Brief aan Die Burger. 31 Augustus 2010
Dit is met verbystering dat ek kennis geneem het dat die Ingrid Jonker-prys, vanjaar vir ‘n Engelse debutant, nie toegeken gaan word nie. Daar is só min pryse vir digters en dan word hierdie een nou versmaai. In feite beteken dit dat ‘n digter nou met meer digters sal kompeteer oor ‘n langer tyd. Dit is onregverdig teenoor debutante. Daar is glo in Maart besluit om die reëls te hersien. Dis nou amper ses maande later. Kon die sameroepers nie die probleme opgelos het nie?
Ek gaan volledig met Daniel Hugo akkoord:
“Die reëls is glashelder en eenvoudig – daar is beslis geen nodigheid vir ‘presieser reëls’ nie.”
Ons verneem ook dat konsultasie met die komitee nie noodsaaklik was nie? Wat beteken dit? Dat die hele tradisie van die Ingrid Jonker-prys, wat uit ‘n komitee bestaan, bloot negeer word?
Ek was by geleentheid ‘n beoordelaar vir die Engelse prys. Jy lees die bundels, maak ‘n aanbeveling en konsulteer met die ander beoordelaar(s). Jy kan dit per e-pos doen of iemand skakel. Boonop moet iemand vir Rustum Kozain inlig dat hierdie prestigeryke prys nie ‘n groot geldprys is nie, maar ‘n simboliese toekenning met ‘n bronsmedalje.‘n Prys waar digters ander digters bekroon. Iemand soos ‘n Tania van Schalkwyk se puik Hyphen. Engelse debutante soos Arthur Attwell (Killing Time), Sarah Johnson (Personae), Kim McClenaghan (Revisitings) en Fiona Herbst (Time and Again), verder terug in die tyd, behoort ook protes aan te teken namens ander debutante. Daar is nog tyd tot die Versindaba om ‘n toekenning te maak. Opskud, manne!
Dit is helaas ‘n mini-skandaal.
Joan Hambidge