Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
15 May 2026

Resensie: “Vryval” (Pieter Hugo)

 

Resensie: Vryval deur Pieter Hugo. Naledi, 2026. 

Resensent: Joan Hambidge

 

I

Alchemie van my muse, het in 2019 by Naledi verskyn en sopas is vryval vrygestel. Die tweelingtorings in Manhattan met die vallende man wat al sóveel reaksies in die digkuns en beeldende kunste ontlok het, raam die gedigte. Trauma, verliese en die weerbegin, is die belangrikste temas van hierdie bundel. Die voorblad is uiters ironies: speelgoed as merkers wat dui op die broosheid van die menslike bestaan.

Philippe Petit is ‘n sogenaamde “highwire artist”, wat ongelooflike beroemdheid (dalk berugtheid?) verwerf het. Sy staptogte tussen Notre Dame-katedraal in 1971, die Sydney-brug in 1973 en veral die een oor die tweelingtorings op 7 Augustus 1974, word dus in hierdie bundel geaktiveer.

Die enigste sekerheid, aldus Pieter Hugo, is die vryval: die dood. En Petit het met iedere gevaarlike oorgang die dood uitgetart.

Wat veral imponeer is die behendige spel met vorms: formele verse teenoor die vrye vers en die konkrete gedig. Die klein toevallige weggooi-gedig wat tref, moet eweneens vermeld word.

 

Sommerso

sommerso somers

stap jy kwikstertjiekordaat

by my voordeur in

(66)

 

Die soutsjokolade van die lewe (soos Ina Rousseau dit klinkend opgesom het), word in hierdie bundel van alle kante ondersoek.

In ses afdelings word ‘n lewe bekyk met die wete dat ons almal kwesbaar is. Vir hierdie leser is die kort verse kragtig. ‘n Mens bewonder die konkrete verse en die spel met hierdie medium en die vyfde afdeling tongval.

Rondom die baarmoeder, die verhouding met die moeder en die “tongfiksheid” van die digter word ‘n gesprek met Julia Kristeva se Begeerte in taal na (1969) vore gebring. Al het die digter dit nie gelees nie, is Kristeva hier tersaaklik, net soos haar werk oor polifonie.

In “’n Treurende dag” (83) word daar ‘n gesprek met Pablo Neruda gevoer. Die spel met woorde is opvallend:

 

Volmaan

Ek wil vir jou die volmaan gee,

maar jy sal bloot ‘n cliché kry.

 

Dus wag ek vir die donkermaan.

dan kry jy ál die sterre by.

(72)

 

II

“Uitgespoel in wier en gras” (58) is ‘n netjiese antwoord op bekende beelde uit Ingrid Jonker se digkuns met ‘n “rantsoen lof”. Die digter skryf ‘n triolet en dan weer ‘n haiku. Of ‘n sonnet. Afdeling 1 (Op die beliggaamde landskap) word Petit se koorddans na bó geplaas met die digter wat van onder na bo kyk. En kommentaar lewer op die posisie van manlikheid. Dan is ons by “Gebalanseer op die tydlyn” (26) met daardie intuimeling van die torings wat die wêreld verander het. Soos die sluipmoord op JFK.

Die digter praat met ander digters, maar hy het sy eie stem. Jan F. Celliers, Ingrid Jonker, Pablo Neruda en die lang tradisie van die liefdesvers is eweneens tersaaklik. Gedig 12 (100) is ‘n heerlike liefdesvers wat “ sleeptong, verdrink in die voor”.

Dan ‘n spel met George en Ira Gershwin, Cole Porter:

 

Leestekens

ek praat komma

jy hoor punt

 

ek stippel stippel struikel

 

in jou afwesige spasie

(76)

 

Hier sing Ella Fitzgerald dit vir ons …

Let’s call the whole thing off waar part rym met heart …

https://www.youtube.com/watch?v=b26AAjDTWzs  Besoek 13 Mei 2026

 

“Seeredding” (85) bekyk die letsels van ‘n leeftyd se kneusings. En in “Tyd. Tyd” (84) word ‘n terugblik op ‘n liefdesverhouding gegee. Die dolfyne was bloot bamboese …

En met ironie skryf hy maar nog ‘n gedig vir haar (wat uiteraard vort is) in “Dis alweer oggend” (79). Geplaas teenoor “Kaal kok” (71) waar die liefdespel gelyk gestel word aan kosmaak.

Pieter van der Lugt se Kies vir jou ‘n tong (1985) word ook ‘n interteks in die besinning oor taal in die vyfde afdeling Tongval.

Die man wat verlate is en versaak is deur die geliefde, maak kos en was sy wasgoed. ‘n Antwoord dus aan al die vrouedigters wat kosmaak en wasgoed doen. ‘n Besondere blik op manlikheid. Hy moes wel army toe gaan, maar hy is net so uitgelewer aan die daaglikse gesleur as sy vrouegenote. Tog bely hy dat hy onbeskaamd man is (21).

