
Resensie: Sonnette vind ek absoluut pateties. Speelse verse van Robert Gernhardt, Christian Morgenstern, Joachim Ringelnatz. Uit Duits vertaal deur Robert Schall, Naledi, 2026.
Resensent: Daniel Hugo
I
Robert Schall is ’n uiters vernuftige vertaler. Dit het hy reeds bewys met die vertaling van Jan Wagner se gedigte met hul ingewikkelde interne ryme (Wat ek van klippe weet, Naledi, 2021). Hy is dus by uitstek geskik vir die verafrikaansing van speelse verse waarin die spel met woord, klank en vorm ’n deurslaggewende rol speel.
In sy gevatte en insiggewende voorwoord verduidelik Schall waarom hy Robert Gernhardt, Christian Morgenstern en Joachim Ringelnatz gekies het. Hulle is naamlik die drie gewildste twintigste-eeuse Duitse digters “wat hoofsaaklik op grond van hul humoristiese gedigte bekendheid verwerf het”.
Schall verduidelik voorts die belang van rym vir die komiese effek in hierdie soort verse: “Een van die stoutse kunsgrepe is die opsetlike toepassing van rymdwang, in verskillende gedaantes; in ekstreme gevalle word die spelling van woorde verander of nie-bestaande woorde ingespan om ’n rym te bewerkstellig.”
’n Onberymde vertaling van ’n gedig wat oorspronklik gerym het, is futloos. Die rym, metrum en woordspel maak dit dikwels nodig om vry – soms baie very – te vertaal. Schall illustreer dit aan die hand van sy én Barend J. Toerien se herdigting van Morgenstern se “Das ästetische Wiesel”. Toerien se vertalings van Morgenstern het in 1997 verskyn as Houtjies van die galg (Galgenlieder), en dit is besonder prettig om Schall se vertalings met dié van Toerien te vergelyk.
II
Die titel van Schall se bloemlesing kom uit ’n nogal skatologiese gedig van Gernhardt waarin hy skel op sonnetdigters en dié klassieke versvorm. Dit is natuurlik alles blote skyn, want hy doen dit self in die sonnetvorm met sy streng vormlike uitdagings van rym en metrum.
Die eerste reël in die Duitse gedig lui só: “Sonnette find ich etwas von beschissen”. Schall se weergawe open kuiser: “Sonnette vind ek absoluut pateties.” Maar in die volgende reël tref hy die leser tussen die oë met die gewaagde, onafrikaanse ryme “shite” / “feit”. Daardie “shite” korreleer natuurlik met “beschissen”. Dit illustreer die bekende feit dat vertalings altyd ’n balanseertruuk is: Wat op een plek verlore gaan, word op ’n ander plek vergoed. Dit is ’n spel van verlies en kompensasie.
Speelse gedigte is nie altyd bloot ligsinnig nie. Dit blyk uit Gernhardt se “Sewe keer my liggaam”. Dié gedig met sy sewe strofes begin só:
My liggaam is ’n brose ding,
hoe goed dat hy my het.
Ek gee hom klere, huis en dak,
en snags ’n verebed.
Die liggaam is egter ondankbaar. Hier is die laaste strofe:
My liggaam is so asosiaal.
Ek praat en hy bly stom.
Ek leef ’n lewe lank vir hom.
Hy bring my langsaam om.
Dit is duidelik waarom Robert Schall gekies het om Gernhardt se “Alles über RS” te vertaal. In die Duitse gedig staan die RS vir “Robert Selbstzufrienden”. Daarmee is Schall dus ook besig om met homself te spot:
Robert Selftevrede meen
God het hom aan ons geleen,
en dis nou ons eie saak
wat ons met dié gawe maak.
’n Mens sou die voorletterooreenkoms ’n gelukkige toeval van die literatuurgeskiedenis kon noem.
Die briljantste vertaling in die boek is myns insiens “Die dag waarop die verdwy het”. Die titel van Gernhardt se gedig is “Der Tag, an dem das verschwand”. In die Duitse gedig gaan dit oor die verdwyning van die letter “l”; in die Afrikaanse gedig is dit die “n” wat soek raak – soos reeds uit die titel blyk. Die Afrikaanse herskrywing is heelwat vernuftiger as die oorspronklike:
Die dag waarop die verdwy het –
wat ‘ gekers va tade!
Die digters, ag, moes ophou dig,
e sit ou op hul hade.
Die druk bou op, met digters wat
beoud a asem sak.
Solak die kort sal hul oder
dié druk heel moontlik kak.
Aanvanklik lyk dit vir die leser na geheimtaal met hier en daar iets verstaanbaars, maar sodra hy die sleutel van die vermiste “n” gekry het, begin die pret. Die onwelvoeglike slotwoord blyk dan heel onskuldig “knak” te wees, maar dit bly tog in die geheue vassteek. Die herhaalde woord “druk” dwing die leser onwillekeurig om tog “kak” te lees in plaas van “knak”. Hierdie gedig verskaf my onheilige plesier!
Naas die geheimtaal van dié gedig is daar die brabbeltaal van “Lighartige digter”. Die soort spel wat Gernhardt hier speel, is ook in Afrikaans gedoen deur Peter Blum in sy gedig “Man wat mal word”. Die eerste deel van Schall se weergawe klink só:
Die gedig verdig, sê jy. – Máár,
hoe gemaak dan as dit brabbel?
As dit, sin en vorm verlatend,
vreemdwoords deur die versreëls fabbel?
As dit sonder ’n verstaanding
wroklik jou en mou ontsetsel
en met al hoe dimmer slomheid
vorderbaks tot droefte kletsel?
