
Joan Hambidge gesels met Johan Myburg oor Steierwerk wat onlangs by Human & Rousseau vrskyn het.
Joan Hambidge (JH)
Johan, dankie vir die voorreg om met jou te kan praat oor jou jongste aangrypende én boeiende bundel.
So word jou bundel Steierwerk bemark deur Human & Rousseau:
Soos die titel suggereer, dien bogenoemde impulse as stellasies waarmee Myburg sy verse bou. Hierdie meta-poëtiese gedigte ontgin egter ook ’n ander betekenis van die bundeltitel, naamlik dié van wankeling. Steierwerk is ’n aangrypende verkenning van verval: van eie lyf, kuns en land.
‘n Boek sonder blakertekste of aanbevelings. ‘n Skoon teks. Met Diane Victor, daardie groot kunstenaar op die voorblad.
In my werksruimte staan jy “Almal verdien kwaliteit” (16 April 2022) waar jy praat oor die argitektuur, en meer spesifiek, oor Diébédo Francis Kéré.
Jy is kunskritikus, digter en doen enorm belangrike werk vir Skrywers en boeke en jou kennis van die internasionale skryfwêreld is besinnend.
Jy is gebore in Pietersburg en gaan skool op Potchefstroom.
Verder weet ons dat jy in verskillende velde studeer het:
Eers aan die PUK. In 1978 behaal jy die B.A.-graad met Grieks en filosofie as hoofvakke en in 1982 behaal jy die B.Th.-graad. Die M.Th.-graad behaal jy in 1995 aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat. In 2000 verwerf jy ‘n D.Th.-graad aan UNISA met ‘n proefskrif “Deconstructing identity in a landscape of ideology, culture, belief and power”.
En ‘n lys van jou digbundels:
- 1984 – Vlugskrif
- 1994 – Kontrafak
- 2008 – Kamermusiek
- 2017 – Uittogboek – wenner van die Hertzogprys in 2020
- 2022 – Narreskip
1 Opvallend in die jongste bundel is ‘n gestroopte mens teenoor Uittogboek en Narreskip waar die leser ryklik beloon word met gesprekke oor die klassieke wêreld.
In jou jongste een is daar ‘n gesprek met Van Wyk Louw:
71
Die laaste loflied van Tant Tolie. Aan
gevogelte des hemels had ek vreug
my lewe lang, van vroe partitas nog
in donker bome van janfrederik,
ʼn tuin vol uitgelongde klank, tot laat
as tarentale kruiwawiel, tot rus
kom om die nag te slyt. Ek prys die lug,
die helder kwarte waarin rawe vlie,
nog swarter as tevore, omens lank
reeds af te lees, waar woue somers swiep
op soek na aas, om iets te roof. Ek loof
die skemer met sy voëlgesang. Ek sit
gereed, gedeë, reg vir uile roep
en maak my klaar, maar nog nie nou nie, Heer.
Hoekom Louw nou so dwingend? Trouens, hy is in vele gedigte verskans.
Johan Myburg (JM)
Oor jou verwysing na nou. Ek het Louw nie intensief gaan herlees nie, en nie doelbewus gaan soek vir aanhegtings vir gesprekke (goeie woordkeuse, soos jy daarna verwys) nie. Ek vermoed dit wat mettertyd in my geheue bly sluimer het, het dalk nou wakker geword en aanleiding gegee tot gesprekke. So is dit ten opsigte van Louw, maar ook ten opsigte van DF Malherbe en Totius en Matsuo Bashō en Eugène Marais en ID du Plessis en vele ander. Sodra ʼn mens jou begin steur aan goed wat bly steek het, ontvou gesprekke. En namate jy minder of sagter praat hoor jy ander se stemme dalk helderder. Ek noem dalk nie hierdie stemme in die bundel by die naam nie, en ek dink ook nie dit is nodig om hulle voor te stel nie. As iemand dié stemme in die gesprekke herken is dit goed. As dit nie gebeur nie, is dit ook goed.
ʼn Mens skryf nie in isolasie nie. En ʼn mens sien nooit met eerste oë (soos die Romeine gesê het) nie. Voor my het mense gedink en geskryf oor die goed waaroor ek nou sou wou dink. Dit is my manier om erkenning te gee aan ʼn tradisie van kyk en dink en skryf, een waarby ek sou wou aansluit.
