Bloureën
Die dag toe ons gelukkig was, was ’n gewone dag.
Die son het opgekom, en later weer gekwyn.
Niks meer, niks minder.
Nogtans is ons gestingel aan daardie terloopsheid
soos twee bloureëntrosse aan die draadprieel
van ’n gegewe moment.
Die dag toe ons gelukkig was, was ’n normale dag.
Die son het opgekom, en later weer verdwyn.
Onteenseglik was ons wel vir ’n wyle lig en straal
in daardie terloopse verloop van ons behoud
telkens wanneer ons bloeisel wil wees
in die stiltetyd.
© Louis Esterhuizen / 2026
