
Resensie: Vryval deur Pieter Hugo. Naledi, 2026.
Resensent: Joan Hambidge
I
Alchemie van my muse, het in 2019 by Naledi verskyn en sopas is vryval vrygestel. Die tweelingtorings in Manhattan met die vallende man wat al sóveel reaksies in die digkuns en beeldende kunste ontlok het, raam die gedigte. Trauma, verliese en die weerbegin, is die belangrikste temas van hierdie bundel. Die voorblad is uiters ironies: speelgoed as merkers wat dui op die broosheid van die menslike bestaan.
Philippe Petit is ‘n sogenaamde “highwire artist”, wat ongelooflike beroemdheid (dalk berugtheid?) verwerf het. Sy staptogte tussen Notre Dame-katedraal in 1971, die Sydney-brug in 1973 en veral die een oor die tweelingtorings op 7 Augustus 1974, word dus in hierdie bundel geaktiveer.
Die enigste sekerheid, aldus Pieter Hugo, is die vryval: die dood. En Petit het met iedere gevaarlike oorgang die dood uitgetart.
Wat veral imponeer is die behendige spel met vorms: formele verse teenoor die vrye vers en die konkrete gedig. Die klein toevallige weggooi-gedig wat tref, moet eweneens vermeld word.
Sommerso
sommerso somers
stap jy kwikstertjiekordaat
by my voordeur in
(66)
Die soutsjokolade van die lewe (soos Ina Rousseau dit klinkend opgesom het), word in hierdie bundel van alle kante ondersoek.
In ses afdelings word ‘n lewe bekyk met die wete dat ons almal kwesbaar is. Vir hierdie leser is die kort verse kragtig. ‘n Mens bewonder die konkrete verse en die spel met hierdie medium en die vyfde afdeling tongval.
Rondom die baarmoeder, die verhouding met die moeder en die “tongfiksheid” van die digter word ‘n gesprek met Julia Kristeva se Begeerte in taal na (1969) vore gebring. Al het die digter dit nie gelees nie, is Kristeva hier tersaaklik, net soos haar werk oor polifonie.
In “’n Treurende dag” (83) word daar ‘n gesprek met Pablo Neruda gevoer. Die spel met woorde is opvallend:
Volmaan
Ek wil vir jou die volmaan gee,
maar jy sal bloot ‘n cliché kry.
Dus wag ek vir die donkermaan.
dan kry jy ál die sterre by.
(72)
II
“Uitgespoel in wier en gras” (58) is ‘n netjiese antwoord op bekende beelde uit Ingrid Jonker se digkuns met ‘n “rantsoen lof”. Die digter skryf ‘n triolet en dan weer ‘n haiku. Of ‘n sonnet. Afdeling 1 (Op die beliggaamde landskap) word Petit se koorddans na bó geplaas met die digter wat van onder na bo kyk. En kommentaar lewer op die posisie van manlikheid. Dan is ons by “Gebalanseer op die tydlyn” (26) met daardie intuimeling van die torings wat die wêreld verander het. Soos die sluipmoord op JFK.
Die digter praat met ander digters, maar hy het sy eie stem. Jan F. Celliers, Ingrid Jonker, Pablo Neruda en die lang tradisie van die liefdesvers is eweneens tersaaklik. Gedig 12 (100) is ‘n heerlike liefdesvers wat “ sleeptong, verdrink in die voor”.
Dan ‘n spel met George en Ira Gershwin, Cole Porter:
Leestekens
ek praat komma
jy hoor punt
ek stippel stippel struikel
in jou afwesige spasie
(76)
Hier sing Ella Fitzgerald dit vir ons …
Let’s call the whole thing off waar part rym met heart …
https://www.youtube.com/watch?v=b26AAjDTWzs Besoek 13 Mei 2026
“Seeredding” (85) bekyk die letsels van ‘n leeftyd se kneusings. En in “Tyd. Tyd” (84) word ‘n terugblik op ‘n liefdesverhouding gegee. Die dolfyne was bloot bamboese …
En met ironie skryf hy maar nog ‘n gedig vir haar (wat uiteraard vort is) in “Dis alweer oggend” (79). Geplaas teenoor “Kaal kok” (71) waar die liefdespel gelyk gestel word aan kosmaak.