Daar is ook ʼn wyer tradisie wat ruimte bied vir versinde gesprekke – met mense, maar ook met plekke en met gedagtewêrelde. Die gesprekke met mense is met dié vir wie struktuur, op verskillende maniere en in uiteenlopende gedaantes, belangrik was of is – argitekte en bouers, digters en denkers, ontwerpers en komponiste, skrywers en kunstenaars, tuiniers en hier en daar ʼn slaapwandelaar. Die plekke is so te sê almal op ons blou planeet. Die wêrelde is dié waarvan ek begrip probeer vorm.
Ek dink ek verstaan hoe jy dwingend bedoel – iets van noodsaak? Die noodsaak loop saam met die oopstel. As jy jou oopstel kan dit kwalik anders. Die noodsaak is die neweproduk van jou steur aan stemme. Miskien het ons almal ons registers van stemme met wie ons dink ons korrespondeer. Stemme wat onwillekeurig by ʼn mens opkom. Soos dié van Van Wyk Louw.
In een geval het ek wel na Louw by die naam verwys, maar dan omdat ek vermoed hy het ten opsigte van sy gedig “Armed Vision” kennis geneem van Coleridge se siening van die “armed vision” (soos aangedui in die Sleutels).
JH
Julle het oorkant T.T. Cloete gebly. Jy het wanneer hulle weggegaan het die tuin natgemaak en die digter-as-tuinier bespied.
Jy dig immers hieroor in ‘n gedig opgeneem in Met die digter praat, ‘n bundel opstelle en gedigte ter huldiging van Cloete, saamgestel uit uitgawes van die Tydskrif vir Geesteswetenskappe (Jaargang 49 (4): Desember 2009 en Jaargang 55 (2): Junie 2015, onder die kundige redaksie van Bernard Odendaal, Hein Viljoen en Ina Wolfaardt-Gräbe. Dit bevat ook gedigte van digters vir en oor Cloete.
“Reitzstraat, Potchefstoom” vir TTC is ‘n vers deur Johan Myburg. Die jong skolier moet die digter se tuin oppas en die plante watergee. Maar die jong kind (wat oorkant die digter bly) begin patrone raaksien en begin die taal van die tuin lees. Wat dan oorgaan in sy eie ontdekking van die digkuns. So sluit hierdie vers:
Sedertdien swymel ek steeds oor die boeket
van tuine en die toorkrag van ‘n rymende eindkoeplet.
Watter invloed het hierdie digter op jou gehad?
JM
Hoewel ek bewus was van die bewondering wat mense vir Cloete as dosent en letterkundige gehad het, was ek in 1970 te jonk om ʼn idee te vorm van dié wêrelde. Vir my was hy die buurman wat hinkend, tuinslang in een hand, spreiers verskuif het sodat die beddings struike en perke gras nat kon kom; en wat snags as dit koeler was, weliswaar met ʼn flits in die ander hand, dié taak voortgesit het.
As ek troetel via “nature” van my ma gekry het, het ek troetel via “nurture” van Cloete gekry.
En toe ek later in sy klasse beland, het ek besef daar is heelwat meer as tuine troetel wat ek van hom kan leer.
By geleentheid is daar in ʼn resensie (oor my werk) verwys na Cloete se invloed op my skryfwerk. Ek was bedremmeld daaroor dat ek hom op dié manier betrek het en straks in ʼn verleentheid kon stel. In ʼn kort briefie het hy my gerusgestel en ruimhartig daarop gewys dat wat sommige mense as beïnvloeding sou kon sien, ook ʼn geval sou kon wees dat “ons albei uit dieselfde poel drink”.
Later, in ʼn gesprek het hy oor dieselfde onderwerp skalks laat val: “In elk geval, daar is heelwat mindere digters deur wie jy jou sou kon laat beïnvloed, wat jy duidelik nie gedoen het nie.” Hovaardig het hy dit nie bedoel nie. Ons was vriende teen daardie tyd, en die gesprek was dié van vriende oor ʼn glas wyn.
Doelbewus het ek Cloete in ʼn stadium bolangs gelees, skrams. Om tog wel losser te kom. Daardie dissipline was terugskouend nodig.
