W.L. [Willie] van der Merwe (1957) het opgegroei op ’n plaas naby Meyerton in Gauteng. Hy behaal grade in die teologie en filosofie met lof aan die Universiteit van Stellenbosch en was lid van D.J. Opperman se letterkunde-laboratorium. Sedert 1997 is hy professor in filosofie aan die US en het reeds verskeie kere as besoekende professor opgetree aan universiteite in Nederland en België. Na sy verblyf op Stellenbosch het hy ’n pos aanvaar in Utrecht, Nederland. Sy debuutbundel, Doodmenslik, verskyn in 2018 by Protea Boekhuis. |
Donkerte
donker dae, donker son
die opstaan, die skuifel
die aantrek, die uitgaan
die busstop, die trein
donker die hysbak, die asems
die blikke, die twyfel, die wyfel
die vensters, die skerms, die letters
die syfers, die tekste, die somme
donker die wolke, donker die reën
donker die stasie, die trein, die bus
donker die halte, die huis, die kombuis
donker die ete, donker die wyn
donker die kamer, die ruit
tot ek speel op jou sonnige luit
(Utrecht, Februarie 2009)
***
Die kleur van grys
ons het die hele dag gewandel
onder lae wolke
onder tin-getinte lug
van Scheveningen tot by Katwijk
en toe weer terug
ons het die hele dag gewandel
onder lae wolke
al langs die lewelose duine
al langs die ruggraatlose rug
wat hierdie land van grysgroen plasse
skei van die nog gryser gryse
van die houtskool see
© W.L. van der Merwe – Maart, 2009
***
Kapelaansdiens
son skroei die aarde
ons loop in formasie
luitenant op die spits
links die korporaal
disnis gedrink elke aand
aan Black Heart Rum en Coke
regs van hom die seiner
sy radio ons lewenslyn
dan volg die troepe in ’n V
dis hoe jy patrollie loop
elkeen gewapen met sy R4
en ek loop in die middel
met my pistool en pers beret
want ek is kapelaan
sou dit nodig wees
kan ek die witvlag hys
of wie vermink is
nie langer meer laat ly
– daarvoor my pistool
dít is oorlog:
’n kind wat waatlemoen
wou steel word afgemaai
en vanaand word daar gelag in die kroeg
oor hoe hy eers wit-oog geskrik het
en toe dubbeld gevou het toe die ratata-
ratata-ratata van ons R4’s hom in stukke ruk
die son brand die aarde
ons lewe in die grond
drink ons Black Heart Rum en Coke
kots en rol rond
want ons wil nie weet van die oorlog nie
van luitenante, korporaals, troepe, seiners
kapelane met hulle pistole
op wie dit aankom in ’n oorlog
om lewe wat alreeds vernietig is
met ’n genadeskoot te blus
Uit: Versindaba 2006. Marlise Joubert (samesteller), Protea Boekhuis, 2006