skisofrenie
‘n kind wat anders is
i
Calalini is die kat
hy speel met Woensdag
op die grens van wat
haar wêreld
en nou ook joune is
hy grou sy naels
in haar wang in
‘spring in die dam’
beveel hy,
‘jy kannie swem nie’
koggel hy
sy brein is glasig
400 die rot
is die gedrog
op die kussing
hy byt haar in die nek
slag die aar af
sy hoor die tonnel
en die beer skree
in die waaier teen
die plafon waar
persone, diere, nommers
op die mure dans
ii
Blienk is die tier
hy grom deur skerp tande
por haar om die
pop te versmoor
Sewe is die dwerg
sy weet voor jy weet
dat hy gevaarlik is
dat sy ‘n voorbode beleef
dat hy gewetenloos is
Karnivorus is die bok
wat met Ses Grade
skaak speel
en altyd wen
net omdat hy
een uur uit Woensdag hap
as hy jou met sy horings stoot
sal jy van die maan afval
daar is nommer en nikse
simpels en plurale
gille en vokale
in die land wat van watte is
© Anne-Marie Bartie, 2026
