Wensebrief
(Mary Oliver: Life Story)
saam met jou testament bring die eksekuteur
‘n amptelike koevert bruin
soos oproepinstruksies
gemerk in jou knobbelvinger-skrif:
wensebrief
binne ‘n oefenboekbladsy
klein opgevou nes ‘n skoolbriefie
wat hy eerbiedig oopmaak en vir ons voorhou:
terwyl ek onder die donker eike gewoon het
het dit gevoel of ek van blare gemaak is
toe ek langs die plaasdam gebly het
was ek die donsveer wat wilde
ganse op die damwal los
en die waterlelies se aardun wortels
het my hart laat oorloop
daarom is dit nou my wens:
neem my as en plant dit
saam met jou gunsteling boom
sodat sodat ek kan wortel
vertak, bas maak en
uiteindelik blare kan raak
© Elmarie Stofberg, 2026
