Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
11 May 2026

Joan Hambidge. Gevathede, pittighede en pitswere

 

I

Watter krtitikus het die méés gevatte antwoord gegee op ‘n resensie of kritiek? Behoort daar nie ‘n prys uitgeloof te word vir só ‘n skerp of snaakse reaksie nie?

Dalk kan dit geborg word!

Hierdie rubriek is geïnspireer deur Daniel Hugo se opmerking nou onlangs dat gevathede skaars geraak het in ons bedryf.

https://www.netwerk24.com/stemme/menings/die-hertzogprys-se-omstredenheid-kom-n-lang-pad-20260501-0615  Besoek 3 Mei 2026

Tog was daar al wonderlike oomblikke!

Ek dink hier aan Marié Heese wat ‘n kritikus jare terug daarop attent gemaak het dat sý kritiek haar nie raak nie. “Groter mans, as jy”, was haar pittige retort,” het my al probeer aanvat en die mos groei al op hul grafte.”

Aan L.I.Bertyn ‘n ere-plek. Hy het immers opgemerk dat ene Joan Hambidge se briewe alleen aan die pers meer is as Totius se versamelde werk.

So kan ons aanhou met al die allerheerlike anekdotes. En weer kyk na Diana Rigg se No turn unstoned met wonderbaarlike en skreeusnaakse, gemene resensies in die teater. Uitgegee deur Arrow Books in 1983.

Ingegee deur ‘n persoonlike aanval op haar. Eers was sy woedend; toe het sy gelag.

 

 

II

Nog ‘n medalje vir ‘n antwoord gaan aan Hettie Smit in ‘n brief aan F.E.J. Malherbe oor sy resensie van Sy kom met die sekelmaan. Die literator skryf:

En hier is dit waar die jeugdige indiwidualis so oor-esteties is dat sy uitingskraal word aan lewenswaarde, hier dreig die gevaar van bloedlose estetisisme. Wie in hierdie sin leef vir die ‘woord’, die ‘literatuur’ as ‘lewensvorm’ – vir die skone maar leë dop – gaan verveel op die duur. (Malherbe, 1940:163.)

Die leser kan ‘n skerpsinnige analise lees van hierdie roman deur Mardelene Grobbelaar wat heet: Verskyningsvorme van estetisisme en dekadensie in Sy kom met die sekelmaan en Kaapse rekwisiete.

file:///C:/Users/User/Downloads/584-1858-1-SM-1.pdf Besoek 9 Mei 2026

Ons fokus op Hettie Smit se brief aan Fransie Malherbe en die agtergrond.

In Die dokumente van dertig wys J.C. Kannemeyer op al die spanninge rondom die publikasie van Sy kom met die sekelmaan.

Hy wys op die verhouding tussen die Louw-broers met professor F.E.J. Malherbe. Die jonger broer was aanvanklik meer positief oor Onkel Fransie, maar dis Louw wat in briewe aan sy broer (en aan ander) hierdie literator ontmasker. Dit staan alles opgeteken Hoofstuk een rondom die ontvangs en publikasie van Die ryke dwaas, Alleenspraak en Sy kom met die sekelmaan.

Die woordvaardighede is verbysterend. Hoe mense mekaar aanvat, aanspreek as “Geagte, Heer” en dan laat waai met “die geklapper van begrippemeultjies” (1990: 37).

Dit was ook die dae van Kees Konyn, daardie sluipskrywer van formaat, wat stommiteite opgestuur het. Wie was Anna Louiza Conradie? Haar roman Laura is hoog aangeprys deur Malherbe en wat Kees Konyn so min kon skeel as ‘n koue patat.

Hierdie hoofstuk laat die tone krul.

Die ongelooflike taalbeheer soos “Frans wat gepikeerd was dat ons te min notisie van hom geneem het …”(1990: 45).

Die hoogtepunt van hierdie hoofstuk is daardie beroemde “brandnetel-brief”, alleen bedoel vir Van Wyk Louw en sy vrou se ogies. Dit beslaan ses bladsye waarin hierdie skrywer haar chagrin weergee oor wat sy dink van sy kritiek op haar manuskrip. (Dit is in alle waarskynlikheid gedeel met die ander bestuurslede van die VVB).

