Louis Esterhuizen. Nominasies vir Poetry Parnassus aangevra

Londen se Southgate Centre

Londen se Southbank Centre

Op 17 November verlede jaar het ek in ‘n Nuuswekker berig oor Simon Armitage se projek genaamd Poetry Parnassus. Hiervolgens beoog hy en sy mede-organiseerders om 205 digters, een uit elke land wat aan die Olimpiese Spele volgende jaar deelneem, by ‘n monumentale poësiefees te betrek. Dié fees sal by Londen se Southbank Centre aangebied word en deel vorm van die Olimpiese feesverrigtinge; vanaf 26 Junie tot 2 Julie 2012.

Luidens The Guardian se berig is dié projek nou besig om baie vinnig momentum te kry en reeds op dié vroeë is dit ‘n rondomtraliepark vol aktiwiteite wat in die vooruitsig gestel word: “It will see 205 poets […]  taking part in readings, workshops and a gala event, touring the UK and contributing a poem in their own language for a poetry collection, The World Record, which will champion poetry in translation.”

Simon Armitage

Simon Armitage

In dieselfde berig word Armitage soos volg aangehaal: “Southbank Centre’s Poetry Parnassus draws inspiration from Mount Parnassus in Greece – one of poetry’s spiritual and mythical heartlands, the home of the lyricist Orpheus and the dwelling place of the poetic Muses. “My hunch is that this will be the biggest poetry event ever – a truly global coming together of poets, and a monumental poetic happening worthy of the spirit and history of the Olympics themselves.”

Op dié tydstip word wêreldwyd nominasies van drie digters per deelnemende land aangevra. (Elke persoon mag drie digters nomineer.) ‘n Paneel, bestaande uit Armitage en ander belanghebbende digters, sal dan deur die nominasies vir elke land sif ten einde die enkele digter aan te wys wat daardie betrokke land tydens die Poetry Parnassus sal verteenwoordig.

Nominasies sluit op 22 Julie 2011. Die voorskrifte kan hier beskou word en hier kan jy jou nominasie(s) plaas.

Daarom – neem deel en nomineer! Die vierkantige boude in ronde stoele hier ter lande gaan immers nie eens in hul mees avontuurlike drome daaraan dink om ‘n Afrikaanssprekende digter vir hierdie pronkgeleentheid te nomineer nie … En watter prestasie sal dit nie wees in deien Suid-Afrka deur ‘n Afrikaanssprekende digter verteenwoordig mword nie!

So, dóén dit.

By wyse van verdere motivering plaas ek ‘n gedig van ons vernaamste Olimpiaan hieronder.

***

Die Bokser

 

Die grense van die klein kryt

is hellende onvastigheid,

 

waar wit bors fier teen wit bors staan

en skim teen skim die skynhou slaan;

 

die lyf word wieging – ritmies, sterk –

tot skerm en liemaak ingeperk;

 

vier donker oë blits fel en woes,

wyl twee gedaantes mik en koes;

 

maar elke groteske vuis se smak

laat lis en weerstand verder knak …

 

die liggaam is so rank gebou

en weerloos teen dié man se hou;

 

tog sal my mokerslag hom tref

waar hy hom vaag en grynsend hef,

 

sy beeld versplinter in die glas

waar netnou my gestalte was;

 

‘n filkker-weerskyn word verskerf,

‘n lyf stort soos ‘n koring-gerf …

 

Wie is die man wat roerloos lê,

wie’t ‘n bekende naam gesê?

 

Waarom die skaar aan’t roep en fluit,

en waarom flakker ligte uit …?

 

© Ernst van Heerden (Uit: Op die mespunt, 1963: Nasionale Boekhandel)

 

Bookmark and Share

22 Kommentare op “Louis Esterhuizen. Nominasies vir Poetry Parnassus aangevra”

  1. hI LOUIS
    NET ‘N LAAT DANKIE VIR JOU PRAGTIGE GEDIG BY DIE INTERESANTE EKSPERIMENT OOR DIE MAG VAN METAFORE van verlede week. Dit was interesant.

  2. Louis :

    ‘n Groot plesier, Evette. Ernst van Heerden bly maar ‘n meester, is dit nie? En onthou om drie Afrikaanse digters te gaan nomineer by die skakel hierbo, hoor. 🙂

  3. Louis :

    Mense bel en skryf tans om te vra vir wie hulle moet nomineer. Ongelukkig weet ek nie watter kriteria gaan geld wanneer uit die lys genomineerdes gekies word vir die EEN wat ‘n bepasalde land gaan verteenwordig nie. Dit is dus nie seker of dit die aantal stemmer per digter, of die gehalte/reputasie van die digter is wat bepalend gaan wees nie …
    Veiligheidshalwe sou ek dus voorstel dat ons ons twee mees vername digters nomineer, plus ‘n derde vir jou eie, persoonlike plesier.
    Uiteraard is dit jou eie keuse wie jy as ons twee mees vername (internasionale) digters beskou.

  4. Beatrice Russo :

    Breyten en Antjie plus ‘n wildcard 🙂

  5. Desmond Painter :

    Beatrice, skimp jy nou om genomineer te word?

  6. marcelle :

    Volgens ‘n onderhoud met Simon Armitage op BBC-radio laasweek blyk dit dat hulle ‘n tipe kortlys sal opstel gebasseer op die rou nommers wat inkom. Hulle het ‘n interne paneel wat dan die finale keuse sal maak uit die mees populêre nominasies op dié lysie. Maar, ek het ook die idee gekry dat hulle nie noodwendig die belangrikste of bekendste digters soek om die land te verteenwoordig nie, en dat hulle mense se redes vir hulle gekose digters sterk in ag gaan neem. Die argument was basies dat die organiseerders hier in Engeland nie werklik weet wat in Tonga of Chile of Suid-Afrika aangaan nie, en hulle wil hoor wie nou, op hierdie oomblik in tyd, die land se mense met hulle poësie aangryp.

  7. Breyten Breytenbach :

    Hier kom groot klak, oftewel ‘n folkop. Kan julle julle voorstel hoe lyk die teenstrydige kriteria, die politieke en ander korrekte agendas, die messtekery? Jy moet werklik met die saamtrekke van digters iets baie spesiaals uit die hoed haal om dit die moeite werd te maak – al die gewone riglyne is aanvegbaar en uiteindelik sinneloos. Dit sou beter wees, dink ek, om ‘n fees van digtende stoeiers te organiseer. Of dié wat oor lang afstande kommunikeer deur te fluit, soos in dele van Turkye. Of dié wat op twee stemhoogtes tegelyk kan geluide maak. (Ek het gehoor in Dubai hoe doen ‘n Nieu-Zeelandse saksofoonspeler dit, die Koerde het hom blykbaar geleer.) Of – nog die beste plan, soos voorgestel deur my ou mede-samesweerder Hans van de Waarsenburg – ‘n fees van Angry Old Poets. Jy moet anderkant die 70 wees, verkieslik nie te dikwels nugter nie, en kan sing en dans. Vier van ons het by geleentheid so ‘n ‘klub’ gestig in Medellín. Probleem was dat een van die vier net Noors kon praat, en nie een van ons ander drie het meer geweet as “gammle kvinne” nie. Ook dat die onnugterheid beteken het dat ons aanmekaar ontmoet het asof dit vir die eerste keer was. Maar voordeel van so ‘n fees sou wees dat elkeen ‘n kans kry as jy maar net vergeet om dood te gaan. En as daar dan uitdunne moet wees en minder digters keer terug huis toe as wat Parnassus toe vertrek het, is dit ook ‘n genade.

  8. Beatrice Russo :

    Desmond, jy sien dwarsdeur my. Veral as dit nou vir my lyk Breyten wil nie gaan nie. Sien, my naam begin ook met ‘n B, soos Breyten, en ek was ook sleg met Wiskunde soos Antjie beweer sy was. Ek is nou wel nog nie anderkant 70 nie, maar ek is baie grys vir my ouderdom, en ek kan definitief ‘n plan maak om (ont)nugter voor te kom. Ek sing en dans soos ‘n droom, nie op die noot nie en nie op die beat nie, maar dit is darem seker nie te belangrik nie.

    Waarom sal ons nou toelaat dat klein hindernissies soos publikasie en bekendheid in my pad staan? I’m telling you, I’m the man for the job, veral as iemand hase uit hoede gaan trek. Ek het ‘n slag met hase!

    (PS – as dit oor sheer numbers gaan moet ons versigtig wees, of iemand wat op woes skryf wen die nominasie!)

  9. Breyten Breytenbach :

    Jy het beslis my stem. Maar waarom wil jy gaan as ‘n man?

    ‘n Voorstel (ernstig): laat dié wat wil gaan ‘n kort motivering skryf oor waarom sy/hy dink hy/sy is die aangewese persoon. Miskien sommer ook met ‘n voorbeeld van ‘n pennevrug daarby. Of ‘n geslagte haas.

    (Julle gaan sukkel om ‘n beter ‘aansoek’ as Beatrice Russo voor te lê.)

  10. Desmond Painter :

    As julle drie onder die dooies moes nomineer, wie sou dit wees? By my is daar geen twyfel nie: Uys Krige, Boerneef en Peter Blum.

  11. Ivan Mocke :

    Hel, nee. Netnou raak Peter Blum en Naipaul beste vriende. Kan jy jou dáárdie verwoesting indink?! Die ander twee is okei, maar sal hulle genoeg stamina hê?

  12. Desmond Painter :

    Naipaul sal tweede kom!!

  13. Breyten Breytenbach :

    Ek dink jy is reg, Desmond – alhoewel in ‘n ander volgorde. Ek het self baie onlangs met plesier en ontsag gewei deur die werke van Piet Philander en Sheila Cussons. Baie verskillend van toonaard en onderwerp, maar sterk en diep! Ons waardeer nie voldoende die verstommende rykdom van Afrikaanse poësie nie, miskien omdat ons kánonbefoeterd ons blind staar teen die ‘grotes’. (Dié met die baie bek?) En van die os op die ferweelbaadjie: daar het so pas ‘n nuwe vertaling van Rimbaud se ‘Illuminations’ verskyn, deur John Ashberry. Dit behoort ‘n fees te wees.
    Ja, Naipaul en Blum om één tafel… Dit laat mens mymer. Amper soos die gesprek tussen Karel Schoeman en John Coetzee, om ander redes natuurlik. Dit het glo werklik plaasgevind.

  14. Desmond Painter :

    Breyten, dit is merkwaardig dat daar in ‘n klein taal soos Afrikaans so baie GOEIE digters en skrywers is wat in relatiewe onbekendheid verval… Philander is ‘n goeie voorbeeld. Louis het hierbo ‘n gedig van Ernst van Heerden geplaas: sy bundels is uit druk en daar bestaan nie eers ‘n handige “Keur uit…” nie. En almal kla or Adam Small geringgeskat word, maar sover ek weet is sy bundels ook nie meer in die handel beskikbaar nie. Hoe absurd, dat ‘n jong digter nie ‘n nuwe uitgawe van Kitaar my Kruis in enige boekwinkel kan koop nie!!

    Miskien is daar te min lesers en te min wilde menings, wat beteken dat die liter^re hierargie te netjies in stand gehou word deur getrainde, legitieme literatore, eerder as dat entoesiastiese maar slegs halfingeligde leke en kansvatters (soos ek) te veel invloed het… Miskien is ons literatuurwetenskap baie ‘konserwatief’ en onnodig ‘verdedigend’?

    Mens sal in elk geval ook summier gerepudieer word as jou smaak nie voldoende met die ‘objektiewe bevindinge’ van die ‘literatuurwetenskap’ saamval nie — ek vind bv. Johan van Wyk ‘n interessanter stem uit die 1980’s as TT Cloete; en Boerneef dikwels interessanter as Van Wyk Louw.

    (Oorleef Boerneef die dood van Afrikaner Nasionalisme nie beter as VWL nie? Miskien was hy altyd nader aan wat Deleuze & Guattari ‘n ‘minderheidsskrywer’ sou noem as VWL, en nou dat Afrikaans ‘n ‘minderheidstaal’ aan die word is, in daardie D&G sin, is Boerneef se tyd ryp…)

  15. Beatrice Russo :

    Beste oom/meneer/heer Breyten.

    Baie dankie vir jou stem, my kanse om benoem te word het sopas met 18672% verbeter.

    Ek wil as ‘n man gaan sodat VS Naipul sal dink ek skryf mooi. En omdat ek hou van hoe ek lyk in ‘n suit.

    Indien die wat wil gaan nie lus is om ‘n motivering te skryf en ‘n pennevrug te produseer om ons te oortuig nie, kan ons hulle dalk 100m laat hardloop en die wenner stuur, in die gees van die Spele. Of dalk kan hulle swem? Vlinderslag, eerder as hase slag.

