![]() Tom Dreyer is ’n skrywer asook die direkteur van ’n IT-maatskappy in Stellenbosch. Hy het ’n Honneursgraad in Engels van die Universiteit Stellenbosch en ’n MA in Skeppende Skryfwerk van die Universiteit van Kaapstad. Sy romans sluit in Erdvarkfontein, Stinkafrikaners, Equatoria, The Long Wave en Dorado. Sy mees onlangse prosawerk, Kodachrome, het in 2022 verskyn. Stinkafrikaners is met die Eugene Marais-prys bekroon, en sy ander werk is onder meer gekortlys vir die M-Net prys, die Universiteit van Johannesburg Prys, die KykNet Rapport filmprys, Screencraft se International Cinematic Novel Competition en die Sunday Times Literary Award. Van sy gedigte is opgeneem in Nuwe Stemme, Gerrit Komrij se bloemlesing Die Afrikaanse poësie in ’n duisend en enkele gedigte, Maskers en Mure en Die Skerpgevylde Oomblik. Hy was in 2019 die wenner van die Afrikaanse afdeling van AVBOB se nasionale poësiekompetisie. Sy debuutbundel, Nou in infrarooi, verskyn in Mei 2023 by Kwela. |
slaap jy solank, dan hou ek die fort
vir jaco botha (1972– 2016)
beteuterd soos twee pienk kwitansies
pas ontvang vir twaalf kopieë
van ons ma-verhandelings
dwaal ek en jy na die middel-kampus
van uct platane platane en ʼn flitsblik
van die see ek onthou hoe jy daai aand
in ons gehawende flat digby de waal-park
mooitjies ʼn sigaret uit jou kwitansie rol,
sodat jy weer behoorlik kan asemhaal
ek sien jou soms steeds dáár
te hyper om lekker te sit dalk daarom
deurlopend op soek na iets om aan te steek
of dood te druk of ʼn radio om aan te peuter
of failing all else ʼn liggaamsdeel om aan te krap
onthou jy die nag toe ons meer as enigiets
die more wou sien breek oor magersfontein?
met die wegtrek het jy nonstop gepraat
oor die verskille tussen fisante en patryse,
maar skuins ná drie was die maan kil
oor clanwilliam se water die more ver
patryse net so stom soos fisante
ons was koud en moerig
vir onsself maar meestal vir mekaar
onthou jy die week toe ons op rys en mayonnaise
oorleef het, of die keer toe ons die agtersitplekke
van my alfa uitgehaal het op soek na kleingeld
vir checkers se goedkoopste sigarette?
ek sien jou oplaas op die gewel van jou kothuis
staan en botweg weier om af te kom ek hoor jou kla
dis gevaarlik daaronder en ek weet wat jy bedoel
nes daai aand by die kknk toe jou trane soos whisky
op die kroegtoonbank spat, en jy sê: kom ons gaan slaap
eerder, tom, dan is ons ten minste nie meer wakker nie.
ek verstaan my tjom my tjom slaap jy solank want die nag
is lank en die son sal basically forever oor magersfontein verrys
intussen sal ek nog vir ʼn rukkie dié kant die fort probeer hou
solank ek nog onthou solank ek nog onthou solank
*
infanta
uit die geslotenheid van die boland
reis ek na infanta verby sir lowryspas grabouw
en riviersonderend waar ʼn coke-lorrie sy vrag
voor die carica superette verloor en voort via protem
en stormsvlei tot by cloeteskraal om daar af te trek
want dis vroegaand
en die vinke is onstuitbaar in die riete
hier word die wêreld môreoggend hergebore
maar tot dan toe staan dié bouval swart
en nougeset op sy fondasies
in ʼn nag wat strek soos ʼn pad tussen die berge
soos ʼn verposing of ʼn poort na daardie sterre
waardeur joerie gagarin vir die eerste keer kon flits
om 06:55 toe cloeteskraal se flinkste vinke roer
het hy die dag van bo af sien breek oor infanta
en kaap agulhas sy kompasnaald begoël
deur magnetiese steurings
om 08:05 verskyn hy
uit die son bo kazakhstan as glas en staal
en valskermsy aan aartappelplanters
soos aan skeerders van overbergse skape
en hy sê: moenie bang wees nie
ek is jul kameraad
ek het uit die ruimte neergedaal