III
Schall se keuse uit die speelse verse van Morgenstern open met die gedig “Die middelmatige vertaler regverdig homself” waarin hy homself waarskynlik wil herken:
Klink na suur druiwe, miskien,
maar dis tog g’n geheim:
Jy kan net één baas dien,
die oorspronklike of die rym.
Die gedig eindig met ’n uitspraak wat gelukkig nie op Schall van toepassing is nie: “Daar is net slegte vertalings / en minder slegtes.” Hy is beslis nie ‘n “middelmatige vertaler” nie.
Morgenstern se gedigte is oor die algemeen lawwer as Gernhardt s’n, maar ewe vermaaklik. Daarby het ons in Afrikaans die bonus om Schall se vertalings naas dié van Toerien te kan plaas. Dit is vir my byvoorbeeld onmoontlik om te kies tussen hul verwerkings van “Die Trichter”. Hier is Schall se “Die tregters”:
Twee tregters wandel deur die nag.
Deur elk se al hoe slanker skag
vloei goudgeel maanlig
soos warm vla
op hulle
pad
et
c
.
En Toerien s’n:
’n Tregter stap een nag met sy maatjie.
Deur hul lywe se vernoude gaatjies
skyn wit maanlig
soos ’n toorts
op hulle
woudpad
en
s
.
In “Die owerheid” gee Schall ’n getrouer weergawe van die wartaal van “Die Behörde” wat met die hoogdrawende taalgebruik van burokrate spot, maar dit is byna onbegryplik in Afrikaans. Toerien se vertaling verloop veel vlotter en verstaanbaarder. Daarteenoor is Schall se “Filantropies” weer beter as Toerien se vertaling, ensovoorts.
“Das ästetische Wiesel” is waarskynlik Morgenstern se bekendste gedig. In Afrikaans bestaan daar drie vertalings daarvan – dié van Schall, Toerien en Gunther Pakendorf (Woorde soos pluimsaad – Duitse gedigte uit agt eeue, 1990). Ek plaas hulle onder mekaar in dié volgorde. Maar eers die Duitse gedig:
Ein Wiesel
saß auf einem Kiesel
inmitten Bachgeriesel.
Wißt ihr
weshalb?
Das Mondkalb
verriet es mir
im Stillen:
Das raffinier-
te Tier
tat’s um des Reimes willen.
Die estetiese sjimpansee
’n Sjimpansee
sit op ’n kanapee
en lees die Odussee.
Weet jy
wel hoekom?
Die snoek kom
en verklap aan my
die geheim:
Dié uitgeslaap-
e aap
doen dit om die rym.
Die estetiese dassie
’n Dassie
sit op ’n kassie
vlak by ’n waterplassie.
Weet jy
waarom?
Die maankalf
het my dit geleer
so stilletjies:
Die gesofistikeer-
de dier
doen dit rymontwilletjies.
Die estetiese uil
’n Uil
sit op ’n suil
by ’n helder waterkuil.
Weet julle
hoekom dit so is?
’n Langoorhus,
’n slim oom Kool,
ken die geheim:
Die geskool-
de voël
doen dit ter wille van die rym.
Ter wille van die rym word die vreemdste dinge in die digkuns aangevang. Speelse digters doen dit om lesers van die lewe se ellende te laat vergeet en – moontlik ook – om hulle ’n blaaskans van die ernstige poësie te gee.
IV
Schall vertaal Ringelnatz se gedigte nie net in Afrikaans nie maar ook in Engels. Hy is ’n poliglottiese fenomeen wat boonop Afrikaanse gedigte in Duits vertaal. (Sommige daarvan is op Versindaba gepubliseer.) Hier is sy twee weergawes van “Das Nadelkissen bildete sich ein”:
Die naaldekussing
’n Naaldekussing het bevind
sy’s Ystervark
se mooiste kind.
’n Naaldekussing is,
soos ons van oudsher wis,
’n ding vol naalde wat kan steek.
Wie sou haar dan ooit wou weerspreek?
The pincushion
A pincushion imbibed some wine,
then claimed to be
a porcupine.
Whatever now the case may be:
It’s plain that both these entities
sport prickly personalities,
so, who are we to disagree?
Soos wat Schall in sy voorwoord uitwys, is dit noodsaaklik om sommige geografiese verwysings vir Suid-Afrikaanse lesers bekender te maak. In Ringelnatz se gedig “Logik” verander hy Kattegat (die seestraat tussen Denemarke en Swede) na Tafelbaai, en Norderney (’n eiland in die Noordsee) na Groenpunt. In enkele gedigte voer hy dit myns insiens egter te ver. Die byhaal van gebeure op die UCT-kampus in “Die vuurhoutjie” en “Auntie Sophie at UCT” is te pertinent lokaal en boonop gedateer. Die satire sal talle lesers ontgaan. Dieselfde geld die verwysing na die ANC in “Drieledige alliansie”.
Ten slotte ’n gruwelrym, “Uit my kindertyd”, van Ringelnatz:
Vadervreugie, moederskootjie,
kleuterhokkie, huisie fraai,
towerheksies, tannie Kootjie,
koekies wat jou maag laat draai.
As ek in die kamer opgooi,
balk my boetie soos ’n muil.
As hy balk, slaan Sus hom katswink.
As sy slaan, moet Moeder huil.
As sy huil, dan vloek my vader.
As hy vloek steek Tante dop.
Steek sy dop, kry ek haar koekies –
en dié koekies gooi ek op.
V
Apollo, die god van die digkuns, het Robert Schall vir ons geleen, “en dit is nou ons eie saak / wat ons met dié gawe maak”. Wat ek daarmee gaan maak? Aanhou geniet van wat dit bied.
