Posts Tagged ‘Marni Bonthuys’

Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans

Saturday, June 19th, 2021
Dit is tans ongelukkig so dat die meeste akademiese tydskrifte agter ‘n betaalgordyn lê en redelik ontoeganklik is vir mense wat nie daarop ingeteken is nie. Sodat ons lesers ingelig kan bly in terme van wat tans oor die letterkunde en, spesifiek, oor die poësie geskryf word, sal Versindaba in die vervolg ten minste die opsommings van artikels wat oor die Afrikaanse en die Nederlandse poësie handel, publiseer. Ek begin met die Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans, wat vir alle lesers toeganklik is. By die volgende skakel kan alle uitgawes van dié tydskrif besoek word:

https://www.suiderafrikaanseverenigingvirneerlandistiek.org/tn-a2

 

Die volgende artikels wat op die Afrikaanse digkuns betrekking het, het die afgelope jare in die Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans verskyn. Ek plaas telkens ‘n skakel na die betrokke uitgawe, maar lesers sal daar na die spesifieke artikel moet soek.

 

Alwyn Roux en Yves T’Sjoen

’n Kartering van Breyten Breytenbach se betrokkenheid by die Gorée-instituut vir demokrasie, ontwikkeling en kultuur in Afrika (1987-2017)

https://b3f77c64-2d72-45e8-b3d8-aba14b158ae9.filesusr.com/ugd/1ca66c_67b40e2f400944b9af07bc067ae36309.pdf

 

Marius Crous

Enkele Nederlandse gedigte oor Bach en sy musiek

https://b3f77c64-2d72-45e8-b3d8-aba14b158ae9.filesusr.com/ugd/1ca66c_acca397ce81c4d62aa96de6dd8b0ff69.pdf

 

Marni Bonthuys

Riekert, Weideman en Myburgh: Die representasie van Noordwesterse ruimte in drie Afrikaanse digbundels

https://b3f77c64-2d72-45e8-b3d8-aba14b158ae9.filesusr.com/ugd/1ca66c_77df0c7ee2614910aa40e46bf325c311.pdf

 

Ronel Foster

Van VOC-verversingspos tot V&A Waterfront, en verder: Die representasie van die Kaap in enkele gedigte

https://b3f77c64-2d72-45e8-b3d8-aba14b158ae9.filesusr.com/ugd/1ca66c_92102a9bc87a4b6fb95ac4c7ce683d87.pdf

 

Bernard Odendaal

Nawerkings van Herman Gorter se Mei (1889) en Verzen (1890) in die Afrikaanse digkuns

https://b3f77c64-2d72-45e8-b3d8-aba14b158ae9.filesusr.com/ugd/1ca66c_2cc8aea34de24a07a3ee34daa01893b0.pdf

 

Marius Crous

’n Diergerigte lesing van “Beeld van ’n jeug: duif en perd”

https://b3f77c64-2d72-45e8-b3d8-aba14b158ae9.filesusr.com/ugd/1ca66c_2cc8aea34de24a07a3ee34daa01893b0.pdf

 

Bernard Odendaal

Naklanke van Paul van Ostaijen se avant-gardistiese digkuns(-beskouings) in Afrikaans (deel 1)

https://b3f77c64-2d72-45e8-b3d8-aba14b158ae9.filesusr.com/ugd/1ca66c_70f24affb3004ecab93c4c24271be2f0.pdf

 

Bernard Odendaal

“Poësie as spel”: George Weideman oor die naklanke van Paul van Ostaijen se avant-gardistiese poësie in sy eie digkuns (deel 2)

https://b3f77c64-2d72-45e8-b3d8-aba14b158ae9.filesusr.com/ugd/1ca66c_70f24affb3004ecab93c4c24271be2f0.pdf

 

 

Marlies Taljard

(Inhoudsbestuurder: Versindaba)

 

Resensie: Tuin van digters (Daniel Hugo)

Wednesday, April 8th, 2020

 

 

 

Tuin van digters deur Daniel Hugo. Christel Foord Selfpublikasies, 2020.

Resensie: Marni Bonthuys

 

Daniel Hugo se Tuin van digters (2020) is ’n bloemlesing van en oor ’n literêre lewe. Die bundel sentreer die kwessies van intertekstualiteit, pastiche, parodie en kreatiewe vertaling in die sin dat die hele bundel as’t ware ’n literêre gesprek is wat die digter met voorgangers en tydgenote voer. Soos onlangs weer blyk tydens die debat oor die Engelse vertaling van Willem Anker se bekroonde Buys, is hierdie kwessies begrippe wat lesers verdeel en verwar, maar – veral – boei.

Tuin van digters se mooi titel roep die jaarlikse digtersfees by die Breytenbach-sentrum in Wellington op en suggereer ’n feestelike bloemlesing (dink: poëtiese blomme in die digterstuin) van digters wat ’n impak op Hugo tydens sy lang loopbaan gehad het. Die voorbladfoto is dan ook van Hugo wat rustig met sy hond in sy tuin in Prins Albert sit (sien Marlies Taljard se onderhoud met Hugo op Versindaba).

Daniel Hugo is waarskynlik een van die mees bekende figure aktief in die Afrikaanse letterkunde en literêre veld. Hy het al bykans twintig selfstandige digbundels geskryf en tientalle Afrikaanse vertalings van veral Nederlandse skrywers se werk, asook spesiale uitgawes en kritiese essays van en oor die Afrikaanse letterkunde saamgestel. Sy optredes op televisie en op kunstefeeste maak van hom verder ’n bekende gesig en sy talle radioprogramme ’n bekende stem vir Afrikaanse lesers. Uit die gesprek met Taljard blyk dit dat die bundel ’n 65ste verjaardaggeskenk van die digter aan homself is, met die datum van sy verjaardag (26 Februarie 2020) op die titelblad. Dit is dus naas ’n viering van kollegas en invloede ook ’n viering van sy eie veertigjarige loopbaan, aangesien die digter die bundel saamgestel het uit ’n seleksie van sy vroeër gepubliseerde en enkele ongepubliseerde gedigte.

