Andries Bezuidenhout. Poul Henningsen en die ligte van Landskrona

Poul Henningsen (1894-1968) moet een van die mees enigmatiese figure in Denemarke se ontwerpgeskiedenis wees. Soos Arne Jacobsen, oor wie ek my vorige blog geskryf het, was hy ʼn modernis. Hy was egter skepties oor die harde funksionalisme van argitekte soos Jacobsen, Mies van der Rohe en Le Corbusier. Volgens hom was hul argitektuur steriel en koud. Hy wou ligter, meer menslike ontwerp bevorder en het bekend geword vir sy lampskerms. Sy hele lewe lank het hy in lig, verligting, skaduwee, transformasies en die kleur van lig belanggestel. Ek plaas foto’s van ʼn paar voorbeelde van sy lampskerms hiernaas (die foto’s is in die Kunstindustrimuseet hier in Kopenhagen geneem).

In my vorige blog het ek ook genoem dat Arne Jacobsen moes vlug toe die Nazi’s Denemarke tydens die Tweede Wêreldoorlog oorneem. Ek het intussen meer oor die insident opgelees. Te midde van die tragedie was dit op ʼn sekere vlak nogal komies. Jacobsen was ʼn groot aanhanger van Sjostakovitsj het in die 1930s na die Sowjetunie gereis om die komponis te ontmoet. Hy het ook ʼn skets van Sjostakovitsj gemaak. Om die Sowjetunie te mog besoek, moes hy egter by die Deens-Sowjet Vriendskapsvereniging aansluit. Jacobsen was nie juis polities ingestel nie, maar sy lidmaatskap van die organisasie het onmiddellik die Nazi-owerhede se aandag getrek toe Denemarke onder Duitse beheer beland. ʼn Polisieman het Jacobsen laat weet dat hy gearresteer sou word en die argitek het by die huis van ʼn beeldhouervriend gaan wegkruip. Toe hy die owerhede inlig dat sy lidmaatskap bloot uit kulturele belangstelling gespruit het, kon hy weer in die openbaar verskyn.

Met Poul Henningsen was dit egter anders. Sy politieke benadering was meer radikaal en hy was die redakteur van die tydskrif Kritisk Revy (1926-1928). In die tydskrif het hy geskryf oor die bydrae van argitektuur en ontwerp tot ʼn meer egalitêre en menslike samelewing. Henningsen se linkse beskouing van die ideale samelewing het berus op ʼn sosiale bewussyn, seksuele bevryding, terrashuise, tegnologiese vooruitgang, bekostigbare ontwerp, vlieërs, jazz, lig en verligting. Hy het ook kabarette geskryf wat openlik krities teenoor die Nazi’s was en toe die Gestapo sy huis deursoek, het hy besef dis tyd om te laat spaander. (Henningsen was nader aan die kommuniste, alhoewel hy na die oorlog baie kritiek op die Sowjetunie gehad het.) In hierdie tyd is Deense Jode ook openlik begin vervolg en na Duitsland gedeporteer. Arne Jacobsen en sy tweede vrou Jonna het gevolglik saam met Henningsen en sy vrou Inge planne gemaak om oor die kanaal Swede toe te roei. Herbert Marcus, ʼn jong ingenieur, was ʼn ervare roeier en sou die spane hanteer.

Marcus het egter vinnig moeg geword. Sy professionele roeitegniek wou nie deug met ʼn sitplek wat nie saam met hom kan beweeg nie. Jacobsen, wat beskou is as ʼn sterk man, het die spane oorgeneem. Hy het egter vinnig moeg geword en was boonop seesiek, het Henningsen later beweer. Jacobsen het weer dieselfde verhaal oor Henningsen vertel. Die vroue, die twee “splinternuwe bruide” – aldus Henningsen – is toe maar genoop om hand aan spaan te slaan en het die boot tot by Landskrona in Swede geroei, waar die Sweedse polisie hulle in ontvangs geneem het.

In Swede het Jacobsen muurpapier ontwerp en Henningsen het gedigte met verskuilde boodskappe geskryf om die ondergrondse versetbeweging teen die Nazi’s in Denemarke aan te moedig. Henningsen het sterk daarin geglo dat gewone mense goeie ontwerp moet kan bekostig. Tewens, dit was nogal ʼn kenmerk van Deense ontwerp – alledaagse gebruiksobjekte in mense se huise word deur gesofistikeerde ontwerp en materiaal van hoogstaande gehalte gekenmerk, deels ook omdat een van die groot kettingwinkelgroepe dit bevorder het. Deense ontwerp het van die 1950s tot die 1970s ʼn hoogbloeitydperk beleef. Miskien skiet ek nou ʼn bietjie wyd, maar ek dink tog Skandinawiese welsynstate het ʼn estetiese kwaliteit gehad wat in ʼn land soos Engeland afwesig was.

Deesdae is baie van daardie items egter versamelaarstukke wat jy slegs ten duurste kan aanskaf – Henningsen se lampe ook.

Bronne:

Carsten Thau en Kjeld Vindum. Arne Jacobsen (Arkitektens Forlag, 2001), bls. 78, 119; Kunstindustrimuseet, Kopenhagen

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •