Die kousale aard van krieket

Krieket

Krieket

Vanoggend dan, die tweede aflewering in my kort reeks van sportwekkers en dit handel oor krieket wat rofweg beskryf kan word as die stryd tussen kolf en bal. Vanweë die amper oordrewe kousale aard van dié spel kan dit egter ook beskryf word as die spel van vraag en antwoord, met die bal wat die vraag stel en die kolf wat antwoord.

Vir die bouler as vraagsteller is daar verskeie variante wat die aard van sy vraag gaan bepaal: die lengte (hoe ver van die kolwer vat die bal grond), die lyn (ten opsigte van die paaltjies), die spoed waarteen die bal afgelewer word en uiteraard die dinamika van die bal. (Atmosferiese toestande is nog ‘n variant, maar hieroor het hy min beheer …)

Nietemin, die bouler boul en stel die vraag: Meneer Kolwer, wat gaan jy doen indien ek die bal kort van ‘n lengte plant, met ‘n effens wegswaai van die wegpen af? En die kolwer antwoord: O, ek sal terugtree en die bal, wat heuphoogte by my verby skiet, na regby kap. En, indien ek die bal op ‘n voller lengte plant, reg op jou middelpen gerig, mnr. Kolwer? Dan sal ek na vore tree en die bal met skut en kolf by mekaar op die kolfblad smoor …

So is daar vir elke aflewering ‘n bepaalde teksboekhou wat deur die kolwer uitgevoer kan word. En daarvogens stel die bouler se kaptein sy veldwerkers op: indien die bouler kort gaan boul, met die bal wat gevolglik hoër na die kolwer gaan lig, is die verwagting dat die bal in die lug in gespeel gaan word. Die meeste veldwerkers word dus vir ‘n vangskoot opgestel. Indien die bal op ‘n vol lengte geboul gaan word (maw nader aan die kolwer gaan grondvat), word ‘n dryfhou op die grond langs voorsien. Veldwerkers word dus opgestel om die bal van die grond af op te pik en enige moontlike lopie af te sny. Aangesien die bal egter deur die lug mag “swaai” – maw ietwat afwyk van die oorspronklike lyn – is die moontlikheid altyd daar dat die kolwer die bal met die rand van sy kolf gaan raak en nié die bal met die volle oppervlak van die kolf gaan tref nie. Daarom sal die kaptein veldwerkers in vangposisies agter die kolwer plaas (die sogenaamde glipveldwerkers.)

Nietemin, die fassinerede aspek van krieket is wanneer daar begin word met die kat-en-muis-speletjie wanneer bouler en kolwer mekaar probeer uitoorlê. Die bouler mag die kolwer onder die indruk bring dat hy kort gaan boul weens die manier wat die veldwerkers geplaas word, maar dan boul hy onverwags ‘n streepbal reg op die voete van die kolwer wat reeds sy momentum na sy agtervoet begin verplaas het in afwagting op ‘n bal wat hoër gaan lig … En voila! Been-voor-paaltjie of selfs skoongeboul. Eweneens mag die meer vaardige kolwer oor die tegniek beskik om van die verwagte “teksboekhou” af te wyk en ‘n hou te speel wat die bouler nié kon voorsien het nie.

Daar moet egter ook onthou word dat ‘n snelbouler die bal teen ongeveer 140 km/h afstuur; die kolwer het dus minder as ‘n sekond om die bal te “lees” ten opsigte van lyn en lengte en te besluit watter hou in antwoord gespeel moet word. Die draaibalbouler, daarenteen, boul sy aflewerings báie stadiger (ongeveer 80 km/h) en plaas met vinger- of gewrigaksies heelwat rewolusies op die bal sodat dit sywaarts van die kolfblad af skiet: na die kolwer toe weg van hom af.

Inderdaad, ‘n skaakspel wat ten volle op die kousale beginsel van oorsaak en gevolg gebaseer is.

Die aspek van krieket wat my egter die meeste intrigeer is die kwessie wat met geometrie verband hou. Volgens my word in bepaalde kulture voorkeur gegee aan bepaalde geometriese vorme. So word die Westerse kultuur eeue reeds gedomineer deur die reguit lyn. Dink byvoorbeeld aan reghoekige argitektuur, straatplanne, voertuie, musiek (snaar-instrumente, melodieë, temas), tydsbegrip, lewensbegrip (oorsaak & gevolg), ens. ens. Daarteenoor domineer die sirkel die Oosterse kulture: ronde geboue met koepels, sirkelstede, ronde grafte, reïnkarnasie, sikliese tydsbegrip, jing-jang, ronde musiek-instrumente, sikliese musiek-komposisies, ens. ens.