  16. Breyten Breytenbach :

    Jy is – ongelukkig! – heeltemal in die kol, Desmond. Die kaping van Afrikaans, en dus ook taalprodukte – ‘gekeur’, geborsrok en genasionaliseer volgens die norme en nutsbepaling van ‘n nouveau riche establishment van Mercedespronkers met die mentaliteit van hanggat koejawelsmouse (bo blink maar onder stink) – vroeër universitêr, akkademies, party-polities, Nasionaal, wit: in wese fascisties – nou natuurlik nêrens te kry nie (“wa’ baas? wa’?”) – was die dood in die pot. Die piepel is vervreem van enigiets wat sig voordoen as poësie (al was dit ook ‘n vermomming) en het gewurg aan wat in hul kele afgelepel is; die ryk voorbankers het daarmee gespog soos met suurklontjies en skoene wat druk; die Groot Gjeeste, volkome gekondisioneer deur koloniale irrelevansie, het oor die mense se koppe heen met God of met die metafisika gepraat (al was dit glo kode vir bloed en seks)… en nou sukkel jy om Afrikaanse digbundels in boekwinkels raak te loop in ‘n land waar die magtigste mediareus die lewende en suksesvolle vergestalting is van ‘Afrikaanse’ kapitaal, in feite van die strewes van die Mercedespronkende ens. ensovoortse. Jou vraag is geldig: hoe kon dit gebeur in ‘n land waar juis die omgaan met poësie so ryk en geskakeerd en aards en essensieel en dalk selfs eksistensieel was?

    Dis water onder die brug. Veral nou daar geen brug meer is nie en almal wegkyk van die geswolle drenkelinge wat verbydryf.

    Wil tog net noem: later vanjaar nog (hopelik) publiseer ons – die Pirogue Collective via Island Position – ‘n keur uit die digwerk van Adam Small in ‘n nuwe vertaling van Mike Dickman, in beide Afrikaans én Engels. M.a.w., ons publiseer dit in New York vir verspreiding in Afrika en elders in die wêreld. Kanna, hy sal wel ‘n hys kry.

  17. Desmond Painter :

    Terloops, ek probeer darem nie argumenteer dat VWL nie ‘n magtige digter was nie — net dat ‘n mens nie te verknog moet raak aan skynbaar self-evidente ‘rangordes’ van digters nie…

    VWL is natuurlik op sy beste wanneer hy sy hart van gode rein hou. Wanneer hy sy Romantiese roes afgeslaap het. En gepraat van rangordes: hierdie is sekerlik sy BESTE gedig:

    Duidende dogtertjies het ek

    Duisende dogtertjies het ek
    meisietjies met hellebaardjies
    onder duisend naaltjies brand
    sowat honder duisend haartjies:

    rooikop sit haar rooi voort:
    staan soos Luther by haar kleurtjie:
    rooibostee vir okseltjies
    rooibaard-rooibaadjies op wag
    rooi-van-deftig voor die deur —

    swartkop het ‘n ander plan
    sluit met bloubaard ‘n akkoord
    koning? keiser? kapusyner?
    skakelamptenaar in sybroek
    snor-en-swart-baard voor die poort.

  18. Daniel Hugo :

    Desmond, ek swoeg al die afgelope paar maande met daardie duisend dogtertjies. Het jy nie lus om ‘n uitleg van dié gedig hier op Versindaba te gee nie?

  19. Desmond :

    Daniel, ek het nie ‘n idee wat in daardie gedig van Louw aangaan nie. Ek is natuurlik deels “facetious” hierbo — die opmerkings oor Boerneef vs Louw en dat hierdie Louw se BESTE gedig is… (Wat is die beste Afrikaans vir “facetious”? Ek dink nie daar is ‘n heeltemal bevredigende woord nie; net soos daar dalk nie ‘n heeltemal bevredigende woord in Engels vir “geestig” is nie?)

    Hier’s ‘n New York Times resensie van die Rimbaud vertaling waarna Breyten Breytenbach hierbo iewers verwys:

    http://www.nytimes.com/2011/06/12/books/review/book-review-illuminations-by-arthur-rimbaud.html?_r=2&pagewanted=1&ref=books

  20. Breyten Breytenbach :

    Die Afrikaanse woord wat dalk die naaste kom aan “facetious” is seker “laf”. En interessant dat “geestig” in Frans wél “spirituel” is. “Faire de l’ésprit” – om die gees te maak – beteken om geestig te wees.

  21. Johann :

    Daniel, ek dag ons het die hellebaardjies snuifgetrap. Waarmee worstel jy nog? Ek skryf aan my blog oor dié boeiende vers, nie dat enigiets daarin vir jou nuus behoort te wees nie.

  22. Desmond Painter :

    Ja-nee, ek het so vermoed: Daniel ken die antwoord, hy wou net my onkunde aan die kaak stel!!

  •