Die gedigte is skynbaar chronologies geplaas volgens publikasiedatum (onderaan die gedig verskyn die oorspronklike bundeltitel en jaar van publikasie in hakies) met die ongepubliseerde gedigte aan die einde van die digbundel. Die meeste gedigte handel oor ’n digter, letterkundige of uitgewer – drie-en-vyftig volgens die inligtingstuk. Dit sluit groot geeste in die Afrikaanse letterkunde in, soos Totius, Uys Krige, N.P. van Wyk Louw en sy broer, W.E.G., D.J. Opperman asook T.T. Cloete. Opvallend hier is die figuur van Opperman wat in vier van die gedigte vermeld word. Hugo is tydens sy studentejare ’n deelnemer aan Opperman se beroemde Letterkundige Laboratorium wat uiteindelik verskeie van die groot digters in Afrikaans sou oplewer. Enkele internasionale digters word ook vermeld – van wie se werke deur Hugo vertaal is. Die tweedelaaste gedig in die bundel word byvoorbeeld aan die Vlaamse digter Marc Tritsmans opgedra. Hugo se vertaling van Tritsmans se werk, getitel Die singende wêreld, verskyn in 2019. Twee gedigte (“Vir Omar en Opperman” – in hierdie geval dus vir twee voorgangers; asook “kwatryn-trein”) word op sy beurt aan die historiese Persiese digter en wiskundige Omar Khajjam opgedra wie se ikoniese kwatryne in 2014 deur Protea Boekhuis uitgegee word as Die roebaijat van Omar Khajjam. 50 kwatryne vertaal deur Daniel Hugo.

In die tradisie van die postmodernisme, is die intertekstuele gesprekke wat Hugo voer egter dikwels huldigend én, terselfdertyd, ondermynend. Soos hy dit in die onderhoud met Taljard stel, is van die gedigte oor vriendskappe wat versuur het en vetes met kollegas. Die leser kry die gevoel dat van die gedigte oor literêre figure dikwels na binnegrappies verwys waarmee hy/sy nie noodwendig bekend is nie. Hierdie faset is soms ietwat vervreemdend, hoewel dit vermaaklik sal wees vir diegene wat al die nuanses verstaan. Een so ’n gedig is “Berig aan Opperman” waarin ander deelnemers van bogenoemde literêre kweekskool ter sprake kom as Hugo aan die ontslape Opperman verslag doen oor wat in die Afrikaanse literêre wêreld op daardie stadium (volgens die publikasiedatum onderaan die gedig: 1987) aangaan. Digters soos T.T. Cloete, Sheila Cussons, Antjie Krog, Wilma Stockenström, Joan Hambidge en Annesu de Vos kom onder andere aan bod met Hugo wat rapporteer oor hul suksesse en, veral, mislukkings. Die gedig is speels, miskien selfs nydig (“pas het met ’n bundeltjie Hollywood-kitsch / gedebuteer jou eks-assistent, Lonestar Hambidge”), maar, weereens, sou dit gelees kon word as ’n ondermynende huldiging – die digter-spreker gee in die tweede strofe van hierdie langer gedig reeds te kenne dat naas Cloete die “digteresse mos die broek [dra]” sedert Opperman se “vertrek”. Die feit dat hierdie digters enigsins vermeld word, wys op hul belang in die literêre veld, al was hierdie prominensie kortstondig soos Hugo oor Opperman se “gekneusde Annesu / jou troetelkind” suggereer. Dié gegewe skakel met die slotgedig getitel “Kunsblomme”. Dit lui:

 

die meeste digters verdwyn

in die onmeetlike kuberruim

soos gebluste meteore

 

slegs ’n klein uitverkore

klompie haal die helde-akker:

daar wag hulle om wakker

 

gemaak te word, opgeruim

met hul ruikertjies woorde

deur die bloemleser se blink basuin

 

Naas enkele gedigte soos “Suising” oor die marginalisering van Afrikaans, is die onderwerpe van Tuin van digters dus nie te gewigtig nie – sien byvoorbeeld die grappige “Slaaploos op Prins Albert” in gesprek met A.D. Keet se “Muskietejag”. In die afdeling “Vers-ikone” en die gedig “Villanelle” speel Hugo ook met verskillende versvorme. Soos wat die digter in die openingsgedig “Vir die kritici” te kenne gee, is daar nie iets soos perfekte poësie nie: “die digter sal onvolmaak bly skryf / tot daardie dag van die leeu en die lam / die kat en die duif”.

Deurgaans in Tuin van digters is daar sprake van ’n postmodernistiese inslag waar die digter-spreker wat uit die verf kom duidelik ’n groot liefde vir die lettere het, maar desondanks nie sy nering of sigself te ernstig opneem nie. Ten spyte van die speelse toon is dit die meer ernstige leser van poësie, diegene wat geïnteresseerd is in kwessies soos intertekstualiteit, kreatiewe vertaling, pastiche en parodie, wat hierdie bundel sal geniet. Vir die ingeligte leser en die letterkundestudent sal die leesplesier veral daarin lê om die verwysings na literêre figure wat soos paaseiers in die digterstuin versteek is, te soek en dan te vergelyk met die register agterin.

 

Webadres van uitgewer: cfoord@yebo.co.za