Andries Bezuidenhout. Die suiker in Kierkegaard se koffie

Desmond Painter het belydenis gedoen oor ʼn vroeër fassinasie met Søren Kierkegaard. Die foto hier bo is van ʼn miniatuurweergawe van ʼn standbeeld van hom, wat elders in Kopenhagen staan. Die foto is in die Kopenhagenmuseum geneem, waar ʼn vertrek ingerig is om wat oor is van sy besittings te huisves. Desmond het veral in Kierkegaard se verhouding met Regine Olsen belanggestel. Die twee was verloof, maar Kierkegaard het die verlowing verbreek, omdat hy gevoel het hy is te melankolies vir die huwelik.

Kierkegaard beteken “Kerkhof”. Dalk was Kierkegaard Kopenhagen se oorspronklike Goth. Dit herinner my aan ʼn uittreksel uit ʼn liriek van Brixton Barnard, wat medeverantwoordelik is vir die Brixton Moord en Roof Orkes:

Op daai eindelose Vrydae, op daai eindelose Vrydae
toe ons almal gemaak het of die son nooit weer sou skyn
oor die ou grys geboue, in jonkwees se kloue
met niks om te doen but onsself te versoen
met die feit dat ons net hier rondkruip;
punks en headbangers, gothic sonskerm,
Luther Lugosi was eintlik Albertus Jan Theron;
ons was almal alright.
Le Club, happy hour, Donderdae duiselig,
Vrydae het white trash vir hul sondes by die werk loop betaal,
al die stories herhaal.

Luther Lugosi wat eintlik Albertus Jan Theron is. Goths wat so van Protestantse name hou. Ek wonder of daar ʼn Goth in Pretoria is met die naam Kierkegaard. Wel, ek het gedink ek moet dalk iets oor Kierkegaard se obsessies hier skryf, soos die een met suiker. Dalk kan Desmond dit eendag gebruik vir die novelle wat hy lank gelede oor Kierkegaard en Olsen se verhouding wou skryf. Die filosoof-teoloog (dis nou Kierkegaard) het sy lewe lank gemaklik kon oorleef weens ʼn erflating van sy vader, asook die inkomste van sy eie publikasies. Hy was só welgesteld dat hy personeel in diens kon neem en het elke middag aangesit vir ʼn maal wat uit ʼn paar gange bestaan het, onder andere ʼn sterk gekruide sop en vis. Sy koffiekoppie het hy tot heel bo vol suiker gegooi en dan eers koffie bygevoeg. Blykbaar was een van die grootste plesiere in sy lewe om te sien hoe stomende koffie suiker smelt.

Hier is ʼn portret van Olsen wat in Kierkegaard se huis gehang het. Dit hang nou in die Kopenhagenmuseum:

Vreemd, hierdie celebrity-kultuur van ons. Dat mense nou oor Kierkegaard se middagetes en die suiker in sy koffie in ʼn museum moet lees. En hoekom is dit al wat ek van die uitstalling onthou?

NS. Hier is ʼn foto van Kierkegaard se standbeeld wat in die park oorkant die Joodse Museum staan:

Bookmark and Share

7 Kommentare op “Andries Bezuidenhout. Die suiker in Kierkegaard se koffie”

  1. Desmond :

    Ek vermoed baie sterk daardie novelle gaan nie gebeur nie, Andries, suiker of te not… Kon jy Deense musiek ‘n bietjie eksploreer? Daar is ‘n groot oplewing van belangstelling in die Deense klassieke komponis Carl Nielsen, hy is op die voorblad van die nuwe Gramophone. Daar is meer onlangse komponiste wat skynbaar ook die moeite werd is om van kennis te neem. Van Deense rock en pop weet ek nie.

  2. Desmond :

    NS. Johan Degenaar het vir jare ‘n baie invloedryke honneurskursus oor die denke van Kierkegaard aangebied.

  3. Andries Bezuidenhout :

    Desmond, ek’s net hier vir ‘n maand! Ek werk nog aan ‘n blog oor kos, nadat jy daaroor uitgevra het. My Deense kollega Søren (no kidding!) het juis nou die aand vir ons ‘n tradisionele ete gekook. Ek wil ook meer oor Deense digkuns uitvind, maar sukkel om vertalings op te spoor. Enkele bundels, maar geen oorsigtelike inleiding nie.

  4. Louis :

    Andries, probeer om Pia Tafdrup se gedigte in die hande te kry. Sy is manjifiek en waarskynlik die meeste vertaal. Veral deur Anne Born wat verantwoordelik was vir die bloemlesing “Spring tide” wat deur Forest Books uitgegee was.

  5. Andries Bezuidenhout :

    Dankie Louis! Ek sal uitkyk daarvoor. Dit lyk asof die digkuns heel lewendig is – hulle het byvoorbeeld bekgevegte by musiekfeeste.

  6. Desmond :

    Andries, ‘n maand is genoeg om bietjie Nielsen te luister. Moet nou nie lyf wegsteek nie.

  7. Andries Bezuidenhout :

    Desmond, ek kry jou studente baie jammer.

  •