
Vroeër vandeesweek het Die Burger berig oor ‘n besonderse verering wat Marlene van Niekerk in Nederland te beurt geval het. Stichting Perdu bied naamlik vanaand ‘n fees aan waartydens eksklusief op Marlene van Niekerk as digter gefokus gaan word. Die titel van dié fees is De plaats van de dichter en saam met Marlene sal Alfred Schaffer as gespreksleier die verhoog deel, terwyl Rosemarie Buikema, hoogleraar by Universiteit Utrecht en kenner van Marlene se werk, ‘n oorskouende praatjie sal lewer.
Ironies genoeg begin Perdu die aankondiging op hul webblad met ‘n aanhaling waarin Marlene na die belang van die romanskrywer verwys: “De plaats/rol van de romanschrijver en de roman is een plaats van veranderlijkheid, marginaliteit, vervreemding, subversie ten opzichte van de taal en het denken en de praktijken van de status-quo’, aldus de Zuid-Afrikaanse auteur Marlene van Niekerk in een brief aan Rosemarie Buikema (DW B, 2007).”
Daarna swaai hulle egter die fokus direk na Marlene van Niekerk as digter: “Zou diezelfde rol weggelegd zijn voor Sprokkelster (1977) en Groenstaar (1983), de onvertaalde poëziebundels waarmee Van Niekerk oorspronkelijk debuteerde? Hoe zit het met haar poëzie? Welke plaats kunnen we haar rol als dichter toekennen? In Nederland is er tot op heden te weinig aandacht besteed aan Van Niekerks dichterlijke praktijken. In Perdu willen we haar poëzie bij een groter publiek introduceren. Wat gebeurt er in haar poëzie? Welke plek neemt de poëzie in haar oeuvre in? Hoe verhouden haar gedichten zich tot Zuid-Afrika? Hoe kunnen we haar rol als dichter karakteriseren?”
Inderdaad is hierdie ‘n besonderse en welverdiende erkenning wat een van ons mees begaafde skrywers te beurt val; des te meer omrede Marlene van Niekerk se prosawerke sedert 1983 begin het om haar poësie op die agtergrond te skuif. In die onderhoud wat Versindaba verlede jaar met haar gevoer het, het Marlene dit egter onomwonde gestel dat die proses van gedigte maak van karinale belang bly vir haar in haar skryfwerk: “Ek vind dit deesdae veel plesieriger en hoopgewender om gedigte te skryf as prosa. Ek vlug uit die prosa in die gedigte om daar bietjie asem te kry. Ek voel veel vryer en gelukkiger as ek ʼn versie pleeg as wanneer ek ʼn kortverhaal probeer skryf. Kortverhale is vir my die heel moeilikste vorm, ek beland deesdae binne drie sinne van die aanvang in ʼn vreeslike gestoei met vorm. In die romans neig ek natuurlik om te langdradig te wees. Wat ek wel merk, is dat ek steeds meer die eise van poësie aan my prosa oplê – ek soek steeds na ʼn hiper-integrasie op klank- en beeldvlak in die prosa. Die ritme van die sinne is vir my toenemend belangrik. Miskien is dit hoekom die prosa vir my so moeilik voel om te skryf, want ek wil eintlik poësie daarvan maak, maar mens kan dit nie doen oor die hele lengte van ʼn sewehonderd bladsye taamlik realistiese roman nie.”
En kyk ‘n mens na Marlene van Niekerk se mees onlangse publikasie, Die sneeuslaper (2010: Human & Rousseau), besef jy presies hoe uniek en besonders sy hierdie ineenweef van genres hanteer.
Ten slotte – nog ‘n aanhaling uit die reeds genoemde onderhoud: “Dis gevaarlik om te lewe, dis gevaarlik om te dig. Taal is ʼn gevaarlike en lewendige ding as jy hom wakkerkry uit sy ingeslaapte alledaagsheid. Ek voel nie daar is altyd genoeg bewustheid hiervan in ons jonger digkuns nie. Baie gedigte is nogal selftevrede en dof. Oulikheid en dekorasie is ʼn ander gevaar. Ek dink dit is omdat jong digters dikwels nie genoeg goeie of wilde poësie en wilde filosofie lees nie, en die keurders wat hulle moet krit ook nie.”
Wat ‘n prestasie! Inderdaad ‘n besonderse erkenning van ‘n skrywerskap wat oor soveel jare reeds die grense in ons literatuur versit … (En mag daardie langbeloofde volgende bundel nog in my leeftyd op die rakke beland; want dáárna sien ek sommer baie uit.)
As leestoegif, vanoggend, ‘n gedig wat Marlene verlede jaar vir opname in haar gedigtekamer ingestuur het.
***
Sedert gister het daar ‘n nuwe gedig van Johann Lodewyk Marais verskyn, asook twee Engelse vertalings deur Ilze Gertenbach: ‘n gedig van Totius en een van NP Van Wyk Louw. En dan moet jy ook nie TT Cloete se besonderse boekmerk mis wat gister in Die Burger verskyn het nie. Nog ‘n lekker leeservaring vanoggend is Murray La Vita se treffende Oop Kaarte met die digter Danie Marais wat eweneens in Die Burger gelees kan word.
En daarmee eers weer groet. Geniet die naweek wat op hande is; ons hervat weer Maandag.
Mooi bly.
LE
Oggend van ‘n waterfiskaal
Allagot! geglip uit die knukkels,
van hierdie kant se koskans- en hansmaker
wip die waterfiskaal die oggendkier in
kaneeeeeel van verbasing op sy bors,
onder sy kruidnagelkloutjies die rinkink-rulle
spiksplinterspuwende dwarsriviersand
tinktuuuuur van manelkwik geveer op sy flanke
strak in die frak die keil platgekam
akkelief hy oor die akkers tot die waterkant, kyk! –
triljarrrrrrrrrrde klein en groot fiskale innie spiekspiegel
hokaai kohorte kansvatters aankuiers
wat hy konter met pronkstand akimbo,
knipstert na die kindlig in die oewerkrui
en wegstaan, kykso, eeeeene ollewagen onderbaadjie
hy is die een en innigste godontglipper
hier in die prilwilde hoogmakerson
!tewiek in sy keel sit sy roepnaam !tewiek
soos ‘n klok in die bergkut ketoooools
van die mondsagte môre.
Uit: Die Sederbergsuite.© Marlene van Niekerk. Julie 2009