Watter invloed het Cloete steeds op my? Dié van dissipline. Cloete was dit wat benadruk het dat selfs die verbluffendste gedagte nie ʼn goeie gedig waarborg nie. Daarvoor is die dissipline van tegniese vaardigheid nodig. “Wie geen belang stelt in de structuur van een gedicht, houdt niet van poëzie.” In die woorde van Jan Greshoff.
JH
Jy kan ook tipeer word as ‘n landskapdigter soos in hierdie vers:
67
Uit klippers in die veld wat eweneens
ʼn stapel sou kon wees om plek, moment
of rigting aan te dui, verrys ʼn beeld
so mities soos ʼn baken self, markeer
die swerwergod ʼn wyle lank ʼn lyf,
gestol in rus en eksoskeletaal
gegespe in ʼn staalkorset, gesweis
en vasgebout om gabbro in te gord
en in sement te set, figuur wat in
ʼn landskap sit, tans geil en groen, dié word
eventueel, want kataklismes bly
herhaal, niks meer nie as ʼn hopie klip,
en mettertyd bly van Dionysos bloot
fragmente oor – ʼn oor of net ʼn lip.
Watter invloed het die landskap op jou as digter? Eventueel soos in moontlik of uiteindelik?
JM
Ek vermoed ek het nog altyd eerder geordende landskappe in die oog gehad (soos in tuinerighede van ʼn aard), eerder as ongereptheid. Tuine wat ten diepste seker ʼn gestoei teen boskasie is. Of die mens se ingrype in die natuur, as manier om die natuur te tem, om kultuur van natuur te maak om dit so te stel. Maar dit sou beteken dat die mens oorhand oor die natuur het. Of moet hê. Wat vir my al meer problematies lyk, gewoon omdat ek meen dat die mens nie te vertrou is nie.
Ek is bewus van die spanning in my gedagtegang. Ek verheug my weliswaar in die estetiese vernuf wat die mens aan die dag lê, en tegelyk besef ek die mens het oormoedig ʼn oorheersende en uitbuitende rol in die natuur ingeneem.
Dat die mens nie “die kroon van die skepping” is nie lyk vir my na die uiteinde van my argument. Plunderaars par excellence sou eerder van pas kon wees.
Wat ons met klip kan maak is gewis vernuftig. Vormgewing is verruklik en slim, maar die materiaal (die klip) gaan die vorm vooraf. Wat ʼn nederigheid by die mens sou veronderstel, sou ʼn mens wou dink. Die Belfast-gabbro (waarna verwys word in bogenoemde gedig) wat Angus Taylor gebruik is iets soos twee miljard jaar oud.
In daardie opsig is ek gewis onder die indruk van die landskap, en meer nog, die mens se meer beperkte plek in daardie landskap.
JH
Jy gee vir die leser sleutels onder meer na Hennie Aucamp.
Herinneringe dikteer hulself. Daar is baie dinge in jou lewe wat van buite bekyk belangrik is, maar waaraan net ‘n gedeelte van jouself terugdink, half wasig, half afgetrokke. Dis die kleiner oomblikke, dikwels versny met skerp sintuiglike indrukke, wat jou ‘n leeftyd bybly. Dis van dié soort oomblikke wat die memórie gemaak is. Oomblikke van vervlietende emosies; oomblikke van disteldons en spinnerak. (303). Opgeneem Mits dese wil ek vir jou sê. Hermanus: Hemel & see uitgewers wat in 2013 verskyn het.
Hoe werk onthoue vir jou?
Aucamp is immers dié optekenaar in dagboeke, skrywer van kommerkrale, briewe, ensomeer.
Dan praat ‘n mens nie eers van sy gedigte en handboeke oor hoe om ‘n kortverhaal te skryf nie.
JM
Onthoue. Meervoud. Dit maak sin, want (die proses van) onthou is nooit netjies afgebaken nie. En ook nie staties of objektief nie.
Herinneringe mag hulself dikteer, maar dit maak onthou nie betroubaar nie. Onthou kan ook uitgewis word, doelbewus vergeet word. En soms is die wasigheid van onthou interessanter as ʼn helder omlynde herinnering. Dit is in die wasigheid waar onthou, droom en dagdroom oor mekaar val waar insigte na vore kom.
Wat gebeur het, kan ʼn mens nie verander nie. Maar die onthou daarvan kan verander. ʼn Mens kan heronthou, en herherinneringe is dus ook moontlik. Konteks maak die verskil, dink ek.
