I
In 1934 debuteer hierdie digter met Die ryke dwaas waarvoor hy ook die Hertzogprys ontvang het.
‘n Enorme kenner van die kunste en ‘n belangrike vertaler wat vlot in Nederlands, Frans én Italiaans was.
As vertaler:
Flaubert, Gustave: Die legende van Julianus die Herbergsame. Kaapstad: Nasionale Pers, 1940.
Géraldy, Paul: Hélène. Kaapstad: Nasionale Pers, 1939.
Reidel, Marlene: Kasper se wêreldreis. Kaapstad: Tafelberg, 1960 (vertaal saam met Rosa Louw).
Shaw, George Bernard: Johanna die soldaat van God. Kaapstad: Nasionale Boekhandel, 1962.
As redakteur en samesteller:
Driesprong: ’n bloemlesing uit die gedigte van Celliers, Totius en Leipoldt. Kaapstad: Tafelberg, 1978.
Leipoldt, C Louis: Vyftig gedigte van C Louis Leipoldt. Kaapstad: Balkema; Nasionale Boekhandel, 1946, 1951, 1956, 1962.
Tussen die engtes: ’n Afrikaanse versameling ten behoewe van Nederlandse skrywers. Kaapstad: HAUM, 1940 (redakteur saam met DB Bosman en NP Van Wyk Louw)
Alles te lese op Litnet in Erika Terblanche se oorsig.
WEG Louw (1913–1980)
Erika Terblanche ATKV|LitNet-Skrywersalbum 2017-03-16
Louw was die broer van N.P. van Wyk Louw en die Johan-figuur in Hettie Smit se Sy kom met die sekelmaan.
Gepubliseer in 1937 en nou onlangs weer gelees met bepaald oordadige en steurende taal. Tog bly ‘n mens bewus van die spel tussen Maria en Marié en ‘n spanning tussen die briewe en dagboeke.
Die mémoire, so skryf Hennie Aucamp in sy brieweboek, gooi normale tydshantering omver. Dit vervleg verlede en hede op ‘n wyse wat grammatikaal verkeerd mag lyk maar wat sielkundig volkome juis is. Daar is maar een tydsvorm in die mémoire: emosionele tyd.
Opgeneem in Mits dese wil ek vir jou sê. Hermanus: Hemel & see uitgewers (2013: 128).
II
Sy werk as digter word vervolgens onder die loep geneem. Ek had die voorreg om sy klasse by te woon op Stellenbosch en sy kennis van die digkuns, musiek en opera was omvangryk.
Lucebert en Leopold het hy vir ons oopgemaak in my Honneursjaar.
Daar is gedigte van W.E.G. Louw wat ‘n mens nooit kan vergeet nie.
So klink “Avondmaal” en “Opstanding” uit “Die passie van ons Heer” in Adam en ander gedigte, Nasionale Boekhandel Bpk. in 1968.
Avondmaal
Daar was ‘n stilte in die oppersaal
toe Hy met sterk, verhewe hand Hom draai
en sê:”Die man wat My vannag verraai,
sit saam met My aan hierdie avondmaal …”
In twyfel het hulle daardie woord herhaal
en wis dat hulle vóór die hanekraai
soos blare van ‘n boom van hom sou waai …
Maar één was doodsbleek teen die lampestraal!
Toe het Hy brood geneem en God gedank,
dit met die hand gebreek en dit geseën:
die beker het hy boordevol gegooi
met wyn wat dartel was en vonkelrooi –
maar, hoog gehou, was in geen hand voorheen
ooit wyn so rooi, ooit aardse brood so blank!
*
Vir die moderne leser is die uitroeptekens dalk oorbodig, maar die vlot rymbeheer is besonders.
Die woord dartel het verskillende betekenisse. As b.nw. vrolik, lewendig, speels, uitgelate impliseer oorlewing.
Die leser wat die Bybel ken, sien hoe Louw die bekende gegewe verpak in ‘n sonnet.
Opstanding
Drie dae was daar duisternis . . . Alleen,
in diep gelatenheid, soos in die sand
‘n suiwer saad wat wag op son en reën,
het al Sy sterflikheid stil weggebrand:
die swaar en trae slakke van die vlees,
sy onrus, vrees, verwarringe en waan,
dat Hy, een met die Vader en die Gees,
verheerlik in die lig weer op kan staan.
Die wagte kon in daardie gloed nie kyk.
Die steen is afgewentel deur ‘n wind
wat uit vier hemelstreke op die aarde stryk
dat dit vergruisel is tot stof en grint,
en soos uit diepe duisternis ‘n vlam,
staan hoog en rank en smetteloos die Lam!
*
J.C. Kannemeyer in sy Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur (Band I) meen stof en grint is toutologies. Dit lyk na versvulling (Academica: 374).
Louw is ook die verwyt gemaak vir die “presieuse woordkeuse”, onder andere.
Maar Kannemeyer loof hom wel vir die aanskoulike of treffende slotbeelde.
Hy beskou “Avondmaal” as die geslaagdste “deur die besonder subtiele spel van die aa- en oo-vokale, versterk deur die kleurespel wat met die twee sleutelwoorde ‘brood’ en ‘wyn’ saamhang”.
Hier word Opperman se Digters van dertig (1953) betrek.
III
Met sy dood verskyn hierdie pragvers deur Daniel Hugo:
rondeel
vir W.E.G.L.
pynlik presies was hy altyd
maar die aand van sy afsterwe
is die polshorlosie met wekker
(hoe maklik hou die hart op tik)
stilweg gesteel van sy lyk:
en hoe sal hy betyds ontwaak
die oomblik as al die dooies
(soos ‘n dief kom die Heer een nag)
met slaap in hulle oë opkyk?
uit: Korte mette, Human & Rousseau, 1982.
Ook die klankspel en vormbeheer is opvallend.
By Hugo eindig die gedig met ‘n vraagstelling wat sy eie religieuse onsekerheid moontlik aktiveer.
By W.E.G. Louw is ‘n gelowige aan die woord.
Joan Hambidge
Kaapstad
28 April – 1 Mei 2026
