Evette Weyers. Katarsis van die woord

 

Nooit weer oorlog maak nie                                                      

                                                         

Soveel slanke meisies ontblaar                                                                 

Soos jong boompies. Ek gaan by almal verby     

Al staan hulle sy aan sy,                                          

Met glansende hoofde bymekaar.

 

Wat kan die gode my nou nog skeel,                                                                    

en in my dorpie die rooi aandgloed?                                                                     

Ek het ʼn honderd wonde en niks kan hulle 

                                                               genees nie.                                    

Ek het die dood gesien, so dikwels en so groot.

 

Die oë van kinders is soos goue reën.  

Versigtig dra hulle die bekers wyn.

Ek wil gaan lê en slaap langs die grootpad 

en nooit weer oorlog maak nie.

 

Hierdie gedig was in die negende eeu in Sjina geskryf en ons weet presies hoe hierdie man gevoel het. Poësie verwoord die onbeskryfbare dinge van die lewe. So het Wilfred Owen se oorlogsgedigte sekerlik vir baie soldate ʼn mate van emosionele ontlading en gemoedsrus gebring, deur die trefkrag van die woord. Hierdie trefkrag is nou nog meer nodig as ooit.

Elke week probeer gemiddeld vyf VSA soldate, wat in Irak en Afghanistan veg, om selfmoord te pleeg. In 2010 het 301 Amerikaanse soldate suksesvol selfmoord gepleeg. Om uit ʼn gevegseenheid terug te keer na ʼn gewone huishouding is baie moeilik. Die weermag het verskeie metodes gebruik om die soldate te help; terapie, akupunktuur, fietsry, videospeletjies, troetel diere ens., sonder sukses.

In die VSA het teater regisseur, Bryan Doerries, besef dat soveel van die geweld van die terugkerende soldate  wat in die koerante gerapporteer word, soos iets uit ʼn Sophokles toneelstuk klink van 2,500 jaar gelede. Miskien het Sophokles iets te sê wat hierdie soldate kon help. Sy teatergroep het vir 400 terugkerende soldate en hulle families uitgenooi om ʼn voorlesing van die stuk Ajax, van Sophokles by te woon. Ajax is ʼn soldaat wat in ʼn persoonlike hel neerdaal na ʼn oorlog waar hy deur ʼn offisier verneder was en hom wou doodmaak. Op die ou einde het Ajax selfmoord gepleeg.

Die stuk is aangrypend en uitmergelend, maar binne 3 minute was al die soldate volkome betrek by die stuk en het almal hulle selfone en Black Berries afgeskakel. Na die voorlesing sou daar ʼn bespreking van 45 minute wees, oor die effek van die stuk. Hulle het vir 3 ure lank gepraat. Toe die soldate gevra was, wie ken soldate wat selfmoord gepleeg het, het al 400 hulle hande opgesteek. Een trotse vrou wie se man en seun verskeie kere in Irak en Afghanistan geveg het, het toe opgestaan en vertel dat wanneer hulle terug kom van die oorlog sleep hulle onsigbare dooies saam huis toe en die huis word ʼn slagveld.

Sophokles het sy stukke geskryf in ʼn kode wat ons as burgerlikes nie volledig verstaan nie, maar dit spreek direk tot hierdie soldate wat soveel geweld eerstehands leer ken het. Na die voorlesing het een soldaat gesê hy voel asof hy weer vir die eerste keer in ʼn baie lang tyd, kan asemhaal. ʼn Ander het gesê dat hy baie beter gevoel het toe hy besef het dat sy pyn al 2500 jaar gelede deur soldate beleef was.

Hierdie teatergroep, Theatre of War, werk nou pal om terugkerende soldate te help integreer.  Hulle gebruik professionele akteurs. Die Pentagon het die teatergroep nou op lang termyn aangestel, om voorlesings te doen vir terugkerende soldate. Meer as 350,000 soldate en hulle families het die opvoerings al bygewoon.

In antieke Griekse dramas het die gehoor ʼn katarsis of ontlading beleef. Selfs nou 2,500 jaar later is hierdie Griekse dramas steeds helend. So ook die gedigte reeds gemeld. Dit is iets wat net digters, dramaturge en skrywers kan regkry. Om ʼn katarsis deur die woord te skep.

 

Data uit Pleidooi vir die Poësie van Eddie van der Vliet, en Theatre of War uit die Sunday Times van 6 Oktober 2010.

 

Bookmark and Share

7 Kommentare op “Evette Weyers. Katarsis van die woord”

  1. Breyten Breytenbach :

    Wat ‘n beeldskone, ontroerende en verontrustende gedig, Evette! Wie het dit vertaal?