JH
5 Dit is bekend dat Michelangelo sy voorstudies verwyder en vernietig het sodat mense nie sy “voorafwerk” moes sien nie. Steierwerk is ‘n baie gelade titel. Kommentaar.
JM
Steierwerk in die konteks van voorstudies soos in die verwysing na Michelangelo neem verskeie vorms aan. Dit kan latwerk van byvoorbeeld staal wees wat ekstern soos ʼn ektoskelet aangebring word terwyl die werk aan die struktuur (soos ʼn gehou) gedoen word. Hoewel waardevol is die gedagte van meet af dat dié werk eindelik afgetakel gaan word en nie behoue gaan bly nie. Aantekeningboeke en wat nie al nie sou in hierdie kategorie kon val. Verwyder en vernietig is die oogmerk. Nie omdat mense nie die voorafwerk moet of mag sien nie, maar omdat dit nie bedoel is om gesien te word nie, en derhalwe nie belangrik is nie. Die doel daarmee was van ʼn tydelike aard.
Dan is daar interne steierwerk wat integraal deel is van die struktuur (soos ʼn beeldhouwerk) en soos ʼn endoskelet hanteer word. ʼn Mens se leefwêreld is een belangrike aspek van dié steierwerk. Die gesprekke waarna jy in jou eerste vraag verwys het, is deel van hierdie steierwerk. En so ook die sleutels wat agterin die bundel aangedui word. Lees en kyk en luister en peusel en snuif en bevoel en bevat is die ruggraat van die gedig. Om persentasies te wil gee is onsinnig, maar die skryf van gedigte gaan oor meer as vingers op ʼn toetsbord of ʼn pen op papier. Daar is ʼn enorme komponent wat nie verdiskonteerbaar is in terme van woordtelling of tyd nie.
Daarby kom struktuur as steierwerk, soos Greshoff hierbo daarna verwys het. Struktuur wat ʼn gedig wonderlik ter wille kan wees, maar wat eweneens ʼn gestoei kan afgee, juis omdat daar soveel dissipline ter sprake is. Struktuur soos metrum en ritme wat sekere woorde diskwalifiseer maar/en ʼn mens por om verder te loop soek. So beïnvloed ʼn jambiese inslag byvoorbeeld segging in terme van woordkeuse, woordorde en so ook beelding – ʼn ongewone aanbod wat ʼn leser dalk noukeuriger laat lees en wat moontlik ʼn ander/dieper begrip tot gevolg kan hê. Iets van “defamiliarisering” met die oogmerk om gewone leesgewoontes te onderbreek en meer op die woord af te lees.
En dan is daar die steierwerk van jare se bevoorregting. Waarmee ek allermins wil paradeer. Maar eerder wil gebruik om sin te probeer maak van die plek en tyd waarin ek my bevind. En minder te praat.
JH
Die bemoeienis met die digkuns is ‘n sterk tema:
Optiek in die visier, die vinnig voel,
flink registreer voltrek die Poëtiek.
JM
Poe was dit onder andere wat volgehou het dat die persoon wat nie die ontasbare kan aangryp nie, nie ʼn digter is nie; dat alleen die mens ʼn digter is wat meester van sy of haar geheue is, die vors van woorde, die rekordboek van sy of haar eie gevoelens altyd oop vir ondersoek. Aldus Baudelaire in “New Notes on Edgar Poe” byeengebring in Baudelaire as a Literary Critic, Selected Essays, 1964, vertaal deur Lois Boe Hyslop en Francis E Hyslop, uitgegee deur Pennsylvania State University Press.
Wat Baudelaire benadruk is dat poësie bo alles gekonstrueer moet wees. Poësie is nie ʼn naïewe uiting nie. “Even a sonnet needs a plan, and the construction, the armature, so to speak, is the most important guarantee of the mysterious life of works of the mind” (130).
Struktuur waarborg ook dalk nie die suksesvolle gedig nie (wat is ʼn suksesvolle gedig tog!). Wat ek wel in die oog het, is “the most important guarantee of the mysterious life of works of the mind”.
Vandaar dalk bemoeienis. En belangstelling.
JH
Die huis as selfportret verbind jou aan Jung se siening van die self as ‘n huis. Hoe voel jy hieroor? Lees jy Jung?