Pieter van der Lugt se Kies vir jou ‘n tong (1985) word ook ‘n interteks in die besinning oor taal in die vyfde afdeling Tongval.
Die man wat verlate is en versaak is deur die geliefde, maak kos en was sy wasgoed. ‘n Antwoord dus aan al die vrouedigters wat kosmaak en wasgoed doen. ‘n Besondere blik op manlikheid. Hy moes wel army toe gaan, maar hy is net so uitgelewer aan die daaglikse gesleur as sy vrouegenote. Tog bely hy dat hy onbeskaamd man is (21).
Die dubbelbestaan van manlikheid. Nou onlangs lees die uwe A little life (Picador) geskryf deur ‘n vrou oor manlike vriendskappe. Hanya Yanagihara se 734 bladsye roman uit 2015 oor trauma en hoe mans dit ervaar. Jude, die New Yorkse prokureur wat teruggaan op sy jeug en hoe dit sy lewe bepaal het. En hoe mans bly treur, ‘n hele lewe lank, oor hul vaders. Afwesige vaders of vaders met gesag. En die vader, dit weet ons uit psigoanalise, is ook die simboliese vaders wat kinders oorlog toe stuur.
In “Uitgerangeer” (19) lees ons:
…
ons was ‘n oorlog wat nooit moes gebeur het nie
‘n oorlog wat nooit gebeur het nie
wat nooit ophou gebeur het nie
Kyk na die spel met tyd en hoe hierdie gedig na die Boeing bo in die lug …
As ‘n mens hierdie roman betrek, verstaan jy opeens die voorblad van Hugo se voorblad beter.
Sonprins
Op daardie dae sonder son
gaan soek ek diep in my
na die sonprinsseuntjie
wat huppel met ‘n geel ballon.
(42)
IV
Speelsheid geplaas teenoor somberheid, bly lank ná die lees van hierdie vernuftige bundel in die gemoed draal. Die konkrete of visuele gedigte is werklik uitsonderlik goed gedoen. Van die haiku tot die kwatryn; van die fuga tot die triolet of haiku, sien ons ‘n bedrewe vakman aan die woord wat ook musiek betrek. O.a. Ravel en Stravinsky. En jazz.
Die taal van stilte en die liggaamlose taal (aldus Elisabeth Eybers), begryp hy deeglik.
En ja bewaar ons van die wêreld se bewaarders, skryf hy in “Hopelose fuga” (31).
Pieter Hugo ken die dans met die digterlike taal se vele kabelvibrasies.
Dit is ‘n beduidende vooruitgang op sy debuut. En vir diegene wat skryf oor maskuliniteite is hierdie ‘n belangrike bundel wat lig werp op al die kompleksiteite róndom genderdebatte. Die rol van moeders en vaders. In hul afwesigheid altyd aanwesig en bepalend.
En Ella sing ook van die pater en die mater. Hierom heet die slotvers “Kwesbaarheid” …
Joan Hambidge is ‘n senior navorser aan die Universiteit van Kaapstad.

Joan, jy laat ‘n mens uitsien na die lees van die bundel!
Daniel Hugo het my daarop attent gemaak dat dit sonnetekrans in vryval maar die tweede digter is wat dit regkry in Afrikaans. Die eerste een was Jakes Möller in Koorsboom (Turksvy).
‘n Moeilike vorm.
By Pieter Hugo rondom die tong …
Ek het Koorsboom in Rapport geresenseer.
https://www.facebook.com/100063781352274/posts/joan-hambidge-oor-koorsboom-rapport-25-januariehierdie-debuutbundel-van-jakes-m%C3%B6/1469917501810948/ Besoek 15 Mei 2026
Ek dink die leser kan self die twee tekste vergelyk. Watter een is meer oortuigend?