tussen-in
die reuk van reën op ‘n tapyt roes akkerblare
wat nou vervang is deur ‘n nuwe groen blad
wolkewater kabbelend in die antieke leivore
is die plek waar ek wou wees,
maar nie gekies het nie
die lug is so perfek gekleur vandag, aarbolblou
tog is daar wit are wat in die ligte windjie hang
en ‘n gryserigheid wat dreig om oop te bars
– anders as daardie dag, wat net grόú was –
my jong kop het daardie jaar my lyf verlaat
en jare lank soos Ramses s’n rondgelê
gedagtes tevergeefs, onsamehangend
ek was onvervat en vreemd in ‘n ander stad
ter terugkeer leef ek die ontginning
van kosbare jare en goue trone,
ek besef dat daar ‘n begin en ‘n einde is
maar dat die wonder van bestaan,
die tye tussen-in is
© Anne-Marie Bartie, 2026
