Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
1 May 2026

Joan Hambidge. W.E.G. Louw

 

I

In 1934 debuteer hierdie digter met Die ryke dwaas waarvoor hy ook die Hertzogprys ontvang het.

‘n Enorme kenner van die kunste en ‘n belangrike vertaler wat vlot in Nederlands, Frans én Italiaans was.

As vertaler:

Flaubert, Gustave: Die legende van Julianus die Herbergsame. Kaapstad: Nasionale Pers, 1940.

Géraldy, Paul: Hélène. Kaapstad: Nasionale Pers, 1939.

Reidel, Marlene: Kasper se wêreldreis. Kaapstad: Tafelberg, 1960 (vertaal saam met Rosa Louw).

Shaw, George Bernard: Johanna die soldaat van God. Kaapstad: Nasionale Boekhandel, 1962.

As redakteur en samesteller:

Driesprong: ’n bloemlesing uit die gedigte van Celliers, Totius en Leipoldt. Kaapstad: Tafelberg, 1978.

Leipoldt, C Louis: Vyftig gedigte van C Louis Leipoldt. Kaapstad: Balkema; Nasionale Boekhandel, 1946, 1951, 1956, 1962.

Tussen die engtes: ’n Afrikaanse versameling ten behoewe van Nederlandse skrywers. Kaapstad: HAUM, 1940 (redakteur saam met DB Bosman en NP Van Wyk Louw)

Alles te lese op Litnet in Erika Terblanche se oorsig.

WEG Louw (1913–1980)

Erika Terblanche ATKV|LitNet-Skrywersalbum 2017-03-16

Louw was die broer van N.P. van Wyk Louw en die Johan-figuur in Hettie Smit se Sy kom met die sekelmaan.

Gepubliseer in 1937 en nou onlangs weer gelees met bepaald oordadige en steurende taal. Tog bly ‘n mens bewus van die spel tussen Maria en Marié en ‘n spanning tussen die briewe en dagboeke.

Die mémoire, so skryf Hennie Aucamp in sy brieweboek, gooi normale tydshantering omver. Dit vervleg verlede en hede op ‘n wyse wat grammatikaal verkeerd mag lyk maar wat sielkundig volkome juis is. Daar is maar een tydsvorm in die mémoire: emosionele tyd.

Opgeneem in Mits dese wil ek vir jou sê. Hermanus: Hemel & see uitgewers (2013: 128).

 

 II

Sy werk as digter word vervolgens onder die loep geneem. Ek had die voorreg om sy klasse by te woon op Stellenbosch en sy kennis van die digkuns, musiek en opera was omvangryk.

Lucebert en Leopold het hy vir ons oopgemaak in my Honneursjaar.

Daar is gedigte van W.E.G. Louw wat ‘n mens nooit kan vergeet nie.

So klink “Avondmaal” en “Opstanding” uit “Die passie van ons Heer” in Adam en ander gedigte, Nasionale Boekhandel Bpk. in 1968.

 

Avondmaal

Daar was ‘n stilte in die oppersaal

toe Hy met sterk, verhewe hand Hom draai

en sê:”Die man wat My vannag verraai,

sit saam met My aan hierdie avondmaal …”

 

In twyfel het hulle daardie woord herhaal

en wis dat hulle vóór die hanekraai

soos blare van ‘n boom van hom sou waai …

Maar één was doodsbleek teen die lampestraal!

 

Toe het Hy brood geneem en God gedank,

dit met die hand gebreek en dit geseën:

die beker het hy boordevol gegooi

met wyn wat dartel was en vonkelrooi –

maar, hoog gehou, was in geen hand voorheen

ooit wyn so rooi, ooit aardse brood so blank!

*

Vir die moderne leser is die uitroeptekens dalk oorbodig, maar die vlot rymbeheer is besonders.

Die woord dartel het verskillende betekenisse. As b.nw. vrolik, lewendig, speels, uitgelate impliseer oorlewing.

Die leser wat die Bybel ken, sien hoe Louw die bekende gegewe verpak in ‘n sonnet.

