Marilyn Monroe as digter

Marilyn Monroe

Marilyn Monroe

Met haar platinumblonde hare en uurglaslyfie het Marilyn Monroe haar gevestig as een van die mees herkenbare ikone van die vorige eeu. En natuurlik het haar goedbeplande loopbaan – gepaardgaande met opspraakwekkende “skandes” in haar privaatlewe – daartoe bygedra om haar openbare beeld nie net as “seksbom” te vestig nie, maar ook as die prototipe van die “dom blondine”.

Volgens ‘n berig in The Guardian gaan dié persepsie egter teen die einde van die jaar aan flarde geskeur word wanneer die uitgewery Farrar, Straus and Giroux in samewerking met Editions du Seuil in Frankryk haar nagelate dagboek in Oktober publiseer. Volgens die persverklaring bevat Fragments egter nie net dagboekstukke nie, maar ook gedigte en filosofiese beskouiings wat sy nooit gepubliseer het nie en wat grootliks daartoe gaan bydrae om die intellektuele en emosionele geskakeerdheid van dié ikoon ten toon te stel. “It helps to illuminate her character and gives her an intellectual and literary substance that many people did not suspect,” het Bernard Comment, redakteur by Editions du Seuil, aan Reuters gesê.

Blykbaar was dié stukke geskryf vanaf haar tienerjare tot en met haar (vermoedelike) selfmoord in 1962. Sy het dit aan haar leermeester en vriend, Lee Strasberg, nagelaat wat dit weer op sý beurt aan sy vrou, Anna, nagelaat het wat nou besluit het om dit vir publikasie voor te lê.

“She was a great reader and someone with real writing flair. There are fragments of poetry that are really quite beautiful, lines that stop you in your tracks.” Aldus Courtney Hodell van die Amerikaanse uitgewery se kommentaar aan Associated Press, en bygevoeg dat dit duidelik uit die melancholies-geskrewe stukke blyk dat die skryf van gedigte vir Monroe ‘n terapeutiese gegewe was: “I think that not only did she enjoy [it], but she also felt the need [to write], to sort out her life and try to put down the extremely acute feelings that she could have in reaction to certain situations.”

Ongelukkig kon ek nog geen van die gedigte op die internet opspoor nie. Daarom plaas ek vir jou leesplesier T.T. Cloete se beroemde gedig “Marilyn Monroe foto in blou” hier onder.

***

Vanoggend is daar twee nuwe vertalings in die vertaalkamers deur Daniel Hugo met verse deur onderskeidelik Gerrit Komrij en Herman de Coninck. Beide verse is opgeneem in die gepubliseerde vertalings “Die elektries gelaaide hand” (Komrij) en “Die lenige liefde” (De Coninck). Nog ‘n besonderse toevoeging is ‘n nuwe gedig, “Via Dolorosa, deur Joan Hambidge. Dan het Lewies Botha ‘n nuwe blog-inskrywing oor die mense wat jy ontmoet, geplaas en Desmond Painter twee: een oor die ontmoeting tussen Robert Pinsky en Bruce Springsteen en een met nog ‘n droedelende vers deur hom.

Lekker lees en mag dié week klipvry verloop.

Mooi bly.

LE

 

Marilyn Monroe foto in blou
T.T. Cloete

een jonge dame draagt haar lippen op haar mond – Pierre Kemp

volskaamte skrylings sit Marilyn Monroe
in ‘n volstrek
leë blou
ruim vertrek

die spanbroek van plooilose blou materiaal
is ‘n vliesdun vel
wat alles wat binne is kaal
na buite egalig sag gestrek nerfeus vertel

asof dit by alles pas
– die kop hang geluidloos effens laggend agteroor –
hou sy ‘n leë glas in die linkerhand vas
wie luister kan goed in die volstrekte stilte hoor
hoe skaamtegroot die lippige mond
oop lag pront
pruilend nat rooi rond
gewelf soos ‘n gekoesterde soet kriewelige wond

vir die nakende detail in die bygesprek
– met ‘n omweg kan bysake die aandag trek
op hoofsake – is slegs die een skoen uitgetrek
elke besonderheid is op sy plek

deur die volstrekte stilte heen hoor groot
praat die deurgefluisterde skoot
oop en bloot
nakont vlesig groot

wat gloei onder die vals-egte dubbele huid
juig deur alle lippe en wange uit
dat dit tuit dat dit tuit
uitjubelend gierig uitnodigend uit

vrouwees Simone de Beauvoir
is deur huid en deur haar
oop en openbaar
gekleed sigbaar

oog en oor laat hulle nie bedrieg nie
huid en haar weet nie van lieg nie

 

(c) T.T. Cloete

  

 

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Marilyn Monroe as digter”

  1. Johann Bruwer :

    Geagte meneer

    Johann de Lange is ‘n begaafde digter, maar dis tog so jammer dat hy so ‘n prima donna is. Ek kan nie glo dat hy julle so kleingeestig behandel nie. Maar nou het julle meer plek vir ander digters.

    Johann Bruwer

  2. Louis :

    Dankie vir jou vriendelike kommentaar, Johann. Aangesien daar ander is wat waarskynlik soos jy na hierdie aangeleentheid kyk, wil ek graag volledig hierop reageer.
    Met jou verwysing na Johann de Lange as “begaafde digter” stem ons heelhartig saam. Maar met die karakterisering van hom as “prima donna” is ons, met respek, hoegenaamd nie gemaklik nie. Ons het hier met verskillende perspektiewe en/of verwagtings tov die webblad te make. Daarom dat Johann nie sy weg kon oopsien om verder as redaksionele medewerker (wat hy inderdaad was) aan die blad te kon meewerk nie; veral ook omrede hy onlangs ‘n eie (en indrukwekkende) weblog begin het.
    Maar – die feit bly staan dat die kwessie van sensuur (waarvan hy ons beskuldig) en goeie smaak (waarby ons staan of val) altyd ‘n netelige en hoogs debatteerbare punt is.
    Sy onttrekking is ‘n beginselsaak waarin ons ons hoegenaamd nie verlekker nie; en ons vertrou ook nie iemand anders nie.
    Ten opsigte van jou slotopmerking: Op hierdie webblad sal daar hopelik altyd plek vir iemand wees wat ‘n konstruktiewe bydrae tot die ontwikkelling en instandhouding van ons digkuns wil maak.
    Met waarderende groete,
    Louis

  •