
Johann Lodewyk Marais is op 21 Desember 1956 in Johannesburg gebore en het in 1975 aan die Hoёrskool Harrismith gematrikuleer. Hy studeer aan die Universiteit van Pretoria, waar hy in 2001 ’n DLitt-graad oor Eugène N. Marais se wetenskaplike prosa verwerf en in 2013 die graad DPhil in geskiedenis behaal met ’n proefskrif oor internasionale reisliteratuur oor Kenia sedert 1963. Hy het vroeër onder meer ’n MA-graad oor opleiding in skeppende skryfwerk aan dieselfde universiteit behaal, waarvoor die Marius Jooste-medalje aan hom toegeken is.
Hy het reeds twaalf digbundels gepubliseer en het die Ingrid Jonker-prys vir sy debuutbundel, Die somer is ’n dag oud (1983), en die SALA-toekenning vir Diorama (2010) ontvang. Sy jongste bundel Ondertussen verskyn in 2020 by Naledi.
Hy het ook drie poësiebloemlesings saamgestel, naamlik Groen: Gedigte oor die omgewing (1990), Ons klein en silwerige planeet: Afrikaanse, Nederlandse en Vlaamse gedigte oor die omgewing (1997, saam met die Amsterdamse digter en letterkundige Ad Zuiderent) en Honderd jaar later: Ter viering van die publikasie van Eugène N. Marais se “Winternag” op 23 Junie 1905 (2006).
Marais se gedigte word opgeneem in verskeie versamelbundels, waaronder Groot verseboek, Die Afrikaanse poësie in ’n duisend en enkele gedigte, Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte, Die dye trek die dye aan, Kraaines, Goudaar, Honderd jaar later en Nuwe verset.
In 2003 verskyn sy eerste prosawerk, Lae wolke oor Mosambiek: ’n Reisboek.
Sedert 2003 is hy ’n navorsingsgenoot van die Universiteit van Pretoria. In 2013 was hy Innibos se eerste feesdigter.

[Nota van die Versindaba redaksie: Ons wil graag nuwe en ou digters aanmoedig om vir ons opgedateerde profiele aan te stuur na taljard.marlies@gmail.com
Van ‘n digter wat al een of meer solo-bundels by ‘n erkende uitgewer gepubliseer het, versoek ons die volgende:
-
-
- ‘n Redelik onlangse foto in JPG-formaat
- ‘n Lys van publikasies (ook die belangrikste nie-poëtiese publikasies)
- ‘n Kort lewenskets wat inligting bevat oor o.a. waar en wanneer jy gebore is en grootgeword het, waar jy studeer het, watter beroep jy beoefen of waarmee jy jou tans besig hou, waar jy op die oomblik woon, ens.
- Enige ander interessante feite oor jou
-
Skryf asseblief die profiel in narratiewe vorm en nie as ‘n reeks feite ondermekaar nie, ten einde dit meer lesersvriendelik te maak.]
