Rooibok
Aspyceros melanpus
Die rooibok op die oorkantste oewer
van die rivier wei in die vingergras
tussen die fluitjiesriet en yl bome.
Op die dek van die parkrestaurant
sien die Wildtuingangers en toeriste
hoe ’n luiperd agter ’n wildevy
verskyn en al langs die sandbank afstap
in die rigting van die ram, onbewus
van die dier wat in die ruigte verskyn.
’n Geskuifel en ’n rondtrap gaan deur
die mense met verkykers op die houtdek
en twee, drie beduie na die gelate bok
met sy egalige horings, diepbruin
en wit onderlyf waarna almal wys –
staan een en almal en kyk na die kill.
© Johann Lodewyk Marais, 2026
