Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
19 November 2009

Brugge, een oggend

Zandra Bezuidenhout

 

 

 

 

Die poësiefees in Oostende was agter die rug. Dat die dae somber en mistig was, die bome nog vol wintertreurnis en die stede spookagtig stil, was van minder belang. Dit was tyd vir `n reis na binne in die boekwinkels van Antwerpen, die Letterkundemuseum in Hasselt, die Poëziecentrum in Gent. Maar dit was in Brugge dat iets onvoorsiens dié Februariedag sou verhelder – meer nog as die kordate klein  narcisse, trompettergeel aan die oewer om die Begijnhof.

 

In die binnestad het die ouwêreldse handwerk in `n uitstalvenster my opgeval. Dalk was dit die geborduurde motiewe op `n tafeldoek, of die spel van lig deur `n kantsluier wat my na binne gelok het. Toe die swaar koperhandvatsel agter my klik, was dit soos `n vreemde tuiskoms, soos herkenning soms deurtrek is met huiwer. Die winkel sou ek `n warm skulp kon noem, of `n uitgesponne droom. My vingerpunte het langsaam die kronkelinge van sy en lint oor roomwit linne nagetrek, en ek het gewonder oor die hande wat eenmaal hieraan gearbei het. Elke item was `n tasbare gedig wat een na die ander voor my oë ontvou.

 

Christine D'haen
Christine D'haen

Meteens was my gedagtes by Christine D’haen, grande dame van die Vlaamse poësie. Dit was háár stad, Brugge, en op die ingewing van die oomblik besluit ek om na haar te gaan soek. Iewers agter die grysbruin klipmure van hierdie ou Middeleeuse stadjie, iewers aan `n straat van keistene, moes sy haar bevind. Sy was reeds gevorderd in jare. Sou sy nog leef? Dit was my laaste kans om hierdie merkwaardige vrou wie se digkuns ek so bewonder en nougeset bestudeer het, te ontmoet. Ongevraagd, onaangekondig, en teen alle reëls van burgerlike fatsoen.

 

Maar waar sou ek begin? Die verkoopsdame het nog nooit van dié mens gehoor nie, en van die poësie wis sy nog minder. Net daar kry sy van my D’haen se poësie in `n neutedop. Effe onthuts haal sy die telefoonboek uit en begin halfhartig maar simpatiek rondblaai. Nee, geen D’haen in Brugge nie. Saak afgehandel, flits haar blik. Maar toe onthou ek wat die veelbekroonde digteres eenmaal in `n onderhoud kwytgeraak het: dat sy die toeriste se nimmereindigende koetsritte en die geklap van perdepote voor haar deur nie meer kan verduur nie. Hulle dawer glo daagliks by haar huis verby.

 

“Watter roete sou die koetse volg?”, vuur ek my volgende vraag af, volkome bereid om agter `n koets of twee te drafstap – die ritte was veels te duur –  tot iemand my kon uitwys waar die digteres woon. En toe die oomblik van Aha: “O sy!”, giggel my gespreksgenoot, “daardie kunssinnige vrou wat altyd so mor oor die perdepote! Ek weet waar sy woon.” 

 

d'haen-huis
D'haen-huis

Die winkelvrou word `n medepligtige. Sy teken vir my `n kaart op `n papiersakkie; enkele strate daarvandaan sal ek die huis vind, maar die nommer ken sy nie. Sy skat dis so vyf tot tien minute se loop. Teen daardie tyd bewe ek van my wolberet tot in my stapstewels, die loom warmte van die winkel ten spyt. Wat gaan ek vir Christine D’haen sê as ek haar te siene kry?  Sal sy die deur oopmaak, en sal ek haar herken? Moontlik gaan sy my by haar huis uitboender, moeilike dame wat sy is. Op daardie oomblik skeel dit my niks. Ek voel so braaf soos Dulle Griet. Al moker D’haen my met `n besemstok, sou dit heilige houe wees.

