Bloeddraad
By Vinkrivier hang neste
in wilgerbome,
donskuikens piep
oop keel vir wurms,
die vorige generasie
lankal weg.
Net vir ’n seisoen: ’n voëlma,
dan verlaat die geveerdes
die nes —
vlerke oop, die lug in,
geen terugkyk.
Ons nie.
Ons bondel saam —
grootouers
kinders
kleinkinders
soos braaihout saamgebind
met ’n bloeddraad —
as die een deur die vuur gaan,
gaan die ander saam.
Sommige loop kaalvoet
oor die kole —
mond toe — met net
as tussen die tone.
Ander dra brandwonde.
© Marthé McLoud, 2026
