Varanasi
begin die man sy oggend-tog uit die bed
sit sy bril op: middeljaar in die spieël geset
onder die kaal skugter volmaanmaag
verval dye bo sy knieë in walletjies vet
sou ek vóór breinselle soos rot aan wol knaag
self mag besluit – dit na die ander kant waag
sal ek my laaste togprogram van stapel stuur
soos dit ‘n ópgewonde reisiger behaag
op die Ganges op ‘n houtvlot sonder stuur
my liggaam in die hitte van ‘n geurige vuur
wat alle lewens uit my beendere versit
my wegneem na die ewigheid van duur
dat ek nooit weer voet aan wal sit
in dié land so droewe so wit
© Krige Visser, 2026