 

Dis ysig as ek in op die middaguur voor die deur staan. My oë knipper terwyl ek haar naam en getroude van op die posbus se balkie lees, en die nota in dieselfde oumens-handskriffie: “Geen ongevraagde pos in de bus doen a.u.b.” Geld dit ook vir my? Net nog `n lastige flenter rommelpos? Ek bel nietemin aan, en loer na die boonste verdieping. Die son is uit; die gewel kunstig geklad teen `n skaamblou Laaglandse lug. `n Sleutel draai in die slot; dan gaan die deur behoedsaam oop. Dit is sy! Kompleet soos op die foto’s; nou klein en grys met `n tjalie om die skouers, maar steeds die dogtertjiegesiggie met die helder oë.

 

Dit is tyd vir vinnig praat. Soos `n lam ter slagting plaas ek alles op die spel in my noodhulp-Nederlands: “Goeie dag, Mevrouw. Vergeef mij, u kent mij niet, maar ik ben een Zuid-Afrikaanse en een groot bewonderaar van uw werk, en een deel van mijn promosie-onderzoek ging over uw poëzie…” hoor ek myself veraf voortrammel. 

 

Sy bly staan in die halfoop deur. Sy glimlag innig, steek haar hand na my uit, en hou dit `n rukkie vas. Sy vra weer my naam en ons wissel `n paar woorde – vra my nie meer wat dit was nie. “Wat lief van u”, sê sy dan. Sy maak verskoning dat sy my nie kan innooi nie, maar sy en haar dogter is albei baie siek. Ons groet weer; plegtig, hoflik, beslis. Die deur gaan ferm op slot.

 

Met die wegstap klop my hart in my keel soos toe ek in Sub. A die hardloopresies gewen het. `n Rukkie later draai ek terug om `n foto van haar huis te neem, en nog een, vir ingeval. Ek weet nie wat in die ure daarna gebeur het nie, behalwe dat ek iewers gaan sit het. Met koffie, en nog koffie, vir die floute terwyl die ervaring heen en weer in die gedagtes terugrol. Byna twee jaar later probeer ek vir die eerste keer daaroor skryf: oor die klein ewigheid wat hom in `n oogwink voltrek het.

 

Christine D’haen is in September vanjaar oorlede. Op `n Kaapse lente-oggend neem ek een van haar bundels uit my boekrak en lees weer die klassieke gedig, “Domus”. Om my slaan affodille op, soos een oggend in Brugge, in Februarie 2008.

 

 

Deel:

  • Click to share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Click to share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading...

Lees meer

← Jan Pollet. Dat was wel even anders in 1830.
Yves T’Sjoen. Lees maar, er staat meer dan de tekst (6) Christine D’haen →

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Augustus-kompetisie
  • Resensie: "Kinderlê" deur Lynthia Julius
  • Resensie: "Miniatuur". (Johann de Lange)
  • Boekbespreking: “Taboek” (Riku Lätti)
  • Resensie: “Stil gesprek” (Jan Pretorius)

Nuutste bydraes

  • Onderhoud met Marthé McLoud oor “Ontbloot”
  • 100 Duitse Bestes: Rainer Maria Rilke (1875-1926) (II)
  • Joan Hambidge. Oosterse digkuns  Deel I
  • Digtersprofiel: Dietloff van der Berg
  • Resensie: “Ontbloot” (Marthé McLoud)

Nuutste kommentaar

  1. Ilse on 100 Duitse Bestes: Rainer Maria Rilke (1875-1926) (I)9 June 2025

    Dankie vir die lieflike vertalings!

  2. Heleen Louw on Jacobus Swart. Franz Kafka4 June 2025

    Treffend uitgebeeld. Jou vermoe om die essensie van 'n lewe' te omskryf is iets besonders vir my. En dan jou…

  3. Caren Kearley on Resensie: “Dawerende stiltes” (Caren Kearley)4 June 2025

    Dankie Maria, jy is welkom om my te kontak as jy een wil bestel. carenkearley@gmail.com. Ek is Ninni ewig dankbaar…

  4. Joan Hambidge on Ilse van Staden. Deursigtige oggend3 June 2025

    Beeldskoon hoe hierdie gedig vloei.

  5. Charl-Pierre Naude on Charl-Pierre Naudé. Mymering28 May 2025

    Hierdie is 'n interessante kommentaar deur jou, Hans. Dankie. Ek kou nog daaraan ... Ek moet nog jou opstel waarna…

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • onderhoude
  • Onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2025 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d