Andries Bezuidenhout. Die son en ʼn ou liriek

Binneblik, ‘n blik die son in. Dis nou wel nie somer nie en Yskor het lankal die fabriek in Pretoria gesluit, maar vanoggend se son van die balkon af het my aan ʼn ou liriek herinner. Dit kom van my CD “Insomniak se droomalmanak” af en vreemd genoeg was hierdie een vir ʼn tydjie op RSG se playlist. Die werklikheid wat te helder skyn is natuurlik by Etienne Leroux gesteel.

 

DEUR ‘n DONKERBRIL

 

Dis somer in Pretoria, die son skyn skerp

YSKOR gloei ‘n hoogoond teen die skemer

Dis weer somer in Pretoria, die son skyn te skerp

teen die lense wat ek dra voor my oë

 

Ek kyk na die wêreld deur ‘n donkerbril

dis al wat ek kan doen om te keer

om die werklikheid te sensor, te bestuur, te beheer

want die beelde skyn te skerp vir my

 

Die staatsdiensgeboue staan soos leggerkabinette

en wag vir die volgende dag se nuwe wette

Ek sit in my Volla en wag vir die lig

wat sê ek kan aangaan met my daaglikse plig

 

Ek kyk deur die walms met ‘n donkerbril

dis al wat ek kan doen in verkeer

om die werklikheid te sensor, te bestuur, te beheer

want die ligte skyn te skerp vir my

 

Ek sien boeke en stoele en penne en ‘n baas

wat my dophou oor sy bril en wag om te raas

Ek wag vir teetyd en vir tjailatyd

dis al hoe ek oorleef in die roetinestryd

 

Ek kyk na die wêreld deur ‘n kameralens

fokus in en verklein

ek fokus in skadu’s van swart en wit

want die beelde is te helder vir my

 

Ek kyk na die wêreld deur ‘n donkerbril

dis al wat ek kan doen om te keer

om die werklikheid te sensor, te bestuur, te beheer

want die beelde skyn te skerp vir my

Bookmark and Share

4 Kommentare op “Andries Bezuidenhout. Die son en ʼn ou liriek”

  1. annet :

    Skitterende liriek Andries!
    Hou van:
    Die staatsdiensgeboue staan soos leggerkabinette

    en wag vir die volgende dag se nuwe wette

  2. Andries Bezuidenhout :

    Dankie Annet!

  3. Hendrik Bester :

    Andries, toevallig het die song nou net oor my iPod gespeel, ek het die “musiek sonder grense” album ‘n rukkie terug gekoop. Ek het die lirieke ge-google en hier ge-eindig. Al wat ek wil se^ is: dankie, jy het my dag gemaak.

  4. Andries Bezuidenhout :

    Hendrik, nou maak jy my dag ook. Dis so lekker om te weet iemand luister daarna!

  •