Carina van der Walt. Theater van de Verloren Tijd op Woordfees 2012

Uit Nederland besoek Theater van de Verloren Tijd vanjaar vir die 2de maal Woordfees. Hulle motto is dat poësie gehoor en ervaar moet word. Daarom ken hulle oor die seshonderd Nederlandstalige (en nou ook ‘n twintigtal Afrikaanse) gedigte, wat hulle aan die luisteraars op Woordfees kan voordra.

Nuwe toevoegings tot hulle repertoire sluit tekste in van onder andere Wopko Jensma, Adam Small, Antjie Krog, Elisabeth Eybers, Gert Vlok Nel, Lina Spies en T.T. Cloete. In die afrondingsfase van hulle voorbereiding laat Dorith van der Lee mens se tone omkrul van lekkerkry met die gedig Wiskunde. Sjon Brands verlustig hom in die humor van Die dongas gaap. Saam dra hulle by aan die meeslepende trance waarvoor Gert Vlok Nel se poësie so bekend is in Nederland. Die wydsheid van die Suid-Afrikaanse landskap word hoorbaar in Landskap en mens slaan onwillekeurig hoendervleis uit.

Theater van de Verloren beskik oor twee programme vir Woordfees: Groen (wat by die tema pas) en Kekkel Ekke. Dit is veral Kekkel Ekke wat sorg vir interessante kombinasies van tekste. D.J. Opperman se Sproeireën word byvoorbeeld gekombineer met Sylvia Hubers se wulpse je bent een geurige meneer en Breytenbach se ek sal sterf en na my vader gaan met Hugo Claus se Verdwaald Liedje.

Optredes sal plaasvind op 8 Maart (Plataankafee, 14:10), 9 Maart (Boektent, 11:00) en op 10 Maart met die Neerlandistiekdag (Fakulteit Lettere en Wysbegeerte, 9:00 – 14:00) en ook tydens die program Soete Groete (Vette Mossel, 19:00). Theater van de Verloren Tijd sien ook besonder daarna uit om saam met Floris Brown en Sjaka S. Septembir in die Botaniese Tuine op te tree op 6 of 7 Maart. As losmakertjie vir Woordfees sal hulle by SASNEV in Pinelands optree (3 Maart) en as sluitstuk van hulle besoek tree hulle op in die Breytenbach-sentrum (Wellington,13 Maart, 20:00).

Uit:  www.woordfees.co.za onder Vars Nuus.

 

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •