Amanda Lourens. Die krieketbal en sy skaduwee

 Sedert Cloete se debuut met Angelliera in 1980 is die saamdigting van disparate dinge een van die uitstaande kenmerke van sy digterskap.  Sy intellektuele aanslag en vermoë om beskouend terug te staan en met deurgaanse beheer oor sy onderwerp te skryf, maak van hom ’n besonder sterk en herkenbare stem in die Afrikaanse poësie.

 In ‘n onderhoud met Joan Hambidge beskryf Cloete die gedig as “wakkermaker”, onder andere ook vanweë die gedig se vermoë om te dien as koppelvlak met die verskeie fasette van die lewe, wat ook die dood insluit.  Cloete sê dan ook self: “Wie intens bewus is van die dood, kry die lewe lief en leef intens”, sodat ons in sy poësie ’n saambestaan van lewe en dood, en ook dood as singewende deel van die menslike bestaan kan verwag.

 In Onversadig wat onlangs verskyn het, is daar ’n hele paar verse oor sy gestorwe vrou, haar siekte en sy ervaring van die sterwensproses.  Vir Cloete is die dood deel van die lewe; iets waaroor eerlik geskryf moet word en waardeur die waarnemer verryk kan word.

 Vir ons as moderne Westerlinge is die dood nie juis deel van ons daaglikse lewens nie, alhoewel ons in koerante daarvan lees en dit as fiksie in rolprente beleef.  Vir die Middeleeuse mens egter, was die dood ’n sigbare teenwoordigheid en ’n onmiddellikheid, soos versinnebeeld in ou afbeeldings van die danse macabre – die dood as dansende figuur in die midde van die lewendes.  Sonder antibiotika en die ander wondere van die moderne medisyne was memento mori ’n immer teenwoordige refrein en die meeste mense het geleef met intieme kennis van siekte en dood.

  

Wetenskaplike vooruitgang en die institusionalisering van gesondheidsorg het siekte en dood egter toenemend uit die samelewing verwyder, sodat die beeld van die grynslaggende dood vervang is deur eietydse mediabeelde van jeugdige liggaamlike perfeksie.  In hierdie konteks verteenwoordig die terminaal siek liggaam volslae abjeksie, en word dus waar moontlik uit die openbare oog gehou waar dit die waarnemer met afgryse mag vervul.Dit sorg wel soms vir vulgêre sensasie en hou sirkulasiesyfers hoog wanneer daar ’n tekort aan skandale onder die glansrykes is (“Het jy gesien hoe lyk X?,” as die foto van ’n terminaal siek Hollywoodster in Huisgenoot verskyn).

Afbeelding van die danse macabre

Afbeelding van die danse macabre

 

 

 Die eietydse liggaam wat deur die media as ideaal aangebied word, is een wat aan die eis van perfeksie moet voldoen, al moet dit kunsmatig vermag word.Kyk gerus na die verskille tussen die filmsterre van die tagtigerjare en vandag – toe is skewe tande en selfs plooie nog geduld, maar vandag word die liggaam deur tegnologiese ingrepe getransformeer tot plastiek-perfeksie; word die illusie geskep dat die liggaam selfgenoegsaam, intak en veral onaantasbaar is deur iets so natuurlik soos ouderdom, wat nog te sê siekte.

 Hiermee saam gaan die mitevorming van skuld: normale veroudering word verwring as jou eie nalatigheid omdat jy nie eet en oefen en Botoxbehandelings ondergaan soos die ghoeroes voorskryf nie.  Jy “laat gaan” jou liggaam en die gevolge is sigbaar vir dese en gene: skande, skande. Siekte word ook binne die skuld-mite gesitueer, soos Susan Sontag in Illness as metaphor (1978) en AIDS and its metaphors (1988) aangetoon het.  Veral in die twintigste eeu is ’n siekte soos kanker toenemend gefiksionaliseer as die “skuld” van die slagoffer: “[C]ancer is regarded as a disease to which the psychically defeated, the inexpressive, the repressed – especially those who have repressed anger or sexual feelings – are particularly prone, as tuberculosis was regarded throughout the nineteenth and twentieth centuries (indeed, until it was discovered how to cure it) as a disease apt to strike the hypersensitive, the talented, the passionate” (Sontag 1991:98).

