Onse Mimi
In Oostenryk, so vertel jy,
lank lank gelede by ‘n viering
het jy altyd Heimwee vertolk
om jou verlange te temper.
Dit was by die Bothas gasvry
in Colbyn met wyn en vrolik-
heid vir Elize se vyftigste.
‘n Groot markiestent met
soveel bekendes. My geskenk
“Fifty is nifty”, ‘n laggende jy,
neffens ‘n vroue-ambassadeur,
Bettie Cilliers-Barnard, Jan
en geliefdes soos Verna Vels.
Ook Jack Hammer was daar,
want Afrikaners wás plesierig.
Nou is jy, soos hulle vort:
vra tog vir Elize of dit sestig
of vyftig was, dáárdie viering
wanneer jy haar sien, want
my hart skiet vol van heimwee
en my drome swem in my oë
toe ek vanoggend jou hoor sing
van mense wat kom en gaan …
© Joan Hambidge, 2026

Lieflik.