Grendelstilte 2
die maan hang gistermiddag deurskynend groot
voor in die straat ons stap deur ʼn koeligheid
in die lopie se betondriffie dis al volherfs
maar die bome is nog vol groen blare
bedags bak die son nog heerlik warm, maar snags
reik die luggie na jou met ysige vingers
dis stil die dak kraak effens van die hitte asof
iets daarop drup ek kan my hart hoor klop
my laptop begin saggies suis en Johan se hond begin te blaf
verder nie veel om te berig nie die virus kerjakker
in Indië hulle suurstof is op hulle hospitaalbeddens vol
die wêreld belowe hulp maar dit help jou veel op jou
toumatras in die hoek aan die hyg vir lug jou kop
soos in ʼn skroef jou koors hemelhoog water water
onverskillig aan jou ellende oorgelaat in jou modderhuis
dalk kan die tee wat jou vrou kruisbeen op die vloer
vir jou brou darem jou dor lippe effens laaf
dalk troos die stilte darem, asemlose gewag op iets
ʼn duif wat ver sag koer, die hond wat weer blaf
© Hein Viljoen, 2026