Dit begin so:

Here, Frans Malherbe vanáánd bars jy! Ek wil nie eens geniaal skel nie. Ek wil sommer onbeskaafd en taktloos en kleinsielig, net soos jy, persoonlike beledigings soos valke op jou kop afsmyt dat jy sterre daarvan sien, vir dae aaneen.

Ek wil jou stilletjies in jou slaap bekruip soos ‘n kat, ‘n tier, en jou skielik in die donker met woordkloue hap in jou gesig – in jou koue inkpotbakkies dat die inkbloed tenminste daaruit tap. – Of met my woordstringe soos ‘n skuifoog om jou keel, vir jou wurg tot jou deeglike tong uithang, en jou kalm asem opraak van soebat en benoudheid (1990: 48 – 49).

Hier moet ek ophou skryf, want ek is lam van die lag.

Dit bly ‘n hoogtepunt in ons literatuurkritiek.

Sy is besyde haarself van woede, want onthou: haar roman fiksionaliseer onbeantwoorde liefde.

Dit was waarskynlik W.E.G. Louw, aldus al die navorsers, oor hierdie belydenisroman.

Sy moes weerloos gevoel het. Opperman het vir my in die dae toe ek sy assistent was, vertel dat sy glo gewerk het aan ‘n tweede roman. En dit was ‘n roman van haat.

Oor hierdie roman het vele navorsers al indringend geskryf soos Daniel Hugo en Jerzy Koch, onder andere.

In Swart koring (1996) is Maria/Marié ‘n karakter met wie Sonja Verbeek ‘n bietjie lanterfanter. (Parodie, terloops is die hoogste vorm van erkenning.)

 

 

Hyg al wat leef! ‘n Sin vir humor en ‘n sin vir proporsie word immer behoef. Ons moet immer versigtig wees vir tamboerslaners, nie waar nie? En veral die literatuurgeskiedenis ken.

Ook weet waarvoor staan VVB.

En die verskil ken tussen wyle en terwyle …

 

Joan Hambidge

Kaapstad

10 Mei 2026

 

Bronne:

Kannemeyer, J.C. 1990. Die dokumente van Dertig. Kenwyn: Jutalit.

Malherbe, F. E. J. 1940. Aspekte van Afrikaanse literatuur. Kaapstad: Nasionale Pers.

 

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Joan Hambidge. Die donker kom van buite
Joan Hambidge. Taksnommer 1284412036 →

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. glasman
  • Anne-Marie Bartie. fake news
  • Anne-Marie Bartie. visum
  • Margaret Cordier. Gestroop
  • Willem de Swyger. bokwagter

Nuutste bydraes

  • Gerard Scharn. het was verschrikkelijk
  • Nuwe Bundel. Margaret Cordier-Biermann: Spiraal
  • Nuwe Bundel. Carina van der Walt: Frankofiel
  • Nuwe Bundel. Daniel Hugo: Vers & Kapittel III
  • Nuwe Bundel. Jeanne Henning Els: Vlerke is vir vlieg

Nuutste kommentaar

  1. Marieta McGrath on Gerrit Theron. Die vuurhoutjie31 August 2026

    Ek hou hiervan.

  2. Johan Coetzee on Joan Hambidge. Om die hemel te dekonstrueer30 August 2026

    Die hemel... of hel is opgedollie.

  3. DIETLOFF VAN DER BERG on Resensie: “In memoriam, Johann de Lange” (Johann Lodewyk Marais en Joan Hambidge)28 August 2026

    Soekie, ja, ek stemsaam. Van 'Boondoks' tot 'Gelykenis' is daar net soveel wat mens tref en weer wil herlees.

  4. Soekie Vogel on Resensie: “In memoriam, Johann de Lange” (Johann Lodewyk Marais en Joan Hambidge)27 August 2026

    Hambidge het haarself oortref in haar digsiklus oor De Lange. Aangrypend.

  5. Daniel Hugo on Ilse van Staden. Die Dans25 August 2026

    'n Wonderlike huldeblyk aan die digter se moeder en Van Wyk Louw.

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d