Louis Esterhuizen. Skoonheid van die onvoltooide gedig

 

Enkele dae gelede bevind ek my in ‘n gesprek oor die legendariese Maria Callas (foto). Die oorwerkte argument  van haar passie as wins teenoor tegniese imperfeksies word deur my aangevoer en by wyse van vergelyking swaai die gesprek na Callas se tydgenoot, Renata Tebaldi, wat tegnies weer meesterlik was, maar helaas, ten opsigte van passie veel minder inspirerend.

 

Nietemin, uiteraard kantel die gesprek verder na die digkuns, want is dit nie ook (dikwels) so dat die vernuftige en tegnies afgeronde vers dikwels ontbreek aan daardie bykans magiese “iets” wat jou laat voel asof die bokant van jou kop weggeblaas word nie? En hoe dikwels is die mees onvergeetlike gedigte nie juis gedigte met bepaalde tegniese tekortkominge nie? Asof die gedig wen aan resonansie júís as gevolg van sy eie onvoltooidheid …

 

Mark Boog

Mark Boog

En daar lees ek enkele dae later toevallig Mark Boog se blog op Poetry oor die skoonheid van die onvoltooide gedig: “Het enige wat erger is dan een gedicht dat niet af is, is een gedicht dat té af is. Elke dichter streeft daarom naar het onvoltooide. Gaat hij te ver, voltooit hij per abuis het gedicht, dan zit hij met een volmaakt ronde, glanzende kei. Er kan met bewondering naar gekeken worden, in een zorgvuldig verlichte vitrinekast doet de kei het uitstekend, maar je kunt er niets mee.”

 

Vir Boog is die hermetiese digkuns dus nié duister, onbegryplike poësie nie, maar “perfecte, geheel afgewerkte gedichten, waaraan alles klopt, vlekkeloos metrum, smaakvol rijm, die ontoegankelijk zijn: alles is dichtgeplamuurd, tot aan de kieren langs de ramen en de deuren toe.” En dan verder: “Stopt de dichter daarentegen te vroeg, uit luiheid of gemakzucht of simpelweg bij vergissing, verklaart hij zijn gedicht af voordat de juiste graad van onvoltooidheid is bereikt, dan is het resultaat alleen maar slordig. Er zijn overbodige regels, er wringen bijvoeglijke naamwoorden, beelden kloppen net niet en kraken in hun voegen, kunnen elk moment instorten: het gedicht is niet klaar.”

 

Maar wanneer is die gedig dan “klaar”? Wel, volgende Boog  wanneer die gedig “precies onvoltooid genoeg is”.  Volgens hom moet daar “rafels zijn en scherpe randen, gaten en obstakels, juist zoveel dat het onmogelijk is om het gedicht als een glijbaan te nemen: roetsj, klaar, volgende, maar niet zo veel dat het een stormbaan wordt, die zwoegend en vloekend wordt afgelegd, omdat het nu eenmaal moet. Tussen glij- en stormbaan bevindt zich het punt waarop het gedicht op zijn best is. Het nodigt tot lezen uit maar ook tot herlezen, levert genot én stof tot nadenken, sleept mee én biedt weerstand.”

 

Mmm, laat ‘n mens dink, nè? My ouma het immers hoeka se tyd al gesê dat té veel van ‘n goeie ding nooit goed is nie … Maak nie saak na watter kant toe nie.

 

Vir jou leesplesier volg ‘n gedig van Breyten Breytenbach hieronder; vir geen ander rede as dat daar verlede week ‘n hele paar prominente begrafnisse in ons dorp was nie. Een van die persone wat iets by een van dié geleenthede moes sê, het in die winkel kom soek na ‘n gedig met die reël “mag die sooie lig op jou rus” daarin. Breytenbach se vers “groetgedig vir Ampie”, natuurlik. En meteens het dié gedig my holderstebolder gegooi. Watter ongelooflike, onvergeetlike gedig is dit nie!

 

***

 

groetgedig vir Ampie

 

mag die sooie lig op jou rus

lig-lig sodat jy rustig

asem kan haal

en die wasem krul

om jou rooi tong

 

dat die ritmes jou sus

lig-lig sodat jy terug

mag beweeg bewegingloos

en sonder gewig

in eindelose plooie van die lewe

 

dat jou vlees mag bewe

met die ekstase van vergaan

want alle bestaan is stof

en word lig

 

© Breyten Breytenbach (Uit: die windvanger, Human & Rousseau: 2007)

 

 

Bookmark and Share

4 Kommentare op “Louis Esterhuizen. Skoonheid van die onvoltooide gedig”

  1. Evette Weyers :

    Heerlik Louis,
    Hoeveel tegniese perfeksie is nodig? Net genoeg om dit wat jy wil sê met ‘n gedig of beeld, oor te dra (L.R. Hubbard). Anders dien jy later die perfeksie ten koste van die gevoel, gesprek en passie.

  2. Breyten Breytenbach :

    In Parys se moltreine, soos julle weet, word jou reis korter gemaak – of langer, afhangende – deur gedigte opgehang naas die advertensies vir onderklere, bekostigbare begrafnisse, ens.
    Gister word my oog gevang deur die volgende van Paul Valéry uit sy bundel, Tel Quel (“Soos die so”):
    Le poème – cette
    hésitation prolongée
    entre le son et le sens
    Wat jy sou kon vertaal as: “Die gedig – hierdie / volgehoue huiwering / tussen klank en betekenis.”
    Of dalk: “die gedig – hierdie / langasemstameling / van die klank na die rigting”
    Maar aan die ander kant, weer…

  3. Johann de Lange :

    Breyten, wat is dit wat Valéry so ontsettend moeilik maak? Wat is dit aan sy gebruik van Frans, nes Celan se Duits, wat hulle bykans onvertaalbaar maak? Sou mens dit kan vergelyk met NPvWL se gebruik van Afrikaans in Tristia? Is dit idiosinkraties, kripties?

  4. Breyten Breytenbach :

    Ek dink dis omdat hulle verby die taal as omgangsmiddel gegaan het – sónder om die ‘eenvoudige’ betekenisse van woorde in te boet. In die laatgaan (of laat gaan) van gekunsteldheid is daar ‘n byna onbetrokke noukeurigheid wat maak dat selfs die mees voor die hand liggende vreemd word, tot ook die woorde tegelyk enkelvoudig en meervoudig geradikaliseer. Elkeen van die drie wat jy noem op sy eie manier en seker as doodloopdeel van ‘n eie trajek. Die losword is oëverblinding – kyk maar na Picasso se laat ‘los’ werk – sodat die oögamie tussen dáárdie (betekening in woorde) en híérdie (onbetekenisheid, of die onbetekenbare) oënskynlik sienderoë mag gebeur. Of so-iets?

  •