JM
In navolging van Jung het Bachelard die self/huis verruim in die kelder (met die soms irrasionele herinneringe), die solder (met die helder insig) en hoekies (wat afsondering bied) – laasgenoemde met die gedagte dat dié hoekies die plekke is waar ʼn mens kan skuil en alleen kan wees en kan onttrek.
Bachelard was dit wat volgehou het dit is deur poësie, selfs meer as deur onthoue, dat ons die diepte van die ruimte van die huis raak. Die huis wat die dromer skuiling bied en ruimte gee om te dagdroom.
JH
Daar is ook reise na verre plekke (Beiroet, o.a.) en psigiese reise via Pablo Neruda. Hoe sien jy die uiterlike versus die innerlike reis?
JM
Twintig jaar gelede het Beiroet nog die letsels van die burgeroorlog gehad. Maar die stad was nie vervalle nie. Dit was die tyd van brose voorspoed, vindingryke argitektuur en daardie joie de vivre waarvoor Beiroet so bekend is. Twintig jaar gelede lê ver terug in ʼn geheuebank. Verrassend hoe ʼn dampie appeltwak ʼn mens niksvermoedend kan oorweldig en jou so bewus maak van ʼn somersaand dat jy dit as’t ware aan jou voorarms kan voel.
Reis, geheue en die neus vorm ʼn driehoek van verrukking wat my keer op keer mateloos gelukkig maak. Die belewenis is skerper as om na ʼn foto te kyk. Waarskynlik takel die neus die brein anders as byvoorbeeld die oog. Waaroor ek bly is.
Die feit dat soveel mense al aan plekke (stede) minnesange opgedra het, dui tog op liefdesverhoudings (soos met mense) met plekke. So kan ʼn mens ten opsigte van mense én plekke in nuutgevonde liefde verkennend bedag wees en uitgelate. Eweso kan ʼn mens by geskeidenheid troosteloos wees en lewenslank hunkerend bly.
Reis is ʼn verruklike ervaring. Innerlike reis nie minder nie.
JH
Vormspel soos Insake die sonnet ( 37 en in 38) doen jy moeiteloos:
Insake die Sonnet. As taal dan soos
Andromeda van ouds, as stimulus
om te ontdek geketting aan ʼn kus
van Afrika …
Hoe sien jy die vorm van ‘n gedig? Iets waarmee jy eksperimenteer? Ons sien immers hoe jy reëls in ‘n sirkeldans laat gly.
JM
Terugskouend sou ek dink iets van Cloete se gedagtes in sy “Behoefte aan ongunstige weers- en ander omstandighede” het moontlik my benadering tot dié bundel beïnvloed. ʼn Bewus word van ʼn teveel wat noodwendig lei tot ʼn behoefte aan reduseer, tot stroop, tot strenger vorm, tot 140 lettergrepe per gedig.
Waar ek tans is bekoor die vryheid van vrye vers my minder, en is ek dwingend (om jou woord te gebruik) bewus van die feit dat die verbluffendste inhoud nie ʼn gawe gedig waarborg nie. Van poësie is daar verskeie definisies, wat wonderlik is. Nietemin meen ek daar is veral nou plek vir poësie met ʼn oog vir prosodie. Soos vir oerlig.
Shakespeare se 154 sonnette was dalk die vertrekpunt. En toe sonnette in ander tale. Eweso het vorm my opgeval in sonates, in fugas, in argitektuur, in toesprake van klassieke orators, oral was daar orde waarin die inhoud gegiet is. Daarvan het ek bewuster geword.
Die rymlose sonnet (“blank verse” soos dit ook heet) met jambiese pentameter het my bekoor. Die orde, maar ook die beperking. Ek wou ʼn bundel beplan met minder as 10 000 lettergrepe.
JH
Jy gebruik ook die woord queer. Ek dink hier aan die werk van wyle Marthinus Beukes wat boeiende resensies oor Johann de Lange en die posisie van die queer-digter geskryf het. Hoe sien jy dit?
JM
Taamlik algemeen word aanvaar dat queer ʼn band met seksualiteit het, maar nie beperk is tot seksualiteit nie. Hoewel dit ʼn sinvolle verstelling is op die eng siening van queer as onlosmaaklik gekoppel aan die een of ander vorm van seksualiteit, hoop ek nie queer is inherent of eksklusief gekoppel aan ʼn vaste of vereenvoudigde verstaan van seksualiteit nie. Queer is nie ʼn doel op sigself of staties nie, maar is ʼn kritiese ingesteldheid wat normatiewe kategorisering van seksualiteit en gender kan ontwrig, ook homonormatiwiteit.