 Uiteindelik maak ons perfeksie-gedrewe samelewing van die siek liggaam die uiterste ongewenste; word siekte die vergestalting van die “onnatuurlike”, soos Sontag aangetoon het. Siekte – wat soos gesondheid deel van die lewe is – word ontkoppel van ons konstruk van “lewe” en word verban na areas agter geslote deure, verkieslik inrigtings wat siekte met die minimum morsigheid kan hanteer. “Dood” as romantiese gedagte is tradisioneel dikwels in die kunste geïdealiseer, maar uitbeeldings van siekte en die fisiese realiteit van siekteprosesse dikwels dié wat lesers laat terugdeins.  (Ek herinner my in dié verband hoe mense destyds gekla het oor die uitbeelding van die siekte- en sterfproses in Ek stamel ek sterwe as “onsmaaklik” en “grillerig”.  Ek sien wel dat onlangse webkommentare dit as “chilling” maar “baie goed” bestempel.)

 Sontag koppel ons aversie teenoor siekte aan ons vrees vir die aftakeling en verlies aan waardigheid wat dit inhou. Om hierdie rede word siektes soos kanker of vigs meer gevrees en byvoorbeeld ’n hartaanval, omdat laasgenoemde gesien word as ’n “maklike” of “vinnige” dood (Sontag 1991:124). Die negentiende eeuse romantisering van tuberkulose berus byvoorbeeld grootliks op die inhoudsgewing daaraan as ’n “sagte” sterwe. Deur die ontkenning van die pynlike realiteit van tuberkulose is ’n mite daarvan opgebou as ’n aandoening van veral kreatiewe en boheemse persoonlikhede (Keats, Shelley en D.H. Lawrence was almal tuberkuloselyers). Hierdie persepsie het natuurlik die ruimte geskep vir brose, eteriese heldinne soos Marguerite, Violetta en Mimi. (Dit sal natuurlik interessant wees om die stigmatisering van tuberkulose in die twintigste eeu na te gaan, toe die siekte met arm gemeenskappe geassosieer geraak en sy romantiese kleur begin verloor het.)  Maar siektes met sigbare en aftakelende simptome – veral wanneer liggaamlike uitwerpingsprosesse ter sprake kom – sal waarskynlik vandag nog veel eerder in die doofpot gestop word. 

 Juis teen hierdie agtergrond is Cloete se gedig “helder Saterdag” een wat my opgeval het. 

Helder Saterdag

 

hoe wonderlik is hierdie dag

 

haar eerste dialise word gedoen vroegdag

en Adcock Ingram se glukose word getap

slopemmers vol

 

vannag het die osmose goed presteer

dit weeg 12 kilogram

“dit is ’n goeie oes”

 

Johannes stort die aftreksel plek-plek

uit oor die tuin

 

mog dit die blomme goed laat was

die komas daarmee saam wegspoel

die kanker in die nier die klomp poliepe

en die spasme in die kolon

 

die nagsuster vertrek ’n uur ná sonop

 

hom maak hy vermoeid dig toe

diep in die uitskopstoel vlak langs haar bed

en slaap sy kort vermoeide slaap

 

haar voete is geswel en blou

waar sy haar toon gestamp het

 

die ribbes wat gekraak is

en die skaambeen ná haar val

genees langsaam maar dit genees

 

haar huid jeuk steeds en is ’n fyn

deursigtige vliesdun membraan

 

teetyd gee Kobus haar fisio

 

daar’s bloed in haar urine

 

die peristalsis móét vandag saamwerk

 

dit wat ons daagliks uit die aarde inneem

dit eis sy daagliks weer van ons terug

 

vir ons self afstootlik

herinner sy ons aan ons aardsheid

 

sy doen dit langsaam tot sy ons self vat

 

die warfarin maak beettuin onder haar huid

 

sag aan haar roomgeel vel vat hy

streel oor die pers bloedvlinders

 

geboortevlekke van die dood

 

hy streel sag oor haar buik

wat bult asof sy swanger is

 

haar dun skene haar breekbaar dun polse

betas hy goties slank

soos op ’n skildery van Jan van Eyck

 

vroeg in die dag is sy doodmoeg

 

tog het sy goed geslaap vannag

 

sy word benoud en bleek

 

haar pols tik flou           die bloedsuiker is 6.1

sy mag vandag agurkies eet as toegif

en jellietots suig vir die bitter mond

 

die vispastei vir middagete gooi sy op

 

die mooiste woord uit haar langsame mond

op hulle middaguitstappies met die Honda is mooi

 

mooi laatmiddagson      mooi grasvlaktes

mooi kwikkies in die tuin

 

hulle is porselein wat maklik kraak

poreus vir die insypel en klad van pyn

 

die kinders bel gereeld en sien na hulle om

daagliks kom hulle kuier en troos liefdevol

deur net die name in hulle monde vas te hou

 

saam sit die twee en kyk krieket

sy slaap in van vermoeienis       die skare

se gejuig as iemand uitgeboul word

laat haar opskrik

 

daar is ’n bal en ’n tweede bal

’n rooie en ’n swarte wat die son

grondlangs maak wat onfeilbaar begelei

 

vandag is sy helder

sy weet hoe laat dit is en watter dag

 

’n onaardse dag waarin bont mense

stampvol luilekker op paviljoene sit

of skuins lê onder reënboogsambrele

op hellings groen gras en kyk

hoe speel atlete in lakenwit klere krieket

met die lewe wat skreeu en gil

en in die hande klap

  In die gedig is die voulike liggaam sentraal, maar dan hoegenaamd nie die glansryke, jeugdige liggaam van die massamedia nie. Hier word die ernstig siek vroulike liggaam sentraal gestel, met ’n deernisvolle waarnemer wat egter nie terugdeins voor die realiteit van die siekte nie. Interessant genoeg toon die waarneming van die siek liggaam ooreenkomste met die populêre uitbeelding van die vroulike liggaam – spesifiek deur die gefragmenteerde blik op die liggaam. Mediabeelde, en veral die advertensiebedryf, maak dikwels gebruik van geïsoleerde vroulike liggaamsdele: oë, ’n mond, bene of rug, wat dikwels vertolk word as die objektivering van die vroulike liggaam in diens van ’n bepaalde produk.

 Verskillende fragmente van die liggaam word dan hier waargeneem en beskryf, waaronder die voete, ribbes, skaambeen, huid, buik, skene en polse. Telkens val die fokus op die aantasting van die betrokke liggaamsdeel, hetsy die geswelde en gekneusde voet, die gekraakte beendere, die bloed in die urine of die onderhuidse bloedings.  Daarmee saam word verskillende liggaamlike prosesse en mediese aspekte ook fragmentaries belig: die dialiseproses, fisioterapie, uitskeiding, middelnewe-effekte, polsslag, bloedsuikervlak, dieet, braking. Die keuse om juis gefragmenteerde beelde te gebruik om die siek liggaam uit te beeld, kan die leser laat met die vraag of die gedig nie die siek liggaam reduseer tot bepaalde simptome en aantastings nie, wat dit nie veel anders maak as die gekritiseerde mediabeelde nie.  Die leser sal voorts ook oplet dat daar oorwegend na die “laer” liggaamsdele verwys word en dat die vrou se gesig aanvanklik glad nie betrek word nie.  Ook dit is skynbaar in ooreenstemming met die objektivering of verontmensliking van die vroulike liggaam.  Of slaag die gedig daarin om meer te wees; om ’n sintese van lewe en dood teweeg te bring?  En dan boonop een wat eerlik na siekte kyk, sonder romantiese pretensies? 

 Die gedig bevat twee elemente wat my lei om die gedig as méér te sien.  Die eerste hiervan is beelde wat met swangerskap en geboorte verband hou, maar terselfdertyd die band tussen lewe en dood aandui: “[…] die pers bloedvlinders / geboortevlekke van die dood” asook “[…] haar buik / wat bult asof sy swanger is”.  Hierdie beelde suggereer moontlik die kreatiewe of verrykende aard van die sterwensproses, overgesetsynde, sterfte as ’n ander vorm van geboorte. Ook dui dit moontlik op die empatiese blik van die waarnemer wat die siek vrou steeds in haar volle vrouwees erken, eerder as wat die waarneming ’n element van die groteske verkry . 

