Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba

Maritha Broschk

Maritha Broschk behaal haar BA Honneurs (cum laude) in Afrikaans in 1996 en ontvang die Kagiso-toekenning vir die beste student in Afrikaanse letterkunde. Gedurende hierdie tyd doseer sy aan die Departement Afrikaans van die Universiteit van Pretoria en ontwikkel voorgraadse studiemateriaal, maar besluit om ’n ander rigting in te slaan deur haar as kopieskrywer te bekwaam. Ná etlike jare in die reklamebedryf vestig sy haar as vryskutskrywer en sluit aan by die skryfspan van die sepie 7de Laan, waar sy draaiboeke vir meer as 900 episodes lewer. Sy skryf steeds TV- en kopietekste en bedryf sedert 2023 haar eie onderneming wat fokus op die ontwikkeling en verspreiding van kosmeseutiese produkte.

Maritha dig al van jongs af.

“Dis vir my ’n vorm van terapie; ’n manier om sin te probeer maak van die wêreld om my, maar ook ’n manier om met woorde, klank en tipografie te eksperimenteer en my brein bietjie oefening te gee. Dis my stokperdjie en my sieletrooster.”

Van haar gedigte is in versamelbundels opgeneem, waaronder I Wish I’d Said Vol. 3 (2020), Maskers en mure (2021), die lewe is ’n asem lank (2023) en Merang (2025). Haar debuutbundel, wanneer woorde asemhaal, was in 2024 op die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se kortlys vir die Eugène Marais-prys.


swanesang

 

dood begin by die voete, het ek Breyten aangehaal

na jou hoeveelste oudisie,

jy het net gelag, gesê: as ek nie dans nie, ís ek dood

en jou bloeiende tone verbind en verberg

in bedrieglike satyn

ons eiesoortige pas de deux – ek denker, jy danser –

twee spikkels in ’n skare aspirantdromers,

ek onthou hoe ons in jou flat in Sunnyside bokswyn drink,

Mahler luister, en ek aanhaal – God is dood –

jy wat lag soos ’n drein – nee, Nietzsche is! –

jou arms swaaiend asof jy ook windmeulens jaag,

ons het geglo ons is uniek soos jy glo as jy jonk is

en aan halms van clichés klou – if you can dream it you can do it –

en hét jy gedroom – van hoofswaan in die hoofstroom wees,

die slapende skoonheid verrys ná die kus van sukses,

die naam Gisela klink na Giselle, lag jy en pirouette tot by die yskas

vir nog ’n glasie,

later ’n buiging vooroor soos ’n kwynende Odette

terwyl jy ’n wit lyn sny

want dit maak jou veerlig en jy wil vlieg, vlieg soos ’n swaan

jy maak jou buiging, keer op keer, in rehab,

plié oor ’n urienstokkie, jou pupille swart gate in die kollig

van ’n dokterslig

maar jy wil vlieg, veerlig soos ’n swaan

die opsigter kry jou in jou flat in Sunnyside

met rigor mortis-tone gepunt en onverbind

vingers steeds ongekrul – allongé! – en ek dink Gisela wat na Giselle klink,

as jy nie dans nie, is jy dood my maat, met die laken ’n gordyn

oor jou gesig

en ek vra vir God of jy en Nietzsche nou op dieselfde plek is

en huil en huil elke keer as ek Mahler hoor

 

©Maritha Broschk

 


doodverlang (’n aleksandrynse vers)

 

jou wimpers voed my nyd: jou oë in hul greep
jou lippe is my toorn: jou stem se dubbelslot
veragt’lik is jy, vel; jy skans my weg van hom
ek wil jou binnedring, my hart by jou inwring
jou asem skep en blaas… klop-klóp, hier’s jy weer t’rug!
my wimpers knip jou weg: my oë soek na jou

my lippe roep jou naam: is hemelwesens doof?
my asem is my hel: ek leef en jy is dood

©Maritha Broschk (uit: wanneer woorde asemhaal, 2023: Turksvy Publikasies)

 


Kunsmatige Intelligensie

 

voer onderwerp in

enige onderwerp

en ek spu rye woordbraaksels

afleidings, navorsing,

grammatikaal koherente namaaksels

 

kil dupliseer ek

kyk, ek skryf selfs gedigte

meesterlik (volgens alleman) herkonstrueer ek

interpretasie, emosie

verstegniek en rympatroon

 

ek is die volmaakte sosiopaat

ek oortree die wette van Asimov

ek is die reeksmoordenaar van verbeelding

en belewenis

ek is perfek vir hierdie wêreld

 

©Maritha Broschk (uit: wanneer woorde asemhaal, 2023: Turksvy Publikasies)

 

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. verskille
  • Anne-Marie Bartie. vlinderslag
  • Hendrik J. Botha. Teen sononder
  • Anne-Marie Bartie. bewys van betaling
  • Marius Crous. Twee mombakkiesliedjies

Nuutste bydraes

  • Digtersprofiel: Johan Myburg
  • Joan Hambidge. Piromaan
  • Joan Hambidge. My geliefde voormalig
  • Jasmyn Beetge. Delikaat
  • Hennie Maartens. oorskot

Nuutste kommentaar

  1. Margaret Cordier-Biermann on Margaret Cordier-Biermann. Vrye teuels16 July 2026

    Dankie, Andre — jy verf gedigte en ons ry nou tyd en woorde bloots.

  2. Andre Roothman on Margaret Cordier-Biermann. Vrye teuels15 July 2026

    Uiters gemaklik op die literere verteringsstelsel. tyd die tiran het sy deugde.

  3. Toekie on C Fritze. Boodskap aan die see14 July 2026

    Pragtig geskryf. Het dit baie geniet.

  4. Bernard Odendaal on Daniel Hugo. Wat ’n vers kan verraai en vermag13 July 2026

    Die onderbenoeming - konkreter: die min woorde - roep treffend ‘n ysliker en aaklige “werklikheid” op.

  5. Karin on C Fritze. Boodskap aan die see13 July 2026

    Dié gedig praat met my hart en met my siel. Ek verlang na die klank en die reuk van die…

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d