Fransi Nieuwoudt is in 1982 in Polokwane gebore. Sy verwerf Golden Key International Society-lidmaatskap (2002) en ’n honneurs-graad in Media Studies aan die Universiteit van die Vrystaat (2004). Fransi is ’n simboliese kunstenaar. Sy neem reeds vanaf haar laerskooldae (1993) deel aan en verower talle pryse by kunsuitstallings en kunsfeeste. In 2001 word sy as die wenner bekroon by ’n Kovsies-digkompetisie en in 2005 ontvang sy ’n toekenning vir spesiale bydrae by die Aasvoëlklub in Bloemfontein. Sedert 2009 verskyn van haar gedigte in verskeie versamelbundels. Sy debuteer in 2016 met die bundel ’n vlerkslag van kleur by Cordis Trust Publikasies. Die omslagontwerp van die bundel is gebaseer op een van haar eie kunswerke. Sy het ook die kleurplate binne die bundel geskep. Woord en beeld is vir haar ineengestrengel en sy gebruik dit as ’n wederkerige spel. |
my lewe as ´n pi
asblikke kan nie sing nie
stenografeer jy in 40hzs
‘n universum van betekenis
omskryf ‘n mikrokosmos
waar slegs
die wind deur openinge waai
Gaia het nie lief nie
in selfontbranding
is ek
die wit spikkel
die polsende aandwydte
ek is
die vrou wat in omwenteling
‘n boonste mantel omhels
simboliek blinddoek
‘n spesie wat reeds binne-
toe blik
my volmaanklippies reën nie
ysige lig
in ’n donker landskap nie
en die elemente is
nie ‘n vlerkslag van kleur nie
maar ek is ‘n digter miskien ontlont
brandende kerse
‘n chemiese verandering
en smelt hitte was
sonder
die uitkruip van langstert-salamanders
voete wat wortelskiet
die drink van esdoringsap
die uitskink van ’n seepampoentjie
tog sien jy ook
‘n boom die groenbruin
drup van mos
in ons skilpad
(Uit: ‘n Vlerkslag van kleur. Cordis Trust, 2016)