Die dubbelbestaan van manlikheid. Nou onlangs lees die uwe A little life (Picador) geskryf deur ‘n vrou oor manlike vriendskappe. Hanya Yanagihara se 734 bladsye roman uit 2015 oor trauma en hoe mans dit ervaar. Jude, die New Yorkse prokureur wat teruggaan op sy jeug en hoe dit sy lewe bepaal het. En hoe mans bly treur, ‘n hele lewe lank, oor hul vaders. Afwesige vaders of vaders met gesag. En die vader, dit weet ons uit psigoanalise, is ook die simboliese vaders wat kinders oorlog toe stuur.

In “Uitgerangeer” (19) lees ons:

…

ons was ‘n oorlog wat nooit moes gebeur het nie

‘n oorlog wat nooit gebeur het nie

wat nooit ophou gebeur het nie

Kyk na die spel met tyd en hoe hierdie gedig na die Boeing bo in die lug …

As ‘n mens hierdie roman betrek, verstaan jy opeens die voorblad van Hugo se voorblad beter.

 

Sonprins

Op daardie dae sonder son

gaan soek ek diep in my

na die sonprinsseuntjie

wat huppel met ‘n geel ballon.

(42)

 

IV

Speelsheid geplaas teenoor somberheid, bly lank ná die lees van hierdie vernuftige bundel in die gemoed draal. Die konkrete of visuele gedigte is werklik uitsonderlik goed gedoen. Van die haiku tot die kwatryn; van die fuga tot die triolet of haiku, sien ons ‘n bedrewe vakman aan die woord wat ook musiek betrek. O.a. Ravel en Stravinsky. En jazz.

Die taal van stilte en die liggaamlose taal (aldus Elisabeth Eybers), begryp hy deeglik.

En ja bewaar ons van die wêreld se bewaarders, skryf hy in “Hopelose fuga” (31).

Pieter Hugo ken die dans met die digterlike taal se vele kabelvibrasies.

Dit is ‘n beduidende vooruitgang op sy debuut. En vir diegene wat skryf oor maskuliniteite is hierdie ‘n belangrike bundel wat lig werp op al die kompleksiteite róndom genderdebatte. Die rol van moeders en vaders. In hul afwesigheid altyd aanwesig en bepalend.

En Ella sing ook van die pater en die mater. Hierom heet die slotvers “Kwesbaarheid” …

 

 

Joan Hambidge is ‘n senior navorser aan die Universiteit van Kaapstad.

 

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Joan Hambidge. Taksnommer 1284412036
Joan Hambidge. Bul teen bul →

2e gedagtes oor “Resensie: “Vryval” (Pieter Hugo)”

  1. Bernard Odendaal says:
    16 May 2026 at 07:59

    Joan, jy laat ‘n mens uitsien na die lees van die bundel!

    Reply
  2. Joan Hambidge says:
    15 May 2026 at 13:34

    Daniel Hugo het my daarop attent gemaak dat dit sonnetekrans in vryval maar die tweede digter is wat dit regkry in Afrikaans. Die eerste een was Jakes Möller in Koorsboom (Turksvy).
    ‘n Moeilike vorm.
    By Pieter Hugo rondom die tong …
    Ek het Koorsboom in Rapport geresenseer.

    https://www.facebook.com/100063781352274/posts/joan-hambidge-oor-koorsboom-rapport-25-januariehierdie-debuutbundel-van-jakes-m%C3%B6/1469917501810948/ Besoek 15 Mei 2026

    Ek dink die leser kan self die twee tekste vergelyk. Watter een is meer oortuigend?

    Reply

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. verskille
  • Anne-Marie Bartie. vlinderslag
  • Hendrik J. Botha. Teen sononder
  • Anne-Marie Bartie. bewys van betaling
  • Marius Crous. Twee mombakkiesliedjies

Nuutste bydraes

  • Digtersprofiel: Gert Vlok Nel
  • Meyer van Rensburg. Spieëlkamer
  • Margaret Cordier-Biermann. Verlossing
  • Wynand J Booysen. koue afgrond
  • Don’t Hesitate! – AVBOB Poetry Mini-Competition winners

Nuutste kommentaar

  1. Conrad on Hans du Plessis. Psalm 121 (Stemgreep)30 July 2026

    Goeie middag ek is n koorleier van die VGK Kerk Kraaifontein en is op soek na die SATB Blad musiek…

  2. Marieta McGrath on Miel Vanstreels. Voorlopig30 July 2026

    Stout gedig! Baie snaaks!

  3. Bernie on Rainer Maria Rilke. Almal wat Jou soek, beproef Jou (vert.)29 July 2026

    Kan die vertaler dalk verduidelik waarom hy hoofletters gebruik in sy vertaling terwyl Rilke kleinletters gebruik.

  4. Bernard Odendaal on Daniel Hugo. Plaagbeheer28 July 2026

    Ja, hoe beheer ‘n mens die plaag waarvan in die slotreël gewag gemaak word …?

  5. STEPHANUS JOHANNES MARAIS on Margaret Cordier-Biermann. Wekroep van die verlostes28 July 2026

    Die gedig verbeeld 'n fase in die mens se lewensverloop waar hy ingehok voel en die omstandighede die uitsig beperk…

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • onderhoude
  • Onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d