![]() Martina Klopper is in 1976 gebore en het grootgeword op Reitz in die Vrystaat. Sy matrikuleer aan die Bethlehem Voortrekker Hoërskool. Sy het haar B.Mus-graad in 1999 behaal by die Universiteit van Pretoria. Sy voltooi in 2008 ‘n M.A.-graad in kreatiewe skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad. Haar debuutbundel, “Nadoodse ondersoek” (2010), ontstaan hoofsaaklik uit die gedigte wat sy skryf vir haar M.A. Van haar gedigte word in die versamelbundels Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte en Vers en vrou opgeneem. Sy het begin werk as rekenaarprogrammeerder vir sowat vyf jaar lank, hoofsaaklik databasis-ontwerp. Sy werk tans as ‘n besigheidsanalis in die finansiële dienste-sektor en woon in Kaapstad. |
Besoek
Poetry arrived in search of me – Pablo Neruda
Hierdie gedig besoek my soms,
ek wag geduldig op haar koms:
sy is jy.
Haar geraamte is ‘n leë woord,
‘n spook; sy droom van lyfkry:
sy is jy.
Maar sy vertoef nooit lank nie,
sy skrik as ek aan haar raak:
sy is jy.
©Martina Klopper (uit: Nadoodse ondersoek, 2010: Human & Rousseau)
Gebreekte triolet
Jy vind databasis-integriteit
in die juiste verhouding tussen ID’s;
as die primêre band breek sal
jy vind, databasis-integriteit
is verstoor; ons as databasisse
is almal so – bandeloos – want
jy vind databasis-integriteit
in die juiste verhouding tussen Id’s.
© Martina Klopper. Augustus 2010