 As tweede element kom die vrou se mond te sprake – oënskynlik weer eens ’n fragment van haar liggaam, maar by nadere ondersoek blyk “mond” om ’n metonimiese aanduiding van haar spraakvermoë te wees.  Meer nog is dit haar interaksie met haar omgewing wat hierdeur aangedui word, maar dan as die brose uitings van die ernstig siek persoon.  So lees ek die “hulle is porselein wat maklik kraak / poreus vir die insypel en klad van die pyn” as juis haar talige uitings wat, soos haar liggaam, kwesbaar geraak het.  Eerder dus as ’n objektivering van ’n siek liggaam, word die leser gekonfronteer met die beeld van die totale vrou wie se uitreik na haar omgewing afhanklik is van haar liggaamlike toestand – dan juis ’n afwysing van dualisme? 

 Hiermee saam kan ons dan die reëls lees wat met die gedigtitel skakel: “vandag is sy helder / sy weet hoe laat dit is en watter dag”.  Ook hier is die vrou se bewussyn afhanklik van haar fisiese toestand, met die “helder(heid)” waarskynlik die direkte gevolg van die dialise.

 Deur dit alles ervaar ons hoe die siek persoon as volledig mens uitgebeeld word; word beklemtoon dat die gees steeds afhanklik is van die liggaam, maar dat die fisiek siek persoon steeds volledig mens is; tot aan die einde in staat om die objek én sy skadu waar te neem (“daar is ’n bal en ’n tweede bal / ’n rooie en ’n swarte […]).  Op dieselfde wyse aanskou ons as lesers hier lewe en sy skadukant siekte, wat ook deur Sontag (1991:3) “the  night-side of life” genoem word. 

 

Bronne:

Sontag, S. 1991. Illness as metaphor and AIDS and its metaphors. Londen: Penguin.

Joan Hambidge en Heilna du Plooy bring hulde aan TT Cloete by US Woordfees [Internet]. 2011. Beskikbaar:  http://nb.book.co.za/blog/2011/03/10/joan-hambidge-en-heilna-du-plooy-bring-hulde-aan-tt-cloete-by-us-woordfees/. [2011, 8 April].

Bookmark and Share

6 Kommentare op “Amanda Lourens. Die krieketbal en sy skaduwee”

  1. Leon Retief :

    Amanda, na analeiding van jou opmerkings oor die hedendaagse benadering tot die dood kan jy gerus Phillipe Aries se “The Hour of our Death” lees – ‘n baie interessante geskiedenis van hoe die dood deur die eeue benader is. Werklik die moeite werd.

  2. Desmond Painter :

    Leon, is dit dieselfde Aries wat The History of Childhood geskryf het? Ook die moeite werd. En wat die dood betref: Ook Norbert Elias se The Loneliness of the Dying. Baie insiggewend.

  3. Leon Retief :

    @Desmond: Jip, dis net hy daai.

  4. Marlise :

    Desmond, op die internet (Wikipedia)hierdie stukkie oor Aries – ek sien die boek word The Centuries of Childhood genoem.
    “He {Aries)is known above all for his book L’Enfant et la Vie Familiale sous l’Ancien Régime (1960), which was translated into English as Centuries of Childhood (1962). This book stands pre-eminent in the history of childhood, as it was essentially the first book on the subject (although some antiquarian texts were in existence prior to this). Even today, Ariès remains the standard reference to the topic. Ariès is most famous for his statement that “in medieval society, the idea of childhood did not exist”.[2]” Ens.

  5. Amanda Lourens :

    Baie dankie julle, ek gaan hierdie werke beslis lees. Die gedagtes oor hoe daar oor kinders gedink is, is ook vir my besonder interessant. Veral as ons dink hoe ons vandag oor kinders dink?

  6. Leon Retief :

    Beide van hierdie boeke is die moeite werd. Interessant dat Aries aanvanklik as sagtevrugtekundige gekwalifiseer het en geskiedenis as stokperdjie bedryf het.

  •