 

Opstanding

 

Drie dae was daar duisternis . . .  Alleen,

in diep gelatenheid, soos in die sand

‘n suiwer saad wat wag op son en reën,

het al Sy sterflikheid stil weggebrand:

 

die swaar en trae slakke van die vlees,

sy onrus, vrees, verwarringe en waan,

dat Hy, een met die Vader en die Gees,

verheerlik in die lig weer op kan staan.

 

Die wagte kon in daardie gloed nie kyk.

Die steen is afgewentel deur ‘n wind

wat uit vier hemelstreke op die aarde stryk

dat dit vergruisel is tot stof en grint,

 

en soos uit diepe duisternis ‘n vlam,

staan hoog en rank en smetteloos die Lam!

*

J.C. Kannemeyer in sy Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur (Band I) meen stof en grint is toutologies. Dit lyk na versvulling (Academica: 374).

Louw is ook die verwyt gemaak vir die “presieuse woordkeuse”, onder andere.

Maar Kannemeyer loof hom wel vir die aanskoulike of treffende slotbeelde.

Hy beskou “Avondmaal”  as die geslaagdste “deur die besonder subtiele spel van die aa-  en oo-vokale, versterk deur die kleurespel wat met die twee sleutelwoorde ‘brood’ en ‘wyn’ saamhang”.

Hier word Opperman se Digters van dertig (1953) betrek.

 

III

Met sy dood verskyn hierdie pragvers deur Daniel Hugo:

 

rondeel 

vir W.E.G.L.

 

pynlik presies was hy altyd

maar die aand van sy afsterwe

is die polshorlosie met wekker

(hoe maklik hou die hart op tik)

stilweg gesteel van sy lyk:

en hoe sal hy betyds ontwaak

die oomblik as al die dooies

(soos ‘n dief kom die Heer een nag)

met slaap in hulle oë opkyk?

 

uit: Korte mette, Human & Rousseau, 1982.

 

Ook die klankspel en vormbeheer is opvallend.

By Hugo eindig die gedig met ‘n vraagstelling wat sy eie religieuse onsekerheid moontlik aktiveer.

By W.E.G. Louw is ‘n gelowige aan die woord.

 

Joan Hambidge

Kaapstad

28 April – 1 Mei 2026

 

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Joan Hambidge. Onse Mimi
Joan Hambidge. Naggesprekke en polemiek →

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. glasman
  • Anne-Marie Bartie. fake news
  • Anne-Marie Bartie. visum
  • Anne-Marie Bartie. kapitulasie
  • Jacques Boshoff. Die hond in Desember

Nuutste bydraes

  • Resensie: Joan Hambidge: amberKAMER (Karen de Wet)
  • Marthé McLoud. Hierdie angs, hierdie angs
  • Johan Myburg. Vertaling uit Afrikaans in Duits. (Vert. Robert Schall)
  • Johann Lodewyk Marais. Spartacus-dahlia
  • Loftus Marais. Veksilologie

Nuutste kommentaar

  1. Versindaba on Marius Crous. Vier gedigte25 October 2026

    Jacobus, "Dr. Swathe" se onvanpaste kommentaar is verwyder.

  2. Etienne on Andries Fourie. Waar die stilte wit is24 October 2026

    Mooi

  3. Bernard Odendaal on Johan Myburg. Vertaling uit Afrikaans in Duits. (Vert. Robert Schall)24 October 2026

    Robert Schall weet hoe om vertalend reg te laat geskied aan ‘n treffende Afrikaanse óf Duitse gedig.

  4. Jacobus Swart on Marius Crous. Vier gedigte24 October 2026

    Daar sal in 'n samelewing altyd diegene wees wat die Parthenon op die Akropolis in 'n favela wil verander. Dr.…

  5. Bernard Odendaal on Bernard Odendaal. Kaapse draai23 October 2026

    Dankie, Joan. Die getekende gebeure verteenwoordig almal werklike voorvalle, hoewel nie op ‘n enkele dag ervaar nie.

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d