Die punt is: krieket kan ook gesien word as die stryd tussen die sirkel (bal, speelveld, kring van veldwerkers) teenoor die reguit lyn: kolf, kolfblad, houe wat gespeel word en lopies wat gehardloop word. Net so is die spelbenadering tot dié fassinerende spel ook kultuurgebonde. Die Britse-styl van krieket (waaronder ook ons gebuk gaan) verskil byvoorbeeld hemelsbreed van die Oosterse spanne soos Indië en Sri Lanka s’n. Eersgenoemde maak byvoorbeeld baie meer staat op ‘n aggressiewe benadering van snelboulers en beheersde, dog aanvallende kolfwerk. Die Oosterse spanne konsentreer weer op stadiger boulwerk met verbluffende tegnies-korrekte kolfwerk waar die plasing (en beheer) van die bal van kardinale belang is. (Ek besef dat ek verskriklik veralgemeen, want met die moderne kits-benadering tot die spel en die groot aantal wedstryde teen uiteenlopende spanne die afgelope tyd, is hierdie historiese onderskeid tussen verskillende tradisionele benaderings tot die spel nie meer so duidelik waarneembaar nie.)

Nogtans bly krieket ‘n uiters fassinerende spel wat na alle waarskynlikheid deur die duiwel bedink is en in die hel as Nasionale Tydverdryf gespeel word. Want wanneer jou span in beheer is, is dit ‘n uitgerekte vreugde wat oor etlike dae kan strek … Maar wanneer jou span aan die verloorkant is, is tandekners en sielsverwoestende frustrasie jou voorland. Sug.

By wyse van afsluiting verwys ek jou graag na die webtuiste “Cricket poetry” waar daar sommer heelwat gedigte oor krieket gelees kan word. Vir jóú leesplesier plaas ek egter Arthur Salway se gedig “A turn of the wrist” onder aan vanoggend se Nuuswekker.

***

Na al die sport-hoogtepunte die afgelope naweek is ek verheug dat die webblad darem nie agterweë gebly het nie; die week begin omtrent met heelwat nuwe inhoud. Onder die bloggers het Philip de Vos en Desmond Painter nuwe stukke geplaas, terwyl Marcelle Olivier en Carina van der Walt met nuwe bydraes tot Buiteblik vorendag gekom het. Ten slotte fokus ek graag jou aandag op die nuutste digstring wat gisteraand geplaas is, naamlik Carina Stander wat vertel van die ontstaansgeskiedenis van haar gedig “Lima“.

Lekker lees en geniet die week wat op hande is.

Mooi bly.

LE

 

A turn of the Wrist

  

Soccer is won with cultured feet

And rugger with grit and grist;

But when cricket is played the difference is made

By a delicate turn of the wrist.

 

Our modern-day players are athletes

But expertise doesn’t consist

Of power or pace: take W. G. Grace,

It was all in his turn of the wrist.

 

Give K.P. a well pitched up straight one

That would bowl any batsman who missed,

And it’s off middle peg and down through long leg

With a powerful turn of the wrist.

 

When Wame thinks a batsman can read him

He’ll bowl one he cannot resist.

It isn’t the grunt that gets him up front

It’s the well-disguised turn of the wrist.

 

It helps if a chap’s double jointed

As slow motion replays will tell.

In the instance of Murali, I fancy there’s surely

A turn of the elbow as well.

 

It’s not only batsmen and bowlers

From artistry will not desist;

“Owzat?” they all shout, and the mans given out

With an elegant turn of the wrist.

 

So never mind muscles and fitness

And everything else on the list;

When all’s said and done, this game can be won

By no more than a turn of the wrist.

 

 

(c)  Arthur Salway

 

 

Bookmark and Share

4 Kommentare op “Die kousale aard van krieket”

  1. Pieter Hugo :

    Jou vraag en antwoord benadering onderstreep net weer hoekom ek van krieket hou, Louis. As ‘n mens ‘n vergelyking kan tref tussen sportsoorte en tipes poësie, is krieket die naaste sport aan die soort gedigte waarvan ek hou. Krieket se feitlik liniere, bal vir bal, uitgerekte, fyn spel tussen vraag en antwoord, met die deurlopende spanning geskep deur die verwagting van die verassend onverwagte. Ek vergelyk dit met die fyn uitgewerkte soort gedig wat, woord vir woord, perfek geboul word, met heerlik onverwagte woordspel draaiballe wat my as leser uitboul en, soms, ‘n ses wat my asem wegslaan. Maar alles gedoen met ‘n gepoleerde beheerstheid wat juis die trefkrag vergroot deur dit net te impliseer.

  2. Louis :

    Inderdaad, Pieter, inderdaad. Die enigste ander sportsoort wat myns insiens hiermee vergelykbaar is, is skaak; ‘n spel wat eintlik sowel rugby se beginsel van “opsie-vermindering” as krieket se “vraag-antwoord”-beginsel binne die bestek van 64 blokkies betrek …

  3. Pieter Wolmarans :

    Interessant die kwessie van geometriese vorms, Louis. Kyk oor die naweek krieket en toe Petersen op ‘n stadium ‘n dekpunt-dryfhou speel, raak die kommentators liries oor die perfekte sirkel wat sy linker- en regterarm vorm met die linkerelmboog wat hoër gehou moet word as die regter-elmboog. En waar die hande op die steel bymekaar is, natuurlik die reguit kolf. (Ek’s seker daar’s nog baie sulke voorbeelde as ‘n mens ‘n bietjie gaan dink hieroor …)

  4. Pieter Hugo :

    En van geometriese vorms is dit net ‘n systappie na die volgende (aangehaal uit George Langelaan se beroemde sci-fi verhaal, “The Fly”, 1958): “He liked games of logic and precision, such as billiards and tennis, bridge and chess.”

  •