klein ode
vir Maritha Snyman (1952-2024), na N.P. van Wyk Louw se “Groot ode” (Tristia, 1962)
ons s’n is dit:
jy bly bestaan hoe klein ook,
met juistheid in die gehekelde somerstrui
en die silwergrys konsertromp;
met bietjie trots in elke skrywe waarin grappies
en reënboë die alfabet van lees vir aspatatte en oumas leer;
so bestaan jy ook steeds met heelwat liefde deur die oë
van elkeen wat jy beter laat sien,
leef ons ironies voort met eindelose vergiffenis
vir jou skielike afwesigheid –
ʼn gapende swartmaalkolk
in ons bestaan
© Linette van der Merwe, 2026