Soms dink ek daar is nie soveel goed wat die mensdom moet aanleer nie; wel ʼn hele boel wat ons kan afleer. Soos tonnelvisie.
JH
Watter rol speel musiek (Ravel, Mozart, Bizet o.a.) in jou skryfwerk? Waarna luister jy wanneer jy dig?
JM
Dalk kan ek gewoon net nie multi-task of twee dinge gelyk doen nie. Ek kan nie skryf en na musiek luister nie. Soms maak musiek ʼn gedagte wakker (daar is niks soos klank en reuk wat die geheue laat regop sit nie), maar die luister geskied sonder skryf en die skryf geskied sonder musiek.
Oor die rol van musiek? Ek sal verlep sonder musiek. Die Los Angeles Metro se plan om luide Beethoven en Mozart en Vivaldi te gebruik om hawelose mense van die strate af te hou, sal dalk nie heeltemal in my geval slaag nie (https://www.latimes.com/entertainment-arts/story/2023-04-04/loud-classical-music-macarthur-park-metro-los-angeles-decibel-meter).
JH
In hierdie bundel sluit jy aan by die lang galery van digters wat oor die goddelike dimensie dig:
Wat denneboom en wind nie kan verwoord
oor God bly polifonies ongesê.
Wie is jou gunstelinge in hierdie verband?
JM
“Nothing has ever been said about God that hasn’t already been said better by the wind in the pine trees.” Dié woorde word graag toegeskryf aan die Amerikaanse monnik en teoloog Thomas Merton. Nietemin kon ek dié woorde nie in sy skryfwerk opspoor nie. Ek dink egter nie Merton sou heeltemal uit die veld geslaan wees as hy die woorde op Facebook onder sy naam sou sien nie.
Oor die goddelike dimensie soos jy dit noem dink ek met verwondering. En ek hoop om hierdie verwondering te behou, eerder as om vas te draai in komplekse teologie (eng menslike nadenke oor God, wat paradeer as die denke van God self). Weer eens, ek het meer af te leer as aan te leer.
JH
Daar is subtiele toespelings op Plato, Nietzsche, Breton, Adorno – “weggesteek” vir die speurende leser. Sluit dit aan by jou studie “Deconstructing identity in a landscape of ideology, culture, belief and power”.
Hierdie leser was deurgaans bewus van twee ekke wat praat.
JM
Die mense wat jy noem sou algemeen dalk as filosowe bekend kon staan, hoewel hulle skrywers en digters was wat met hul skryfwerk sin probeer maak het van die plek en tyd waarin hulle gelewe het.
Ek hoop daar kan selfs meer as twee ekke uit die houtwerk kruip! Met betrekking tot identiteit het ek jare gelede besef dat die verhale wat oor jouself vertel word, maar ook dié wat jy oor jouself vertel gestalte gee aan wat ons identiteit sou noem. Verander die verhale en die identiteit kan van gestalte verander.
Ek dink immer aan Walt Whitman se woorde: “I am large, I contain multitudes.”
JH
Daar is eweneens ingebedde verwysings na romanskrywers. Ek lees ook Borges raak in die sirkelgang, sowel digter as prosaskrywer, tussen hier en daar; veral tussen genres.
JM
Alles wat ʼn mens skryf word bepaal deur wat jy gelees het. Iets van “I am a part of all that I have met…”, die gedagte van Alfred, Lord Tennyson in “Ulysses”.
Sodoende sit ʼn mens met ʼn dikwels onderbewuste ophoping van woordeskat, struktuur, styl en idees wat deur voortdurende lees geabsorbeer word. By uitstek is die skrywer spons.
Maar hopelik het lees in dié konteks meer tot gevolg as net die verbruik van bestaande idees – dit is die kuns van skryf. Om te struktureer, om te verfyn.
*
Hartlik bedank Johan vir ‘n ryk bundel en hierdie gesprek. Hiermee bevestig jy jou status as Hertzogpryswenner nogmaals.

Baie geluk, Johan Myburg, met die nuwe bundel! Skitterende onderhoud hier met Joan Hambidge se leiding. Ek sien uit om te lees!