ongepubliseerde dokument)

Marais, Johann Lodewyk en Ad Zuiderent (samests.). 1997. Ons klein en silwerige

planeet: Afrikaanse, Nederlandse en Vlaamse gedigte oor die omgewing. Pretoria: J.L. van Schaik Akademies.

Thunberg, Gretha. 2019. No One is too Small to Make a Difference. Stockholm:

Penguin Books.

 

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Johann Lodewyk Marais. Rooibok
Johann Lodewyk Marais. Gewone duiker →

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. verskille
  • Anne-Marie Bartie. vlinderslag
  • Hendrik J. Botha. Teen sononder
  • Anne-Marie Bartie. bewys van betaling
  • Marius Crous. Twee mombakkiesliedjies

Nuutste bydraes

  • Digtersprofiel: Johan Myburg
  • Joan Hambidge. Piromaan
  • Joan Hambidge. My geliefde voormalig
  • Jasmyn Beetge. Delikaat
  • Hennie Maartens. oorskot

Nuutste kommentaar

  1. Margaret Cordier-Biermann on Margaret Cordier-Biermann. Vrye teuels16 July 2026

    Dankie, Andre — jy verf gedigte en ons ry nou tyd en woorde bloots.

  2. Andre Roothman on Margaret Cordier-Biermann. Vrye teuels15 July 2026

    Uiters gemaklik op die literere verteringsstelsel. tyd die tiran het sy deugde.

  3. Toekie on C Fritze. Boodskap aan die see14 July 2026

    Pragtig geskryf. Het dit baie geniet.

  4. Bernard Odendaal on Daniel Hugo. Wat ’n vers kan verraai en vermag13 July 2026

    Die onderbenoeming - konkreter: die min woorde - roep treffend ‘n ysliker en aaklige “werklikheid” op.

  5. Karin on C Fritze. Boodskap aan die see13 July 2026

    Dié gedig praat met my hart en met my siel. Ek verlang na die klank en die reuk van die…

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d