Bastergemsbok
Hippotragus equinus
Om hom te beskryf, moet ek sy kleure
– wit, swart, bruin en terracotta –
sigbaar uitbeeld, duidelik onderskei
en uiteindelik nog iets sê oor hom
wat minder anatomies is, maar meer
oordra oor dié antiloop ingeperk
in sy savanne met bome en gras
– nie te ruig of te kort gevreet nie –
op soek na beter weivelde, beter lewe,
waar die leierkoei voor stap, bul agter
– die laastes in hulle klein bestaan –
groot en vir taksidermie voorbeskik.
© Johann Lodewyk Marais, 2026