    Weet jy dalk van Sam Hamill se webruimte, Poets Against War? Sam, self ‘n vetraan, is ‘n Zen meester, vertaler uit die Chinees, en ‘n uitstekende digter.

  2. Evette Weyers :

    Breyten, ek het dit in Eddie van der Vliet se Pleidooi vir die Poësie gevind. Dit het my net so getref. Die vertaler word nerens genoem nie.Dankie vir die webruimte se adres.

    In respons op hierdie stuk het iemand my vertel haar broer is ‘n sielkundige wat met bedroefde S.A. soldate wat terug gekom het van die grens, probeer help het. Hy kon hulle nie help nie. Dit het homself oplaas in ‘n depressie gedompel en hy het gladnie verder met hulle gewerk nie. Ek glo gedigte en teater sou hulle veel eerder gehelp het.

  3. Marlise :

    Die vertaler is Heilna du Plooy so ver ek kon vasstel.

  4. Francis Galloway :

    Ja, dit is Heilna du Plooy wat die vertaling van Eddy se essay gedoen het. Hy het in 1996 deelgeneem aan die eerste “rondreis van Nederlandse en Vlaamse skrywers” in Suid-Afrika. Hy het die pleidooi-lesing aangebied tydens ‘n optrede van die skrywers by die Universiteit van Pretoria. Ek was bevoorreg om hierdie reis te help organiseer en het besonderse foto’s en herinneringe aan die gebeure. Daar is ook ‘n spesiale uitgawe van Ensovoort, wat fokus op die deelnemende skrywers, gepubliseer.

  5. Evette Weyers :

    Francis, dankie vir hierdie breedvoerige data. Ek het gedink Breyten vra wie dit uit Sjinees vertaal het.

  6. Breyten Breytenbach :

    Dis wonderlik hoe tekste reis. En soms kom hulle in andermansbaadjie maar nog net so “blink gelap maar skoon” by ‘n nuwe bestemmimg aan. Mens behoort op jou rak altyd ‘n plek te hê vir die vertaalde gedig, net soos mens aan tafel ook dek vir die onbekende reisiger wat dalk kan opdaag. Dit was vir my nog altyd ‘n misterie, veral wanneer dit gaan oor klassieke Chinese tekste: hulle kom oor die eeue na ons toe, is geskryf in ‘n taal en digvorme wat sedertdien heelwat veranderinge ondergaan het, was oorspronklik dalk bedoel as partituur of liturgie (en ons ken nie die musiek nie), was sekerlik vol verwysings na eietydse gebeure en begrippe en tekste (blykbaar is daar allerlei intertekstuele verwysings), is sedertdien getaal en vertaal deur ‘n prisma van tale en tye sodat die produk wat by ons uitkom tog iets heeltemal verskillend van die oorspronklike moet wees… En tog is dit onmiddellik herkenbaar, bekend (soos ‘n familielid) as GEDIG. Wat is dan die proses, die essensie wat in soepelheid en afwesigheid soos ‘n ademende niet so intiem in ons weerklink?

  7. Evette Weyers :

    Breyten, heerlik en so raak.Dat ‘n gedig wat deur die eeue oor taal, kultuur en tydsgrense gereis het, so treffend heel kan wees.
    Jy beleef dit sekerlik al vertaal/herskryf jy net een van jou eie gedigte in Engels. Hoe verskillend tale is. As mens van Afrikaans na Engels beweeg moet jy van die byvoeglike naamwoorde snoei vir die Engelse ‘understated’ verwysingsraamwerk.Ek glo nie eers ons het ‘n algemene woord vir ‘understatemet’ nie
    Afrikaans is aards, gespierd soos ‘n dier en die beelde wat geboorte gegee het aan die woord sit dikwels nog vasgekoek in die woord- soos dwarstrekkerig, baldadig, ens.. .

    Ek voel in Engels,deur eeue se gebruik, het die oorsprongklike beelde uitgesilt uit die taal. Engels het baie abstrak geword en kan groot konseptuele spronge maak in min woord- ‘the suspension of disbelief’, ‘six degrees of seperation’.

    Frans was die westerlinge se kulturele taal dwaroor die wêreld. Engels was die handelstaal wat reg om die wêreld gereik het. Engels het gestroop geraak vir handeldryf en kan nou ook, flink en skraal deur die kuber ruimte reis.

    Haikoes wat so eenvoudig en minimalisties lyk tot iemand wat Japenees ken, vir jou al die ryk verwysings uitwys in die eenvoudige woorde en die gedig word ‘n ander wêreld..

  •